top of page

Gedagte vir Vandag

1 day ago
4 min read

Maandag, 14 Sep[tember 2026

Koos Espach


Liefde is die volle uitvoering van die wet (9)

 

Wat op die laaste dag gaan gebeur

 

Rom. 13:12b-14 – “Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.” (2).

 

Paulus vermaan die gemeente in Rome om in die tyd voor die wederkoms van Jesus Christus ‘n doelbewuste, geestelike oorlog te voer deur “op te hou met die werke van die duisternis en die wapens van die lig op te neem.” Hy het sy lesers spreekwoordelik voor die bors gegryp en die waarheid vertel. Dit kon dalk net hulle lewe red. Kom ons wees eerlik, sy vermaning van destyds is steeds van toepassing vandag.

 

Die woord van God gryp ons lesers soms só voor die bors en draai nie doekies om nie. Dit is veral vir dié wat op die verkeerde pad is, nie lekker om die nuus te hoor nie. Maar dit moet ons nie keer om hulle herhaaldelik aan die waarheid te herinner nie. Die meeste van ons, hou nie daarvan om te wag nie. Ons is altyd haastig. Die son trek water. Vir die meeste van ons moet geloof onmiddellik werk, daarom is die wag vir Jesus se wederkoms ‘n geestelike dissipline wat verlore geraak het in ons gejaagde lewe. Op ons gelowiges rus daar ‘n groot verantwoordelikheid om gereed te wees vir Jesus se wederkoms.

 

En vir hulle wat nie tot eer van die Here leef nie, is Paulus se boodskap soos aan die Tessalonisense, skrikwekkend: 7“God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al Sy sterk engele terugkom. 8Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. 9Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en Sy groot krag beleef nie. 10Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo” (2 Tess. 1:7-10 – Die Boodskap).

 

Hier is duidelik twee groepe mense. Die een groep is die ouens wat eenvoudig net nie gehoor gegee het aan die oproep om Christus as hulle Verlosser aan te neem nie. Dis onbegryplik om te sien hoe mense bewustelik teen God kies. Hoe hulle alles afmaak as snert en kliphard lag vir dié van ons wat in die enigste lewende God glo. Dis vreeslik om die prentjie te sien van wat met hulle gaan gebeur as Jesus weer kom. Hulle moeilikheid is geboek. Hulle gaan swaarkry. Hulle gaan huil. Hulle gaan hulle vuiste pap slaan teen die hemeldeur, maar dit gaan ongelukkig toe wees om nooit weer oopgemaak te word nie. Hoe leeg is ’n wêreld tog nie waar God se goedheid en Sy groot krag onttrek is?

 

Ai, watter absolute gemors van ’n plek sal dit nie wees nie? Maar dan is daar die ander groep. Die groep van ons (en ek hoop van harte ek sluit ook vir jou by ons in!), wat vir Jesus as hulle Verlosser aangeneem het, sal in verwondering staan. Ons oë sal glinster wanneer ons na Jesus staar. Ons sal van aangesig tot aangesig met ons hemelse Broer staan. Met Sy arms wyd uitgestrek sal Hy ons elkeen innooi om vir ewig saam met Hom ons intrek in die hemel te neem. Sjoe, dis ’n wonderlike vooruitsig!

 

En tog, dis hartverskeurend om te dink aan die ander groep. Die groep wat dit nie gemaak het nie. Die ouens wat nie die regte keuse gemaak het nie. Miskien moes ons harder probeer het om hulle tot ander insigte te bring, om “op te hou met die werke van die duisternis.” Watter ander planne kon ek en jy maak om God se uitnodiging aan die wêreld uit te basuin?

 

Ek besef dat ek nie ’n groot impak op die hele wêreld kan maak nie, maar hier in my eie omgewing kan ek wel iets doen. Ek kan op die sosiale netwerk Jesus se verlossende boodskap versprei. Ek kan vir my vriende tekste en aanmoedigings vanaf my foon stuur. Ek kan elke dag my ervarings op die pad saam met God deel met vriende, familie, kollegas en selfs vreemdelinge. Maar meer nog – ek kan deur my manier van leef vir God aan almal bekendstel. By watter groep gaan jy staan? Wie staan nie saam met jou daar nie? Wat kan jy nou doen om dit te verander?

 

“Ons woon tans in ‘n wêreld van skadu’s en donkerte. Maar eendag sal dit alles verdwyn en ons Maker sal op die wolke verskyn ... Dan sal Christus na ons kyk, en ons sal Hom van aangesig tot aangesig sien!

(John Henry Newman).

 

Gebed: Vader, dankie dat ek eendag vir U in verwondering kan aanskou. Maak my oë oop vir dié wat nie in dieselfde groep as ek is nie. Gee my die moed om U verlossingsboodskap met hulle te deel. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page