top of page

Gedagte vir Vandag

4 days ago
4 min read

Vrydag, 6 November 2026

Koos Espach


Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)

Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (10)

 

Medewerker in diens van God

 

Rom. 14:19-21 – “Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. 20Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. 21Dit is goed as ‘n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie.”

 

Vergelyk ook Ef. 4:3 – “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.”

 

Uit die voorafgaande lei Paulus af dat die “sterkes in geloof” én die “swakkes in geloof”, saam gevoeg word deur die Heilige Gees. Hierdie eenheid in die Gees het die gaping oorbrug tussen “swak en sterk” die oomblik toe hulle Christene geword het. As Christene moet ons najaag om in vrede die gemeente op te bou. Dit is nie meer “hulle” en “julle” nie, maar ons – “Ons moet ons vir die onderlinge vrede beywer en opbou bevorder.” Ons moenie dat onbelangrike dinge, die sogenaamde “kantlynsake”, die werk van God belemmer, skade doen of nagelaat word om gedoen te word nie.

 

Die gemeente is ‘n “gebou” wat God besig is om in hierdie wêreld op te rig en hierin gebruik Hy elke gelowige om ‘n medebouer in die gemeente te wees en “in vrede die opbou te bevorder.” Dit is elke gelowige se plig om die “eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te handhaaf” en nie te bederf of verbreek nie. “Ons is medewerkers in diens van God, en is die saailand van God, die gebou van God” (1 Kor. 9).

 

Maar ai tog! Die tragedie is natuurlik dat daar behalwe vir die bouers van die gemeente, ook diegene is wat “afbreuk doen aan die werk van God.” Die sogenaamde ‘slopers’ wat medegelowiges laat struikel, wat die gemeente steen vir steen afbreek deur, ten alle koste op hulle regte te staan, soos geestelike babas heeltyd stry oor beuselagtighede.

 

Dalk illustreer ‘n mooi verhaal die verskil tussen “opbou of afbreuk doen aan die werk van God.” ‘n Vrou het net voor sy sterf, die geleentheid gekry om ‘n toer deur die hel en die hemel te onderneem. In die hel het sy baie mense in ‘n reuse banketsaal, voor wonderlike gedekte tafels en belaai met eksotiese geregte, gesien sit. Almal het egter uitgeteer en gedaan gelyk. Die indrukwekkende eetgerei was lang silwer lepels en wanneer dit vol kos gemaak is, was dit só lank dat dit nie by hulle monde gebring kon word nie. In die hemel was óók ‘n banketsaal met dieselfde kos en eetgerei. Die verskil was dadelik waarneembaar – almal was welgevoed, baie gesond, en het vrolik gesels. Toe sy een van die banketgangers vra hoe hulle dit regkry om met die lang silwer lepels te eet, het hy geantwoord: “Maklik! Ons voer mekaar.”

 

Die kerk is nie ʼn plek waarheen mense gaan nie. Nee, kerk is iets om te wees. Dit is ʼn lewenswyse. Ons voer mekaar. Daar is egter lidmate wat hulself beskou as kliënte van die kerk, 'n plek waarin verbruikersmentaliteit aan die orde van die dag is en die kliënt is altyd reg. Ék betaal, so ék bepaal. Ék wil waarde vir my geld hê. Ék betaal nie om dit of dat te doen nie want dit bring my niks in die sak nie. Die kerk is ʼn instansie wat in hulle behoeftes moet voorsien. Hulle het hier aangesluit om diens te kry, besoek te word, geken te word en bedien te word. As die diens nie is soos wat hulle dit wil hê nie, stop hulle hulle betalings en gaan soek ʼn ander kerk wat meer en beter diens lewer. Hulle skuif net hulle besigheid na iemand anders toe.

 

Dit is die Here se kerk en nie die mense se kerk nie. Ons ís die kerk, die liggaam van Christus. Die Here en sy eer moet in die middelpunt staan en nie ek en my behoeftes nie. Dit gaan nie oor mý nie. Dit gaan ook nie oor die kerk van die Here nie. Dit gaan in die eerste plek oor die Here van die kerk. Jesus het juis vir ons die voorbeeld gestel toe Hy sy dissipels se voete gewas het. En die Everest van alle gebeure, was toe Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Ons is bouers in God se span wat die regte boumateriaal moet gebruik want ons is besig met ewigheidswerk. Die regte boumateriaal is God se Woord en gebed, daarmee sal ons ‘n gebou kan bou wat vir ewig sal bly staan en ons sal kérk wees, en nie kerk speel nie.

 

“Ons kan gerus wegdoen met die idee dat die kerk ‘n gebou is, dit is niks anders as ‘n groep sondaars nie” (Ruth Etchells).

 

Gebed: Here, ek wil so graag belangrik wees, ek wil so graag raakgesien word, ek wil so graag geag word, ek wil so graag ʼn ereposisie beklee. Maar dan sê U: “Nee, dit is soos dit in die wêreld werk. In die kerk werk dit anders: As jy groot wil wees in God se Koninkryk moet jy bereid wees om te dien. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh. 13:14). Dankie Here dat U my leer om nederig te wees. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page