Gedagte vir Vandag
Woensdag, 21 Oktober 2026
Koos Espach
Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)
Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (3)
Dink voor jy praat
Rom. 14:14-15 – “Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. 15As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie.”
Vergelyk ook Matt. 15:10-11 – “Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: ‘Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”
Paulus stel nou opsetlik met erns die standpunt van dié van die “sterkes in geloof”, dat niks op sigself “onrein is nie.” Wanneer die “swak broer (en suster)” egter “iets as onrein beskou” en aanstoot neem aan die sterke se optrede, het die swakkere die lewensreël van die Christen, naamlik die liefde, aangetas en bestaan die gevaar dat hy sy broer vir wie “Christus sy lewe gegee het, laat verlore gaan.”
Elkeen se standpunte is heel moontlik gebaseer op sy of haar gawes wat hulle ontvang het van dieselfde “Christus wat vir hulle ook gesterf het,” en dit is bedoel vir die uitbou van die hele Christelike gemeenskap van ons Here. Niemand kan of mag “verlore gaan” as gevolg van my en jou verkeerde optrede wat “aanstoot” kan gee nie!
Paulus weet waarvan hy praat. As Fariseër, het hy baie dinge as onrein beskou, maar nou dat hy met Jesus Christus se oë na dinge kyk, oordeel hy anders. Jesus het verby die uiterlike seremoniële bepalings, na die hart van dinge gekyk. Paulus het die waarheid van Jesus wat gesê het: “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom”, sy eie gemaak. Hy gaan dan verder en skilder die sonde van die goddelose mensheid deur die groot kwaad wat “by die mond uitkom.”
Jesus verduidelik ook aan die skare in ons vergelykende teksvers dat reinheid iets aan die binnekant van ’n mens is, nie iets aan die buitekant nie. Dit is nie kos wat met ongewaste hande geëet word wat onrein maak nie, “maar wat by die mond uitkom wat ‘n mens onrein maak.” Jesus het verduidelik dat die Fariseërs se onderskeid tussen rein en onrein gebruike, anders is as wat hulle wil voorskryf. Reinheid en onreinheid het volgens Jesus niks te make met uiterlike dinge soos kos nie, maar eerder wat uit ‘n mens se hart en jou gedagtes opkom. Daardie onrein dinge wat uit jou binneste voortspruit en oor jou lippe kom, verbreek jou gemeenskap met God.
Woorde kan gevaarlik wees, as dit eers by ons mond uit is, kan ons dit nie weer herroep nie. Ons leef immers volgens die liefdeswet, maar hoe meet ek en jy ons eie godsdienstigheid? Miskien is die antwoord maklik: “Ons loop met ‘n sondelysie in ons kop rond en wanneer ons dan voor ‘n bepaalde probleem te staan kom, soos byvoorbeeld om nie vleis by ‘n plek te koop wat halaal voedsel verkoop nie, dan doen ons dit nie. Solank ons al die godsdienstige voorskrifte nakom, is ons op die regte koers!”
Die waarskuwing van hierdie vrome stryd teen alles wat sonde is, kan ontaard in ons wat só begaan is om allerlei dinge reg te doen, dat ons lankal nie meer die regte ding doen nie. Ons kan só besig wees met die dinge van die Here dat ons nie meer met die Here van die dinge besig is nie. Dit geld ook om ons medegelowiges se oortuigings te respekteer.
“Woorde is tydloos en jy moet hulle uitspreek met die volle wete dat, eenmaal gebruik, hulle nooit weer vergaan of verdwyn nie.” (Kahlil Gibran).
Gebed: Here, weerhou my asseblief van afgunstige en selfsugtige opinies wat ander kan aanstoot gee en selfs mense gevolglik verlore kan laat gaan, verlore vir U koninkryk deur mý verkeerde optrede, en selfs gemeenskap met U verbreek. Maak my deursigtig dat ander skaars van my sal weet, maar agter my vir U sal sien. Amen.
Comments