top of page

Gedagte vir Vandag

4 days ago
4 min read

Vrydag, 11 September 2026

Koos Espach


Liefde is die volle uitvoering van die wet (8)

 

Leef soos volgelinge van Jesus Christus

 

Rom. 13:12b-14 – “Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.” (1).

 

In die lig van die dringende nabyheid van die einde, “die nag wat byna verby is”, en Christus, die “Son van geregtigheid” weer gaan kom, roep Paulus ons gelowiges op tot aksie! Al het die beslissing in Christus reeds geval en al is die uitkoms van ons gelowiges verseker, bly dit ‘n saak van erns om al die negatiewe dinge in ons lewe met positiewe dinge te vervang. Ons moet die sonde in al sy gestaltes, “die werke van die duisternis”, soos ‘n kleed uittrek en “die wapens van die lig opneem.” As Christensoldate is “ons stryd nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose magte in die lug” (Ef. 6:12).

 

Ons Christene is toekomsmense want God is aan ons kant. Ons kan dankbaar wees dat Hy ons uit ons slaap wakker gemaak het ... maar die nag heers nog. Dit is nog verskriklik “donker” om ons! Hoe moet ons Christene as dagmense staande bly in die stryd tussen lig en donker? Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek om onsself te beskerm. Ons moet volgens dagmense se status lewe. “Die werke van die duisternis” maak ons posisie as gelowiges onwaardig! Hoe moet ek en jy as dagmense, dit prakties deel maak van ons dag?

 

Geloof en liefde is die eerste spesiale wapens wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Om in hierdie oorlog teen die donker staande te bly, moet ons eerstens kragtig glo in Jesus Christus en dan ‘n vurige liefde vir mekaar openbaar. Ons moet vashou aan die wete dat ons ’n God dien wat die grootste en almagtigste is. Ons moet vashou aan die wete dat Jesus juis reeds die vyand aan die kruis oorwin het en dat satan se mag gebreek is.

 

Die mag van die Bose, die krag van satan was al in Paulus se tyd net so sterk soos nou. Hy draai mense ’n rat voor die oë, probeer deur liegstories hulle wysmaak dat hy ‘n magtige opponent van ons Christene, die Christendom en van Jesus Christus is. Hy besef egter sy tyd is min, en sal alles in sy vermoë doen om soveel mense moontlik te verlei deur valse leerstellings aan te hang.

 

Ons dagmense is aan die wenkant. Ons streef daarna om te “lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en is nie voortdurend daarop uit om ons sondige begeertes te bevredig nie.” Ons ken die wapenrusting waarna Efesiërs 6 verwys en ons moet dit aantrek en aanhou! Maar Paulus sê in vandag se teks ons moet “die wapens van die lig ook opneem.” Hy sê ons moet breek met die sonde – “ophou met die werke van die duisternis”; ’n einde maak aan uitspattige eet en drinkgewoontes; breek met bedenklike praktyke op sedelike en seksuele gebied; rusie en jaloesie staak, optredes wat goeie verhoudings tussen gelowiges en huweliksmaats versteur. Dit gaan dus in die geheel om die afwysing van lewensgewoontes wat nie voorbeeldig is nie!

 

Dis nie vandag maklik om daar waar ons werk, woon en speel, staande te bly nie. Dit lyk so lekker om deel van die wêreld te wees. Dit lyk so asof wêreldsmense al die pret het. Tog is dit nie waar nie. Ware geluk lê slegs by God. Hy het ons uit “die werke van die duisternis” waar mense van die nag rondploeter en geen rigting het nie, kom haal. Die nag is ook reeds oorwin.

 

God se horlosie het nie gaan staan nie, Hy gee bloot nog ‘n bietjie ekstra genadetyd sodat dié wat nog slaap, hulleself, hulle familie en vriende ook wakker skud, want netnou is dit te laat. Onthou: Aan die einde van ons lewe, gaan ons Verlosser ook ons Regter wees, trek daarom die wapenrusting aan en hóú dit aan (Ef. 6:10-17). Neem die wapens van die lig op en “lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus.” My en jou voorbeeld wen mense vir God se Koninkryk – ons lig verdryf die duisternis – God se grense is ons beveiliging! 

 

“Dit bly ‘n raaisel waarom mense so ‘n geweldige prys wil betaal om verlore te gaan deur hulle op te hou met die werke van die duisternis, terwyl Christus se verlossing gratis is” (Anoniem).

 

Gebed: Here, daar is ’n hele paar plekke in my lewe waar ek aan die slaap geraak het. Dinge wat onaanvaarbaar is vir U, het normaal geraak vir my en ek weet dat dit my al hoe verder van U wegrokkel. “O Heer, wil dan U liefde ook deur my openbaar, dat ons mekaar mag liefhê en so U wet bewaar. Veral omdat die tye ons dringend daartoe maan: Die Heer se koms is naby, dis tyd om op te staan. Laat ons welvoeglik lewe, geheilig deur die Gees, beklee met U, Heer Jesus, gekruisig na die vlees” (Lied 250:2, 3 en 5). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page