top of page

Gedagte vir Vandag

3 days ago
3 min read

Maandag, 19 Okt 2026

Koos Espach


Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)

Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (2)

 

Wat ‘n mens onrein maak

 

Rom. 14:13-14 – “Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie. 14Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein.”

 

Vergelyk ook Matt. 15:11 – “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”

 

Paulus sluit by Jesus aan en vermaan ons gelowiges, om nie veroordelend teenoor mekaar op te tree nie. Dit is só maklik om aanstoot te gee deur wat ons sê en daardeur verdeeldheid te veroorsaak, en kerklike verdeeldheid lewer geen bydrae tot die opbou van gelowiges nie. “Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13) en kan dan só optree dat almal in die gemeente geakkommodeer word. Dit behoort eintlik elke gelowige se plig te wees om mekaar op te bou in die geloof, saam te staan en ‘n verskil te maak in ons gesin, die gemeente en gemeenskap.

 

Vir Jesus is reinheid ‘n interne aangeleentheid. Dit wat uit ons binneste, ons harte opkom, moet nie iets wees “wat (ons) broer of suster tot ‘n val kan bring nie.” Ons moet sensitief wees vir die pad wat God met ons as gelowiges loop en sorg dra dat ons optrede nie die potensiaal bevat om ander gelowiges te laat twyfel en in sonde laat verval nie. Iemand het gesê dat “mense geneig is om hulleself en almal rondom hulle tevrede te wil stel.” Dit is dan wanneer ons prioriteite nie meer deur God bepaal word nie en ons hoofdoel nie meer is om God te behaag nie. Dis dan wanneer ek en jy ons eie en ander se lewenstyl sleg beïnvloed en uit pas met God begin lewe.

 

Ons wéét wat om te doen om God te verheerlik, ons geloofsoortuiging dwing ons daartoe, maar satan laat ons die teenoorgestelde doen, en “eet ons tog” van dit wat hy aanbied. Satan sê ons is super-wesens, sit ‘n kroon op jul kop – Jesus sê ons is Christene, trek ‘n voorskoot aan en “was voete”; satan sê dis beter om met skoon hande en Sondagklere deur die lewe te gaan – Jesus sê ons verhouding met Hom is die week se werksklere, dis die regte kerkklere. Kerk-wees is nie om mooi aan te trek, kerk toe te gaan en godsdienstige tradisies na te kom nie. Inteendeel, kerk-wees is dit wat uit my en jou binneste kom, wat wys of ons in pas met God lewe.

 

Wanneer ons gelowiges, toelaat dat die Heilige Gees ons harte en gedagtes onder beheer kry, kan ons nie ons medegelowiges “aanstoot gee” nie. God het elkeen van ons anders geskep, elkeen wie se vermoëns verskil, elkeen met verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee (1 Kor. 12:4). Daarom is dit nodig om met medegelowiges se gevoelens rekening te hou en nie ons gedagtes op hulle afdwing nie – “niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.”

 

Ons is nie beter as ander nie, en tog verrinneweer dit “wat by ons mond uitkom”, dikwels nie net ons eie lewe nie, maar ook ander mense s’n. Kom ons gebruik die woorde “wat by die mond uitkom,” eerder as voorbidding vir mekaar. Kom ons gebruik ons woorde “wat by die mond uitkom,” as beitels om die koninkryk van God mooi uit te bou. Kom ons spreek tot mense en oor mense, soos wat God dit graag sou wou hoor! Deur die woorde “wat by die mond uitkom,” maak ek en jy onsself aan ander bekend. Dit is tog onaanvaarbaar dat dieselfde mond terselfdertyd God kan loof en elkeen wat Hy na Sy beeld geskep het, kan verkleineer.

 

“Kwaadpraters is roofdiere wat nie eens wag tot hul slagoffers dood is voor hulle hul verskeur nie”

(George Meredith)

 

Gebed: Hemel Vader, ek is so geneig om U ander skepsels te oordeel. Here, ek moet bely, soms tref my woorde ander skerp in die maag as sagweg in die hart. Ek plaas vandag my mond in U hande. Verander my woorde in goeie medisyne vir elkeen binne hoorafstand daarvan. Gee dat my woorde vir ander meer sal leer van U liefde vir hulle. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page