top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 23 April 2024

Koos Espach

Met erkenning aan Gerjo Ben


Paulus voor die Joodse Raad (5)

 

Los alles in God se hande

 

Hand. 23:9 – “’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. ‘n Paar skrifgeleerders van die party van die Fariseërs het opgespring, heftig beswaar gemaak en gesê: ‘Ons het niks teen hierdie man nie. Miskien het daar ‘n gees of ‘n engel met hom gepraat.”

 

Die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs was gedeeltelik korrek met hulle verwysing na “’n gees of ‘n engel wat met Paulus gepraat het.” Dit was inderdaad Jesus Christus wat met hom gepraat het. Dié onskuldige Jesus wat dieselfde Raad aan ‘n vloekhout laat vasspyker het!

 

Toe Jesus sleg behandel is, het Hy nie vuur uit die hemel laat kom om die mense te straf nie. Hy kon! Hy het hulle nie gedreig met iets erg wat met hulle kan gebeur nie. Hy kon! Hy het nie eers gewens dat hulle êrens in die toekoms sou betaal vir hulle verkeerde dade aan Hom nie. Hy kon! Maar Hy het nie!

 

Hoe het Jesus dit reggekry om nie vir hulle te gee wat hulle verdien nie? Hoe kon Hy nie eers wens dat die straf vir hulle verkeerde onregverdige dade aan Hom om die volgende draai sal opdaag nie? Jesus se fokus was nie op die mens nie en nog minder op die dade van die mens. Jesus was gefokus op God. Jesus was gefokus op die roeping wat God vir Hom gehad het en die rede hoekom Hy op die aarde was. Hy kon met ‘n sterwensasem die woorde prewel: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34).  

 

“Vader, vergeef hulle ...” want Jesus laat nie toe dat die omstandighede waarin Hy Hom bevind, Sy oë van Sy doel op aarde wegtrek nie. Al word Hy onregverdig behandel, al maak die ander mense oordeelsfoute en al sit Hy aan die verkeerde ontvangkant van hulle dade, raak Hy nie betrokke by die aanvallers nie.

 

He didn’t speak His mind soos ons sou nie. Hy wys hulle nie op hulle verkeerde dade en keuses nie. Soos ons sou nie. Hy werp nie lig op hulle dom keuses, soos ons sou nie. Hy raak nie betrokke by ’n bekgeveg, soos ons sou nie. Nee, eerder ‘n “Vader, vergeef hulle ...”, soos ons sou nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur” (1 Pet. 2:23 – Die Boodskap).

 

Joseph Parker vertel hy was ‘n jongman wat in verskeie myne gewerk het en baie keer met ongelowiges en ateïste gedebatteer het oor Jesus se kruisiging. ‘n Ongelowige het hom eendag toegesnou dat hierdie Jesus absoluut niks gedoen het vir Stefanus terwyl sy eie volksgenote hom met klippe doodgegooi het nie. Joseph het hom geduldig geantwoord: “My antwoord is geïnspireer uit die hemel. Jesus het Stefanus genade gegee om te bid vir dié wat hom gestenig het. Stefanus het die gesindheid van Christus gehad sodat hulle wat hom stenig, duidelik kon hoor terwyl hy vir hulle bid: “Vader vergeef hulle ...!”

 

Die feit is, wanneer ons ’n intieme verhouding met God het, kry ons wysheid om nie betrokke te raak by dinge wat net op ’n doodloopstraat gaan uitloop nie. Wanneer ek en jy presies weet waarheen God met ons op pad is, mors ons nie energie met mense wat ons weet nie gehoor gaan gee aan die waarheid nie. Ongelukkig is daar baie mense wat nie ontvanklik is vir die waarheid nie. Die beste is om dan eerder te berus by God en sy planne vir ons lewe. Dan weet ons om eerder stil te bly en die houe te vat, ons nader sal bring aan die plan wat God vir my en jou lewe het.

  

Dit is nie vreemd in ons wêreld van vandag nie. Dit is ook nie maklik om eerder stil te bly nie. Dis nie maklik om stil te staan as ander jou seermaak nie. Dis dan wanneer ons aan Jesus moet dink en hoe Hy net geweet het wat die regte manier is om op te tree. Dan moet ons ook kan prewel: “Vader, vergeef hulle ...”. Dit is dan wanneer Jesus se onregverdige kruisiging, vir ons sin maak. Dan moet ek en jy ons hoop op God plaas en weet dat Hy een of ander tyd vir ons ‘n oplossing sal wys. Dan moet ons alles in Sy hande los en weet dat Hy sal sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur.

 

“Alle mense behoort iewers ‘n redelike groot kerkhof te hê waar hulle hulle naaste se foute kan begrawe” (Henry Ward Beecher). 

  

Gebed: Vader, dis nie vir my maklik om net stil te bly en te glo in U plan vir my lewe nie. Help my asseblief om die oplossing vir U te los. Laat ek die raad van Paulus volg om geduldig met mekaar te wees en mekaar te vergewe as die een iets teen die ander het (Kol. 3:13). Amen.    

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page