top of page

Gedagte vir Vandag

6 hours ago
3 min read

Woensdag, 4 November 2026

Koos Espach


Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie ((Rom. 14:13-23) 

Moenie jou broer laat struikel nie (9)

 

Beskerm die eenheid van die kerk

 

Rom. 14:19 – “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.”

 

Vergelyk ook Gal. 6:2 – “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

 

Die opbou van die gemeente as die bouwerk (gebou) van God is vir Paulus steeds een van die belangrikste doelwitte ten opsigte van Christene se optrede. Vir hom het die keuse om Christene geestelik op te bou, beteken dat hy van enige aktiwiteit wat kon veroorsaak dat ander struikel of iemand se vrede in gedrang gebring word, weerhou het. Hy was selfs nie eens begaan oor sy eie regte of gerief nie, want sy grootste prioriteit was om ander na Christelike volwassenheid te lei (1 Kor. 14:12, 26). Dit is natuurlik ook die verhouding wat Jesus met sy dissipels gehad het.

 

Paulus onderstreep vandag vir ons ook dat ons lidmate in ons onderskeie gemeentes, vir onderlinge “vrede moet beywer.” In die Nuwe Testament word ons meer as vyftig maal beveel om vir mekaar dinge te doen – “dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder.” Ons is nou wel nie vir almal in “Christus se Liggaam” verantwoordelik nie, maar wel téénoor hulle verantwoordelik. Dit is immers wat God van ons gelowiges verwag. Ons moet al die moontlike doen om te help waar ons kan.

 

Ek wonder hoeveel lidmate weet dat eenheid in die kerk só belangrik is dat die Nuwe Testament meer aandag daaraan gee as aan die hemel of die hel. God wil graag hê dat ons in eenheid, vrede en harmonie met mekaar moet leef. Dit is die wese van hoe God wil hê dat ons die lewe in sy kerk moet ervaar. Net soos enige ouer, sien ons hemelse Vader graag hoe sy kinders met mekaar oor die weg kom. Elkeen wat deel is van God se familie, is verantwoordelik om die “eenheid wat die Gees tussen (ons) gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe” (Ef. 4:3) – gemeentelede wat hulle “beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou (van die gemeente) bevorder.”

 

Vir eenheid moet ons nooit toelaat dat verskille in die kerk soos in Paulus se tyd, ons verdeel nie. Ons moet ons aandag bepaal by wat die meeste saak maak – om mekaar te leer liefhê soos Christus ons liefgehad het. Hy het selfs in die laaste oomblikke voor sy inhegtenisname, met passie vir eenheid tussen ons as gelowiges gebid (Joh. 17:20-23). Des te meer die rede dat ons eerder daarop konsentreer om mekaar lief te hê as om te fokus op ons verskillende persoonlikhede, voorkeure of metodes wat verdeeldheid in die gemeente veroorsaak.

 

Mense raak vir talle verstaanbare redes ontnugter met die kerk. Daar is ‘n lang lys redes en jy kan joune byvoeg: konflik, seerkry, skynheiligheid, verwaarlosing, kleinlikheid, wettiesheid, voorkeure ens. Ons moet egter nie verbaas of geskok wees daaroor nie, onthou, die kerk bestaan uit ware sondaars. Alhoewel ons geredde sondaars is, maak ons mekaar seer – soms bewustelik en soms onbewustelik. Versoening is dan die pad na ‘n dieper gemeenskap. Weghardloop of wegbly help niks. Daar bestaan nie ‘n volmaakte kerk met volmaakte mense waarna uitgewyk kan word nie. Elke kerk het sy eie swakhede en probleme.

 

Paulus sê ons moet “mekaar se laste dra,’ veral wanneer lewensomstandighede ons afdruk tot op ‘n punt waar ons geloof wankel. Ons het mekaar in tye van diep krisisse, smart en twyfel die meeste nodig. Ons het almal genade nodig, want ons struikel en val almal, en dan het ons mekaar nodig om weer op die regte spoor te kom, ‘n spoor van vrede in plaas daarvan om oor onbenullighede te verskil. In die kerk is daar nie plek vir sterre of helde nie. Ons is almal wenners wat vir mekaar omgee en mekaar se laste help dra. Daar maak dit nie saak of jy ‘n miljoenêr of brandarm is, vir die Springbokke of vir jou skool se sesde rugbyspan speel nie. In die kerk maak dit saak of jy “ons” in plaas van “ek” sê. God sê: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander” (1 Kor. 10:29).

 

“Elke kerk behoort ‘n kennisgewing op te rig waarop staan: ‘Volmaaktes, gaan verby. Dis ‘n plek hierdie vir mense wat erken hulle is sondaars, wat genade en vrede soek, en wil groei” (Rick Warren).

 

Gebed: Genadige Hemelse Vader, ons aanbid U as die God van Vrede. Here Jesus, ons buig voor U as die Prins van Vrede. Heilige Gees, dankie dat U ons lei tot vrede en versoening. Te midde van onderlinge struwelinge en verskille wat ons soms as kerkmense ondervind, draai ons na U toe met die bede: “Here, gee vrede in ons tyd!” Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page