Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 3 min read
Vrydag, 20 Junie 2025
Koos Espach
Lewe deur die Gees (13)
Die grootste voorreg in die lewe
Rom. 8:17 – “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”
God is nie net ‘n God van liefde nie, Hy is ‘n God van ‘oorvloed.’ Hy gee ‘n oorvloed weg aan almal wat in Hom glo: ‘n oorvloed goedheid, oorvloed genade, oorvloed ontferming, oorvloed van Homself. Hoe kan ons ooit verstaan wát alles ons s’n is as mede-erfgename met Christus? Ons name is is as’t ware in God se testament ingeskryf as erfgenames saam met ons Broer Christus. As boeties en sussies van Christus is “ons erfgename van God, erfgename saam met Christus.” Lees dit weer en neem ‘n paar oomblikke dat dit behoorlik insink.
Elke mens is deur God geskep (Gen. 1:26), maar nie elkeen is ‘n kind van God nie. Daar is ‘n universele uitnodiging om deel van God se familie te word, maar daar is een voorwaarde: ‘n Geloof in Jesus Christus – “Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God” (Gal. 3:26). Die kindergesindheid maak alles anders. Hoekom? Rick Warren sê die oomblik toe ons geestelik in God se familie ingekom het, het ons ‘n hele klompie ‘verjaarsgeskenke’ gekry: die familienaam, die familie-ooreenkoms, die familie-voordele, intieme toegang tot die familie en die familie erfenis.
Is dit nie wonderlik nie? Die Koning van alle konings en die Heerser van alle heersers is my en jou Vader! Deur God se genade beklee ek en jy ‘n geweldige bevoorregte posisie – die posisie van Koningskind! Beleef jy dit ook so? Die Bybel beklemtoon ons ryk ‘erfenis’ baie sterk. Daar staan: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Fil. 4:19). As kinders van God en boeties en sussies van Christus, deel ons in die familiefortuin.
En dit gaan nie eers eendag in die hemel gebeur nie. Nee, hier op aarde ontvang ons reeds die Heilige Gees as eerste gawe van God. Boonop ontvang ons “die ryke genade van God: ... goedheid ... verdraagsaamheid ... geduld ... heerlikheid ... rykdom ... wysheid ... krag ... barmhartigheid” (Rom. 2:4). In die ewigheid gaan ons egter meer erf. Paulus het gesê: “Ek bid dat God julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het” (Ef. 1:18).
Wat presies sluit hierdie erfenis alles in? Ons gaan vir ewig met God wees (1 Tess. 5:10); ons gaan volkome verander en soos Christus word (1 Joh. 3:2); ons gaan van alle pyn, dood en lyding verlos word (Op. 21:4); ons gaan beloon word en posisies van diens kry (1 Kor. 3:8); ons gaan in God se heerlikheid deel (Kol. 3:4).
Wat ‘n erfenis! Ons is veel ryker as wat ons dink! En wat behels dit? Petrus het gesê: “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet. 1:3-4). Dit beteken ons hemelse erfenis is onskatbaar, suiwer, permanent en beskerm. Petrus sê eintlik vir ons dat hierdie hemelse geskenk van God nóóit kan vergaan nie. Dit kan ook nie van ouderdom verweer nie. God sélf pas dit op – Hy pas al sy kinders op!
Die Heilige Gees as eerste gawe van God, is ons waarborg dat al God se beloftes vir ons waar sal word – Hy is immers die Gees van die Waarheid (Joh. 16:13). Ons sal dus dit wat God aan ons bemaak, ontvang. Ek en jy kan werklik opgewonde wees dat ons saam met Christus erfgename van die rykdom van God ons Vader is. Ons moet egter onthou om kind van God te wees, begin nie by my en jou keuse vir Hom nie. Dit begin by God se keuse vir ons. Ons verdien niks. God het ons lief, daarom erf ons van Hom. Dankie tog! As kinders van God weet ons dat ‘n nuwe lewe by God op ons wag. Ons erf die ewige lewe. Ons is mense met ‘n toekoms. Ons kan in geloof dit aanvaar wat God vir ons wil gee, en leef uit Sy oorvloed!
“Die toekoms behoort aan God, wat beteken dat waar ons ook al mag gaan – in lewe óf dood – ons God reeds daar sal vind” (Hans Küng).
Gebed: Dankie Gees van God vir die oortuiging dat ek ‘n kind van ons hemelse Vader is. Dit is voorwaar ‘n voorreg om saam met Jesus erfgenaam te wees van God se rykdom en sodoende te leef uit sy oorvloed. Amen.
Commentaires