Gedagte virVandag
Vrydag, 23 Oktober 2026
Koos Espach
Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)
Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (4)
Ons het die beste
Rom. 14:16 – “Moenie dat die goeie wat julle het, ‘n slegte naam kry nie.”
Die “goeie wat die sterkes in geloof gehad het,” was hulle Christelike vryheid. Indien daar egter deur die beoefening van hierdie vryheid onaangenaamheid en bitterheid sou ontstaan, kon dit aanleiding gee tot ‘n “slegte naam.” Dit kon veroorsaak dat veral die buitestaanders sleg praat van Christene omdat hulle mekaar in kleinighede soos eet en drink in die hare vlieg.
Die “goeie wat ons het”, is die Evangelie van Jesus Christus – Hy ís die Evangelie. Deel van Jesus se werk op aarde was om ons weer in die regte verhouding met God te kom plaas. Jesus het dan ook as Rolmodel vir ons gewys wat gehoorsaamheid aan God beteken – om gehoorsaam en voorbeeldig te leef volgens die wil van God. Ons probeer dikwels om God net gedeeltelik te gehoorsaam vertel iemand. Wat bedoel hy?
Ons gehoorsaam net Jesus se opdragte waarvan ons hou. Dié wat ons as onredelik, moeilik en ongewild beskou, ignoreer ons. Omdat ons van nature geneig is tot die sonde, wat ongehoorsaamheid insluit, het Jesus ons onvolmaakte gehoorsaamheid saam met Hom aan die kruis vasgespyker en vir die skuld daarvan, volkome by God betaal. God sien ons nou volmaak soos ons in Christus is – dít is die wonderlike genadeboodskap! Dít is die Evangelie. En ons kan nie bekostig dat dit “’n slegte naam kry nie.”
Maar hóé? Paulus sê ons moet ons “voortdurend afvra of iets vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). Ons moet met ons gedagtes, woorde en gedrag só leef dat ons as mense van die lig, daardie lig weerkaats. Jesus sê “ons is die lig vir die wêreld” (Matt. 5:14). As ligmense is ons nie stryers en bakleiers nie, maar mense wat harmonie en positiewe verhoudings skep, mense wat God se vrede najaag, mense wat vreugdevol dieselfde doel nastreef: om God te behaag!
Mense kry gou ‘n persepsie oor ander mense net deur te kyk na wat hulle doen en wat hulle sê, selfs al maak hulle nie eens hulle monde oop nie. Christene word ook góéd bekyk. Mense maak ’n opsomming van ons en sal gou weet of ons, om hulle woorde te gebruik, ’n kerkmens is of nie, sonder om met ons te praat. Die vraag wat ons moet vra, is of ons die regte dinge vir hulle gee om ’n mooi prentjie te bou? Leef ons God se Woord daar waar ons in die lewe met ander skouers skuur?
Ek kry so ’n rilling oor my lyf en laat sak my kop in skaamte oor al die kere wat ek ’n lelike of vals prentjie van God se Woord daar buite in die wêreld geleef het. Kere wat ek nié ‘n ligdraer van Jesus was nie en dalk die Evangelie “’n slegte naam gegee het.” Ek vermoed baie van ons het al so-effe skeef getrap. Dis menslik en dit help nie nou om in ’n hoekie te gaan sit en ons minderwaardige polse te kou nie.
Dit is beter om eerder Jesus se kruis te gaan opsoek. Op ’n manier moet ons daar by die kruis ons onvermoë om ‘n mooi prentjie in die wêreld te verf, erken. Ons moet die pakkie sondes wat ons al hiermee verdien het, weer daar gaan neersit. Ja, ons moet dit erken en dan net daar los. En dan moet ons uit dankbaarheid daar opstaan en van voor af, met alles in ons probeer om ’n beter, ware prentjie van God se Woord in die wêreld uit te dra en leef.
Wanneer ons uit dankbaarheid aangevuur word, wil ons God se wil lewe. En met die hulp van die Heilige Gees gaan ons dit net beter regkry. Die prentjie wat die wêreld van ons sien sal vir die wêreld so mooi wees dat dit hulle aantrek, sodat hulle ook so wil wees. Dan sal God se Woord nie “’n slegte naam kry nie.” Inteendeel! Nou die vrae: “Hoe lyk die prentjie wat ander mense het oor my en jou manier van lewe? Wat moet ons anders doen?” Mag God ons help om anders te lewe. Mag ons beter prentjies van God en sy Seun en Hulle liefde en genade vir die wêreld gaan wys, sodat mense nie met God se Woord spot nie.
“Daar is soveel miljoene woorde in die wêreld. En net dié wat iets van Jesus se liefde oordra, kan die donker minder maak” (Moeder Teresa).
Gebed: Vader, U is groot. U maak so ’n groot verskil in my lewe. As dit nie vir U was nie, was ek telkens van die pad af. Dankie dat U aan die kruis vir my gesterf het. En tog bly ek swak. Help my om uit dankbaarheid U Woord na te jaag en alles wat daarin staan ’n werklikheid in my lewe te maak. Mag ander ’n beter prentjie van U Woord kry, omdat U Gees deur my skyn. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
Comments