top of page

Gedagte vir Vandag

Oct 14
3 min read

Woensdag, 14 Oktober 2026

Koos Espach


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (9)

 

Selfondersoek

 

Rom. 14:10-12 – “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ 12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (3).

 

Vergelyk ook 2 Kor. 13:5 – “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.”

 

Paulus probeer om in hierdie gedeelte van sy brief aan die Christen-gemeente in Rome, te verduidelik wat Christenskap prakties behels. Hy het ook die beeld gebruik dat ons as lidmate van die kerk, die liggaam van Christus is. Elkeen, met ‘n groot verskeidenheid ledemate en funksies, is aan mekaar verbind maar tog ook verskillend. Dit is juis hierdie verskille wat soms spanning tussen gemeentelede meebring en daarom vra Paulus eintlik dat ons diep voor God moet neerbuig en “elkeen hom of haarself nederig ondersoek,” sodat God ons kan oortuig wat die beste is vir elkeen om hartlik saam te werk, in plaas daarvan om mekaar te “veroordeel en selfs te verag!” 

 

Die feit bly staan dat “elkeen sélf, eendag voor God rekenskap moet gee.” Al stem ons nie altyd saam met ander gelowiges se standpunte nie, moet ons hulle aanvaar want God het hulle ook aangeneem, net soos vir my en jou, foute en al (Rom. 14:2,3). Ons is daarom nie gemagtig of bevoeg om hulle te veroordeel nie, die oordeel kom net God toe. Die hartklop van ons gelowiges se alledaagse bestaan, is om selfondersoek te doen of ons wel “in die geloof lewe.” Leef ons wat ons voorgee ons is, doen ons wat ons glo, is Christus se teenwoordigheid sigbaar in ons daaglikse optrede? Oor hierdie vrae sal elkeen vir hom- en haarself aan God rekenskap moet gee. Sal ons gereed wees om eendag aan God rekenskap te kan gee?

 

Christus is ons volmaakte voorbeeld. Hy roep ons om ons lewe aan Hom oor te gee en wanneer ons dit doen, word ons al hoe meer sensitief vir die leiding van die Heilige Gees. Ons leef dan nie meer nie, maar Christus leef in ons; ons word minder terwyl Christus meer word. Die Gees sorg dat elke masker wat ons dra, voor God afgehaal word. Hy ontmasker al ons motiewe en laat ons voor God staan en vra: “Het ek Christus werklik lief; vertrou ek Hom; leef ek in gemeenskap met Christus; is ek werklik die tempel en plek waarin Jesus Christus elke dag leef; glo ek regtig dat Jesus Christus sy lewe aan die kruis afgelê het om die volle losprys vir al my sondes te betaal; glo ek dat ek niks verdien nie en net met Sy verdienste voor God sal staan?”

 

Indien ons antwoord ‘n besliste ja is op al die bogenoemde vrae, besef ons opnuut weer dat die Heilige Gees ons in hierdie waarheid lei, asook hoe eindeloos en wonderlik die genade en liefde van God is. Is dit nie ‘n wonderlike troos nie? Indien ons vashou aan die geloof in Christus wat ons bely, sal Hy as ons Hoëpriester, vir ons intree wanneer ons stukkend voor die hemelse poorte opdaag en ons dra tot voor God se genadetroon.

 

“Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb. 4:16). Ons lewe is nie in ons hande nie, daarom moet ons só leef dat ons gereed is om na die genadetroon te gaan. Onthou, genadetyd is nie onbeperkte tyd nie, daarom moet ons elke dag reg leef!

 

“Ons mislei onsself wanneer ons Jesus en Sy evangelie klee in óns idee van geregtigheid en Hom dan in ons eie naam volg” (Cornelius Plantinga).

 

Gebed: Here, weerhou my daarvan om ‘n bordjie om my nek te hang wat sê hoe vroom ek is of hoe godsdienstig ek is. Gee eerder dat iets van U karakter in my sigbaar sal word. “U, Skepper-Gees, kom by my bly, dring my om my aan God te wy. Leer my om met hoop te sug, my oë op ons Heer te rig” (Liedboek 433:4). Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page