top of page

Gedagte vir Vandag

3 days ago
4 min read

Woensdag, 18 November 2026

Koos Espach


Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)

Die voorbeeld van Christus (4)

 

God se beloftes help ons deur die swaar

 

Rom. 15:5-6 – “En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.” (1).

 

Vandag se twee teksverse van Paulus bestaan uit wat ‘n “wensbede of gebedswens” genoem word. Volgens die Bybelverklaarders is ‘n gebedswens of wensbede tipe gebede wat indirek is en nie direk tot God gerig word nie. Maar, dit is beslis nie minder van ‘n gebed nie want dit betrek God immers. Dit is absoluut van God afhanklik. Paulus opper hier ‘n gebedswens indirek na God toe, ook om appèl tot ons afhanklikheid van God.

 

In Johannes lees ons van Jesus wat geweet het dat dit vir mense ‘n uitdagende, en soms selfs amper ‘n onmoontlike taak sal wees om te verhoed dat onenigheid en skeuring, wat deur die sonde, die eenheid van die kerk, sal verbreek. Daarom smeek Hy die Vader om tog die eenheid te bewaar, en skenk Hy die heerlikheid as ’n vooruitsig wat almal behoort te verenig. Ek en jy kan opreg glo dat Jesus vandag nog hierdie gebed bid: “Ek bid dat hulle een kan wees net soos Ons een is ...” (Joh. 17:20-23).

 

Gebed is die belangrikste en intieme kommunikasiemiddel tussen God en ons, daarom bid ons. Gebed is noodsaaklik en is beslis nié omdat ons van kleins af geleer het om te bid, of omdat ons as gelowiges, moét bid nie. Trouens, dit is omdat ek en jy ons diepste behoeftes met God wil deel! En dit maak nie saak waar ek en jy ons op ‘n gegewe oomblik bevind nie, die paar woorde wat ons uit ons hart prewel wat aan God gerig word, eindig onmiddellik in die “beheersentrum” van God se troonsaal! Daarom is gebed nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen ons en God.

 

Dit word vertel van ‘n ouma wie elke aand huisgodsdiens op die plaas gelei het en elke aand is haar gebed 'n dankie-sê gebed. Sy kla oor niks en vra niks. Haar kinders was hieroor baie gefrustreerd, want of daar nou oeste, droogte, siekte of wat ook al was, ouma het altyd iets om oor dankbaar te wees, selfs toe ’n haelstorm als wat nog oor was na ’n droogte, wegslaan en niks oorgebly het nie. In groot afwagting het almal dié aand gewag om te hoor of ouma na alles nog steeds iets sal vind om voor dankbaar te wees. Haar gebed: “Dankie Heer, dat elke dag nie soos vandag is nie.” Kostelik! 

 

Gedurige gesels met God maak my en jou anders. Dit rus ons toe vir die lewe daar buite. Ons moet ook meer vir mekaar bid. Ons moet bid vir ons familie, vriende en bekendes. Maar ook vir die onbekendes. Jy is dalk die enigste en eerste persoon wat daardie persoon voor die Here bring. Ek moes al baie vir mense bid vir wie ek nie eintlik wou nie. Ek onthou nog met die begin van die uitstuur van die dagstukke Januarie 2016, het ek die eerste skryfstuk aan al die lede op my adreslys gestuur.

 

’n Paar mense het mooi reageer met ‘n “dankie, waardeer.” Tog was daar een wat my so bietjie teen die bors gestuit het: “HAAL MY AF VAN JOU (kragwoord) LYS !!! EK HET NIE VIR JOU GEKONTAK NIE! Dit was ‘n dame en ‘n vriend het haar naam en nommer aangestuur. Ons reaksie: Ons het vir haar gebid! Daar is dalk niemand wat vir haar bid nie. Dit is ons kans om vir iemand te bid wat dit regtig nodig het. Op ’n manier het die persoon ’n stuk van haarself kom wys, ’n stuk van haar hart oopgemaak en sonder dat sy dit weet, gesmeek dat iemand vir haar bid. En ons het die voorreg gehad om dit te kon doen! Jy kan dit ook doen.

 

Deur al die gewoel van die lewe sommer net die gebed vir jou: Mag God orals vandag saam met jou wees. Mag Hy jou hand neem om deur die uitdagings wat voor jou deur staan, te beur. Soos Jesaja 41:10 sê: "Moenie bang wees nie. Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” Amen. Nou kan jy seker vra hoekom God so baie moeite met ons maak? In Jes. 43:4 sê God: "Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet.” Daar is duisende beloftes van God aan ons. Ons moet hulle net gaan soek. Ons moet hulle hardop uitspreek sodat dit weer deel kan word van ons. Sodat dit ons kruk kan wees. Sodat God se beloftes ons deur die swaar kan help.

 

“Satan sidder wanneer hy selfs die swakste gelowige sien bid” (William Cowper).

 

Gebed: Here, gee dat gebed vir my ‘n lewenswyse sal word. Dit is vir my wonderlik dat ek met U mag praat, enige tyd. Dankie dat U presies weet wat ek nodig het, en tog nog geduldig wag om na my te luister. Leer my bid, Heilige Gees, sodat my selfsugtige gebede sal verander in lofsange tot U eer; in gebede vir ander mense, selfs vir hulle vir wie ek nie wil bid nie. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page