Gedagte vir Vandag
Woensdag, 28 Oktober 2026
Koos Espach
Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)
Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (6)
Christus is ons vrede
Rom. 14:17-18 – “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” (2).
Vergelyk ook Ef. 2:14 – “Christus is ons vrede ... Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.”
Dit lyk eintlik belaglik as Christene mekaar oor kleinlike dinge aftakel. Deur bysake in die kerk te verhef, word ‘n skewe beeld van die evangelie geskep. Daarom stel Paulus dinge nou in perspektief. Soos reeds gesê, dis nie “eet of drink wat in die koninkryk van God” tel nie, maar veral die Heilige Gees wat “vrede”, waarna ons vandag kyk, vir ons gee. Met “vrede” bedoel Paulus dat ons gelowiges wat in harmonie tot God staan, so ietsie daarvan tot ons medegelowiges moet weerspieël. Ons is mos nie stryers en bakleiers nie, of hoe?
Oor alle tye heen het die Christelike Kerk gely as gevolg van verdeeldheid en skeuring in sy geledere. Vorms van aanbidding en verskille van opinie het dikwels aanleiding gegee tot vyandigheid tussen Christen-groepe en selfs lidmate van dieselfde gemeente. Woorde en dade wat deur woede as gevolg van verskille, tot uiting kom, veroorsaak seerkry en vernedering en laat bitterheid, weersin en gebroke verhoudings in sy spoor agter. In baie gevalle is die skade so groot dat dit nooit herstel kan word nie. ’n Tekort aan die “vrede wat die Heilige Gees gee,” het deur ons gelowiges tot ontbering gelei.
Is dit moontlik om waarlik God se vrede te ervaar en daarin te lewe te midde van ons en die wêreld se huidige omstandighede? Beslis. God se vrede het in die eerste plek nie met uiterlike omstandighede te doen nie – dit gaan hier oor my en jou verhouding met God en ons houding teenoor die lewe vanuit ons verhouding met God: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7). Daarom kan ons Jesus se vrede nie in aardse woorde omskryf nie. “Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.”
Watter veranderinge ook in die wêreld plaasvind, het ek en jy die versekering dat God nooit verander nie. En dis nie ek wat so sê nie. Die Hebreërskrywer bevestig dat “Jesus Christus gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid” (Heb. 13:8). Ek en jy moet net tevrede wees met wat ons het – “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het ...” (1 Tim. 6:6).
Ons moet as Christene, as kerk, as liggaam van Christus, deur fisiese dade draers wees van God se vrede. Dit beteken om Jesus se hande en voete te wees hier op aarde. Om vreugde te bring waar daar droefheid is, om blydskap te bring waar daar hartseer is, om dié wat moedeloos is op te beur. En dit is nie aardse vrede wat gekoppel is aan voorwaardes en kontrakte nie. Dit is God se onvoorwaardelike vrede wat ‘n diep innerlike vreugde soos ‘n helder fontein uit ons lewe laat vloei.
Ek en jy moet vashou aan hierdie heerlikheid van versekering dat “Jesus Christus altyd dieselfde is ...” en Hom vertrou om ons te lei deur al die wisselvallighede van die lewe. Ons moet in gehoorsaamheid die wil van God doen; sy krag soek om ons sterk te maak; in gehoorsaamheid leef soos wat Hy van ons eis. Wanneer ons dít doen sal ons God se vrede smaak wat alle verstand te bowe gaan. Tevredenheid bring vrede, “vrede wat die Heilige Gees ons gee.” Wees tevrede met wat God my en jou in die lewe toedeel en dank Hom daarvoor.
“God se volmaakte vrede is soos ‘n verkwikkende rivier; dit vloei oorwinnend voller en voller; dit word elke dag dieper. Daar vind ons volmaakte vrede” (Frances Havergal).
Gebed: Koning van die Kerk, bewaar my daarvan om die eenheid van U Kerk op aarde te verbreek deur kleinlikheid of eie belang, Here, U is alles wat ek begeer. In U het ek alles wat in die lewe die moeite werd is, gevind – ook ewige vrede. Dankie Here! Amen.
Comments