Gedagte vir Vandag
Vrydag, 16 Oktober 2026
Koos Espach
Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)
Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (1)
Leef in liefde
Rom. 14:13 – “Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.”
In die vorige gedeelte, Romeine 14:1-12, het dit veral oor die onderlinge gesindheid van die “sterkes in die geloof” en die “swakkes” gegaan. Sonder om mekaar te verag (die sterkes se probleem) of te kritiseer (die swakkes se probleem) moet hulle mekaar aanvaar. Paulus laat nou die klem veral op die sterker gelowiges val om die swakkes eerder tegemoet te kom. Hy dui vir hulle die aangewese weg aan om “hulle liewer voor te neem om niks te doen wat hulle (swakker) broer (en suster) kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.”
Kerklike verdeeldheid lewer geen bydrae tot die opbou van gelowiges nie. “Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13) en kan dan só optree dat almal in die gemeente geakkommodeer word. Dit behoort eintlik elke gelowige se plig te wees om mekaar op te bou in die geloof, saam te staan en ‘n verskil te maak in ons gesin, die gemeente en gemeenskap. Jesus sê tog dat ons gelowiges “die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld is. Laat ons lig gesamentlik skyn dat almal dit kan sien en ons só ons hemelse Vader verheerlik” (Matt. 5:13-16).
Eerstens moet ons “niks doen wat ons broers of susters tot ‘n val kan bring nie.” Ons moet sensitief wees vir die pad wat God met elke gelowige loop en sorg dra dat ons optrede nie die potensiaal bevat om ander gelowiges te laat twyfel en in sonde laat verval nie. Iemand het gesê dat mense geneig is om hulleself en almal rondom hulle wil tevrede stel. Baie raak betrokke by sake wat hulle na aan die hart lê en verloor perspektief. Dit is dan wanneer ons prioriteite nie meer deur God bepaal word nie en ons hoofdoel nie meer is om God te behaag nie. God waarsku ons verskeie kere om nie te kritiseer, te vergelyk of mekaar te oordeel nie. Wanneer ons dus iets kritiseer wat ‘n ander gelowige doen, meng ons met God se sake in.
Tweedens, sê God deur Paulus vir ons, dat ons nie ons medegelowiges moet “aanstoot gee” nie. God het elkeen van ons anders geskep, elkeen wie se vermoëns verskil, elkeen met verskillende genadegawes. Maar dit is dieselfde Gees wat dit gee (1 Kor. 12:4). Daarom is dit nodig om met medegelowiges se gevoelens rekening te hou en nie só op te tree dat hulle ‘n grief begin saamdra nie. Die Bybel noem satan “die aanklaer van ons medegelowiges” (Op. 12 :10). Dit is dus satan se werk om te blameer, te kla en God se familie te kritiseer. Wanneer ons dit doen, vang die duiwel ons met ‘n slap riem om sy werk vir hom te doen.
Daar is byvoorbeeld baie maniere om die Here te dien, maar ons dien dieselfde Here. Dit is daarom nie nodig om my en jou manier van dien, op ander af te forseer of te kritiseer nie. Ons moet ook onthou dat ander Christene nie ons vyande is nie, al verskil ons hóé baie van hulle. Ons Vader is op baie verskillende maniere aktief besig in ons, maar al die vermoë en krag om Sy wil in ons lewe uit te voer, is Syne alleen – “Daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring” (1 Kor. 12:6).
Derdens is daar derhalwe geen plek vir ons eie “roem” om “iets “te doen wat (ons) broer of suster kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.” Niemand kan ‘n huis met net een steen bou nie, daarom het ons gelowiges mekaar nodig. Ons moet eintlik hipersensitief wees oor elke lidmaat se standpunt, al is dit “anders”. Buitendien, as gelowiges deel ons een Here, een Vader, een Gees, een hoop, een doop, een liefde. Ons deel dieselfde verlossing en dieselfde toekoms. En dié faktore is veel belangriker as enige verskille wat ons kan opnoem.
“Om mense lief te hê beteken om hulle te sien soos God hulle bedoel het om te wees, nie soos my en jou opinie hulle wil verander nie” (Feodor Dostojewski).
Gebed: Here, maak my sensitief vir die pad wat U met my mede broers en susters in die geloof loop sodat ek nie ‘n struikelblok vir hulle sal wees nie. Help my om nie met onbedagsame woorde of dade oor mense se gevoelens loop nie. Hou my nederig in die gebruik van my gawes wat ek van U ontvang. Amen.
Comments