Gedagte vir Vandag
Vrydag, 13 November 2026
Koos Espach
Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)
Die voorbeeld van Christus (2)
Jesus word volkome mens soos ons
Rom. 15:3-4 – “Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: ‘Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.’ 4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”
Paulus wil maar nie los nie. Om die spyker dieper in die ‘sterker gelowiges’ se pligte in te slaan, opper hy ‘n vermaning wat elke gelowige totaal ontwapen. Hy sê: “Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie!” As Seun van God kon Hy rustig in die hemel gebly en die ewige heerlikheid daar geniet het, maar Hy het nie! Van ewigheid af het Jesus heerlikheid gehad by die Vader (Joh. 17:5), maar Hy het kom mens word juis omdat Hy nié aan Homself gedink het nie!
Johannes het “vir ons in die Skrif opgeteken” van Jesus se ‘opoffering’: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring aan die mensdom meegedeel. Dit is beslis die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid ooit! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kon gesien en gehoor word en ons het Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede gesien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!
Aan Israel is die belofte gegee dat die Messias sou kom. Hulle was Sy “eie mense” omdat Hy met Sy aardse lewe, uit die Jode gebore is. Maar juis die Jode het Hom verwerp: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Deur die koms van die Woord besoek God die wêreld se mense om aan hulle die verligting van saligheid te bring, maar hulle weier om die Woord te ontvang. Hulle besluit anders. Die mense se haat en vyandskap teen God het Jesus ook getref: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom (Ps. 69:10).”
Wat Jesus moontlik die ergste beledig en diepste moes verwond het, was nie Sy eie liggaamlike wonde nie, maar die onredelike manier waarop mense die uitgestrekte liefdeshand van God nie aanvaar het nie! Hulle het dit weggestamp! Deur die Woord is die wêreld gemaak, en nou het die Woord as die lig na die wêreld gekom: “Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie” (Joh. 1:10). Die wêreld bly afsydig. Net soos die duisternis nie die lig aanvaar het nie, het die wêreld die Lig ook nie aanvaar of "erken” nie.
Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat te groot én onverklaarbaar is vir ons denke. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen God dank vir die weg wat Hy vir alle sondaars gebaan het sodat ons kinders van God kan word: “Maar aan almal wat Hom (Jesus Christus), aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Ons wat Hom aangeneem het, is nie meer sondaars nie. Dit is nie meer ons wat in Hom glo, se identiteit nie. Ons bely ons sondes en laat staan dit. En dan gaan leef ons soos kinders van God omdat Hy genadig is.
Paulus was destyds waarskynlik reg en dit is vandag onteenseglik so: “Die Skrif leer ons, en dit vul ons met hoop.” As Jesus sy Vader se belange in só ‘n mate eerste gestel het dat Hy bereid was om selfs die “beledigings teen God op Homself te laat neerkom”, vul dit ons met hoop. God het ons “hoop” gegee deur alles in die Skrif, in die Ou en Nuwe Testament te laat opteken, sodat ons ‘n toekomsverwagting het en met vreugde uit kan sien na God se beter wêreld, ten spyte van verskille en onaangename “kantlynsake”. Dit is hierdie oorvloedige “hoop uit die Skrif” wat ons help om die swakkeres by te staan, deur doodgewoon die hoop met hulle te deel. Dankie vir elkeen wat hierdie “bemoediging wat die Skrif ons gee (sodat ons) vol hoop kan wees,” van ons kerkkansels af verkondig!
“Ons is die lig vir die wêreld, maar niemand anders as God kan dit aanskakel nie” (Austin Lewis).
Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Dankie Vader dat U dit in die Skrif laat opteken het sodat dit vir my as rigsnoer kon dien. Daar is dus geen twyfel dat die Skrif oor die jare ‘n lig op my pad en ‘n lamp vir my voet was en steeds is nie. Dankie Gees vir jarelange se onderrig en bemoediging daarin. Amen.
Comments