top of page

Gedagte vir Vandag

3 days ago
4 min read

Vrydag,9 Oktober 2026

Koos Espach


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (7)

 

Maak dit regtig saak?

 

Rom. 14:10-12 – “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ 12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (1).

 

Die Jesusvolgelinge in Rome was ‘n uiteenlopende klomp. Hulle herkoms, godsdienstige agtergrond, hulle opvattings van die lewe, het genoop dat hulle nie regtig veel met mekaar gedeel het nie, behalwe hul nuutgevonde geloof in Jesus Christus. Nadat Paulus in die eerste deel van die brief die grondbeginsels van dié geloof aan hulle verduidelik het, probeer hy nou om dit prakties by hulle tuis te bring. Dít was egter nie ‘n maklike taak nie. Verskeie van die praktiese riglyne het onderlinge ongelukkigheid veroorsaak. Daarom moes Paulus hulle vermaan om nie mekaar te “veroordeel en te verag” nie. Dit is vir ons ook van toepassing. Die verskille is nie belangrik genoeg nie. Vra eerder: “Maak dit regtig saak? Is jou ontevredenheid oor ander se gewoontes tot eer van die Here?”

 

Dit spreek vanself dat ons gelowiges van vandag, óók aan Christus verantwoording verskuldig is vir ons doen en late. Baie mense bestee hulle lewens daaraan om ‘n erfenis op aarde te skep. Baie se doel is dan ook om te verseker mense onthou hulle as hulle die dag nie meer hier is nie. Dis nie heeltemal verkeerd nie, maar wat egter uiteindelik die meeste saakmaak, is nie wat mense oor my en jou lewe gaan sê of dink nie, maar wat God sê!

 

James Dobson, ‘n Amerkaanse Evangelis en skrywer, vertel dat sy doel op universiteit was om ‘n tenniskampioen te word. Hy was ontsettend trots toe sy wenners-trofee uiteindelik in die universiteits-trofeekas geplaas is. Jare later ontvang hy die trofee per pos met ‘n nota by: “Die plek is opgeknap en jou trofee is in die vullisblik opgetel.” James het beskeie opgemerk: “Met genoeg tyd gaan iemand al jou trofeë tot niet maak!” Maak dit regtig saak dat hy tenniskampioen was? Was al die toewyding om kampioen te word die moeite werd? Miskien vir ‘n kort rukkie maar nie vir ewig nie!

 

Rick Warren skryf in sy boek – Doelgerigte Lewe – “dat ons nie kortsigtige besluite moet maak om ‘n aardse erfenis vir onsself te skep nie. Dis veel verstandiger om ‘n ewige erfenis te bou.” Omdat ons almal voor “God se regterstoel sal moet verskyn”, sal ons almal die volstrekte heerskappy en seggenskap van die Here moet erken. Die oordeel sal dan ook oor die vraag gaan of die eer van God werklik in alles gesoek is, en daarom moet elkeen nederig selfondersoek doen en seker maak dat ons met ‘n vrye gewete, “aan God rekenskap kan gee.”

 

Paulus sê “ons sal tog almal voor God se regterstoel moet verskyn.” Dis ‘n voldonge feit: Eendag gaan ek en jy voor God staan! En ek glo Hy gaan ‘n oudit van ons lewe uitvoer, ‘n tipe van ‘n eindeksamen voor ons die ewigheid binnegaan. Dankie tog, God wil dat elkeen van ons die eksamen slaag en daarom gee Hy vir ons reeds voor die tyd die eksamenvrae. Uit die Bybel kan ons aflei dat God ons ten minste twee belangrike vrae gaan vra.

 

Eerstens: “Wat het jy met my Seun, Jesus Christus, gedoen?” Ek glo nie Hy gaan oor ons verskille in eetgewoontes, rein of onrein kos, of eet van kos wat aan afgode geoffer is, of streng sabbatswette, of oor ons kerkverband uitvra nie. Al wat gaan saakmaak, is of ek en jy aanvaar het wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het en of ons in Hom glo, geleer het om Hom lief te hê en Hom te vertrou. Hoekom? Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

 

Tweedens: “Wat het jy gedoen met wat Ek jou gegee het?” Wat het ek en jy met ons lewe gedoen – al die gawes, geleenthede, talente, energie, verhoudings en hulpbronne wat God ons gegee het? Het ons dit aan onsself bestee, of dit gebruik vir die doel waarvoor God ons geskep het – om te dien? Dis altyd makliker om op die kantlyn te staan en ons medebroers en susters in geloof, te “veroordeel en te verag”, as om betrokke te raak en ons gawes aan te wend wat God ons geskenk het. Onthou: “Elkeen van ons sal dus oor hom- of haarself aan God rekenskap moet gee.” Elkeen sal op sy of haar eie, God se vrae moet beantwoord.

 

“Niemand is op die aarde geplaas om onthou te word nie, maar om vir die ewigheid voor te berei”

(Rick Warren).

 

Gebed: Ag Here, help my asseblief dat my ego nie die pad na ‘n ander se hart moet versper nie. Maak asseblief al my vooroordele tot ander, tot niet. Berei my voor om suksesvolle antwoorde op God se vrae te kan stel. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page