Gedagte vir Vandag
Woensdag, 7 Oktober 2026
Koos Espach
WELKOM TERUG, ONS REIS WEER VERDER SAAM MET PAULUS!
Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)
Wees verdraagsaam met mekaar (6)
Is ons wie ons behoort te wees?
Rom. 14:7-9 – “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. 8As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. 9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en van die lewendes.”
Vergelyk ook 1 Pet. 2:9 – “Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.”
Paulus se skrywe handel steeds oor die probleemsituasie tussen die sterkes en swakkes in die geloof. Hy voer hier ‘n wonderlike waarheid aan dat ons Jesusvolgelinge, nie meer aan onsself behoort nie, maar aan die Here. God het besitreg oor ons in lewe en in sterwe – “of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” As Christene stel ons God se belange voorop en ons eie eer en eie belang neem nou die laaste plek in. Ons koninkrykie word vervang met die koninkryk van God! Met Christus se dood en opstanding het Hy die Here “van die dooies en van die lewendes” geword – Hy het ons vrygekoop van die slawerny van die sonde en ons verbind aan Hom in lewe en in dood.
Dit is daarom tragies dat mense só bang is vir die dood, dat hulle bang is om te lewe en dan uiteindelik sterf sonder dat hulle werklik voluit geleef het. “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”, daarom maak dit nie saak of ons lewe of sterwe nie, wat saak maak is dat ons in geloof doen wat God van ons vra – deur nie te lewe asof ons besig is om dood te gaan nie, maar elke dag die lewe leef “tot eer van die Here.”
Ons kan dan só leef omdat ons ‘n hoër status by God bereik het want Hy het ons “uit die duisternis geroep na sy wonderbare lig.” God het ons nuutgemaak deur Jesus Christus! Maar … is ons wat ons behóórt te wees? Is daar nie maar altyd spanning tussen dit wat ons ís, en dit wat ons behóórt te wees nie? Wat ons ís, is gelowiges wat deur Christus verlos is, maar sommige van ons dink steeds dit is nie wat ons behóórt te wees nie, want ons is sondaars. Wat ons dus ís en wat ons behóórt te wees, kom nie altyd by mekaar uit nie. En dit is wat Paulus en Petrus vir ons in die gelese verse hierbo wil sê: “Ons behoort aan die Here, ons is uitverkore, ‘n koninklike priesterdom, vir God afgesonder, die eiendomsvolk van God …”.
Dankie tog! Ons is nuut gemaak, ons is nie meer dood in die sonde nie, ons is verlos! Ons is nuutgebore mense want “ons behoort aan die Here.” Ek het al gehoor mense wat sê: “So en so is ‘n wedergebore Christen.” Is daar dan Christene wat nie wedergebore is nie? Is ‘n Christen nie maar ‘n Christen nie, ‘n mens wat deur geloof in Jesus Christus wedergebore is en nou bestem is vir die ewige lewe en nie gedoem is tot die ewige dood nie? Dan is daar ook dié wat sê dat so en so “opreg-gebore Christene”, of groot Christene, is! Daar bestaan nie so iets in die Bybel nie. ‘n Christen ís wedergebore, hy of sy hoef dit nie te word nie – ‘n Christen is ‘n Christen.
Elke Christen ís wedergebore, dit is wat ons ís. Die verskil is egter, ons leef nie altyd so nie, ons is nie altyd wat ons behoort te wees nie. Billy Graham het gesê: “Baie Christene ís navolgers van Christus, maar nie dissipels nie.” Wat bedoel hy? Ons is geneig om nog kompromieë met sonde te maak. Ons gaan kerk toe wanneer ons so voel, bid wanneer ons iets nodig het of lus het en die Bybel word nie gelees nie. Om vir Christus te leef beteken “ons leef tog nie vir onsself nie.” Dit beteken die toewyding van my en jou gees, liggaam en denke aan Hom as ons Verlosser en Saligmaker. Wanneer ons vir Christus leef, sal Hy in ons leef en ons sal die ekstase ken van ‘n lewe vir Christus – “want om te lewe, IS vir my Christus” (Fil. 1:21).
En dit is die ontsettende troos en hoop waaraan elke Christen kan vashou. Ons is nie uitgelewer aan enige bose magte of toeval wat buite ons beheer is nie. Ons is nie uitgelewer aan mense wat ons lot in hulle hande hou nie, ons behoort aan die Here! Goddank, ons behoort nie eers aan onsself nie en daarom kan ons nie met onsself maak net wat ons wil nie, ons lewe is in Christus se hande! Al loop die lewe soms met ons draaie en deur moeilike omstandighede en “obstacles,” moet ons onthou ons loop nie alleen nie. Ek en jy moet net ons voete op God se pad plaas en dit daar hou. Die res kom vanself!
“Sonder Christus is ons niks, verstaan ons niks van ons lewe of van die dood nie; nog minder wie God is en wie ons is, wie ons behoort te wees en wat ons kan word” (Blaise Pascal).
Gebed: Dankie Here dat ek nie aan myself behoort nie, maar in lewe en in sterwe, aan U. Maak my soos ek behoort te wees – sagte hande om ander te versorg; vinnige voete om ander te help; skerp oë om ander se nood raak te sien; goeie en geopende ore om die sug van my naaste op te vang. Prys U Naam. Amen.
Comments