top of page

Gedagte vir Vandag

Sep 27
4 min read

Vrydag, 25 September 2026

Koos Espach


ONS REIS WEER VERDER SAAM MET PAULUS NÁ DIE SKOOL-VAKANSIE.


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (5)

 

Mag ons vra waarom?

 

Rom. 14:7-8 – “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

 

In aangrypende woorde beskryf Paulus die doel van die Christene se lewe en sterwe, van ons hele bestaan dus, as ‘n bestaan vir God; ‘n bestaan waardeur Hy geëer moet word. Ter agtergrond moet ons onthou Paulus skryf hier aan die Romeinse-Christene van sy tyd, Jesusvolgelinge uit elke denkbare agtergrond. Rome was in daardie tyd ‘n versamelplek vir mense uit alle nasies onder die son. Soveel nasies, soveel uiteenlopende agtergronde en kultuur, ‘n massa verskillende menings en godsdienste – praat van diversiteit! Dit was dus ‘n Godswonder dat die Jesus-evangelie daar ‘n “vastrapplek” kon kry.

 

Vir die kerkleiers was die diversiteit ‘n groot probleem. Vandag nog steeds. Hoort “soort nie by soort” en soek “soort nie maar soort” nie? Hoe op aarde kon só ‘n diverse groep ‘n kerkgemeente vorm? Gemeentes word mos gekenmerk volgens “soort by soort.” Wie is die “ons” na wie Paulus in ons teksvers verwys? Is dit mense van “ons” kerk? En sluit ons dan almal uit wat nie soos ons lyk en praat en dink nie? Dit is die delikate situasie waarin Paulus hom begewe het. Daarom dat hy eintlik pleit dat die “sterkes in geloof” tog nie ‘n geveg aanknoop met die “swakkes in geloof” nie.

 

Die goeie nuus van ons Jesusvolgelinge is dat ons, “sterk of swak,” nie aan ‘n uitsonderlike herkoms behoort nie. In die kerk is ons die liggaam van Christus. God het volle besitreg op ons lewe en sterwe. “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.” Die Here is ons gesamentlike toekoms! 

 

Is dit nie wonderlik om te weet dat ons nou voluit kan lewe ten spyte van al die donkerte van die wêreld om ons nie? Ons is kinders van God en daarom kinders van die Lig want “almal wat Hom aangeneem het en in Hom glo, het Jesus die reg gegee om kinders van God te wees” (Joh. 1:12) – Jesus het deur Sy lewe en sterwe dit vir ons moontlik gemaak om deel van die gesin van God te kan wees!

 

Ons vertroue op die toekoms is stewig gebaseer op dit wat God vir ons in Christus gedoen het. Dit maak nie saak wat ons omstandighede is nie, ons hoef nie te wanhoop nie, want Christus leef. “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

 

Maar tog, die meeste van ons ken die verslaenheid wat volg op die skielike dood van ‘n geliefde. Ons is stukkend; met trane op ons wange vra ons gewoonlik verdwaas: “Waarom, Here, waarom?” Niemand van ons beskik oor eerstehandse kennis van die dood nie. Wat ons wel weet, is dat die dood hartseer en verwarring bring. Wat ons óók weet, is dat “kinders van God”, nie die dood hoef te vrees nie. Die Bybel verseker vir ons dat Jesus, met sy opstanding uit die dood, vir altyd vir ons die angel uit die dood kom haal het. Vir ons beteken die dood dus nie die einde van ons lewe nie, maar die oorstap na die eintlike lewe!

 

Van twee dinge kan ons absoluut seker wees: dat ons eendag sal doodgaan en dat ons, as ons in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe. Elke dag wat verbygaan, is ‘n tree nader aan dié dag waarop ek en jy gaan sterf. Daarom moet ons sorg dat ons elke dag só lewe dat die dood maar kan kom. Miskien het ons nog baie tyd oor, miskien nie. Niemand weet nie. Maar die manier waarop ons vandag lewe, het betrekking op ons lewe ná die dood. Ons moet dus só lewe dat ons die dood nie hoef te vrees nie. “As ons lewe, leef tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf tot eer van die Here.”

 

Paulus, wat die grootste deel van sy lewe in die skadu van die dood deurgebring het, het nooit sinies gevra: “Waarom, Here?” nie. Inteendeel, hy het getuig: “... Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil. 1:21). Ek en jy moet seker maak dat terwyl ons lewe, ons genoeg tyd afstaan aan dinge met ewigheidswaarde. God is besig om ons te vorm na die beeld van ons Verlosser. Ten spyte van die ongemak, moet ons nooit terugdeins nie, want “niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here.” Die dood is nie die finale slaap nie, nee, dis die finale wakker word!

 

“Dit is nie die duisternis waarheen ons gaan nie, want God is Lig; dit is nie eensaamheid nie, want Christus is met ons; dit is nie ‘n onbekende land nie, want ons opgestane Here is daar” (Charles Kingsley).

 

Gebed: Here Jesus, met blydskap wil ek U dank dat U my geskik gemaak het om deel te kan hê aan die erfenis wat vir gelowiges wag in die ryk van die Lig. Leer en help my om elke dag reg te lewe, tot U eer. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page