top of page

Gedagte vir Vandag

19 hours ago
4 min read

Woensdag, 11 November 2026

Koos Espach


Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)

Die voorbeeld van Christus (1)

 

Verpligting teenoor ander

 

Rom. 15:1-2 – “Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: 2elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.”

 

Met sy derde aanloop tot die regstel van die verhouding tussen die sterkes- en die swakkes in geloof, skaar Paulus homself nou by die sterkes. En vanuit hierdie posisie vermaan hy hulle om die swakhede te dra van diegene wat nie so sterk is in die geloof nie. Ons moet onthou dat Paulus hier verwys na ongelowiges wat onlangs Christene geword het en nog nie alles verstaan wat die Christen-geloof behels nie. Trouens, hulle verstaan nog nie mooi waaroor geloof gaan nie en moet met deernis en begrip behandel word.

 

Paulus beskou dit eintlik as ‘n verpligting om “aan ons naaste te dink aan wat goed is vir hom en wat hom in die geloof kan opbou.” Dit gaan hier meer as net die geduldige verduur van die swakkes se tekortkominge, dit gaan om hulle te behaag, te “dink aan wat goed is vir hulle.” Dit beteken natuurlik nie om nou maar alles te doen wat die swakkere in geloof begeer nie, maar eerder wat hom of haar kan opbou in die geloof.

 

In ons moderne wêreld is dít wat Paulus hier vra, eintlik ‘n “tall order.” Ongelukkig is daar mense wat nie hulle skouers en rug wil aanbied om te help dra aan ander se swakhede nie. Hulle gebruik eerder hulle elmboë om die swakke uit die pad te kry. Hy of sy mag moontlik die pad na sukses versper en eiebelang het nie tyd of plek vir swakkelinge nie. Elkeen het ‘n duisend en een redes van selfsoeke om die beste te wees – dis elkeen vir hom- of haarself.

 

Geestelike hoogmoed is een van die grootste gevare van toegewyde Christene! Hulle het ‘n hoë opinie van hulle eie wysheid, ‘n eienskap wat jou wysmaak dat jy een van daardie super-Christene is, iemand spesiaal wat jou kant vir die Here bring. Alles wat jy vir die Here doen is darem net ‘n trappie hoër en belangriker as wat ander kerkmense hulle mee besig hou. Hulle is die sogenaamde uitverkorenes, God se “witbroodjies” met wie Hy ‘n belangrike stukkie inligting in ‘n “droom gedeel het.” Hulle het sulke spesiale ervarings van God dat hulle voel hulle staan so paar tree nader aan God as ander gelowiges. Hulle het geestelik só onder ander gelowiges uitgegroei dat hulle dus ‘n beter plek in die hemel sou hê as die swakker gelowiges.

 

In God se wêreld is dit egter andersom. Hy het nie witbroodjies nie. Inteendeel. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28). Dit sluit die slegte mense, asook die swakkere in geloof, ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:45b). God was bereid om selfs sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar veral vir die slegtes, want Hy “trek immers niemand voor nie” (Rom. 2:11). Jesus sterf juis aan die kruis met ‘n gebed van vergifnis vir sondaars, vir Sy vyande wat Hom nie liefgehad het nie.

 

Iemand het gesê dat God eintlik meer belangstel in waarom ons iets doen as wat ons doen. Dit sluit baie goed aan by Paulus se opdrag dat “ons nie net aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Wanneer ons nie net op ons eie behoeftes konsentreer nie, raak ons in nederigheid bewus van die behoeftes om ons. God verkies dat ons nie net aan onsself moet dink nie, maar aan Hom en aan ons naaste.

 

Die oplossing dus: Ons moenie dink ons is God se witbroodjies nie. God het mense met moontlike emosionele behoeftes, diep onsekerhede, irriterende gewoontes of swak vaardighede, vir hulle en ons voordeel tussen ons geplaas. Hulle is die EGB-mense – mense wat Ekstra Genade Benodig! “Elkeen van ons moet aan (hulle) dink en aan wat vir (hulle) goed is en wat (hulle) in die geloof kan opbou.” Ons is mos familie, almal God se kinders, kinders wat mekaar se verskille respekteer en vir mekaar bid!

 

“Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; net dat jy minder dikwels aan jouself dink”

(Ken Blanchard).

 

Gebed: Here, help my om nederig te wees en U liefde in my leefwêreld te wys. Herinner my gedurig daaraan dat U my gemaak het wat ek is. Leer my om hulle wat nie sterk is, as broers en susters van die gemeente lief te hê en hulle met waardigheid en respek te behandel. Tot eer van U naam. Amen.

 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page