top of page

Gedagte vir Vandag

6 hours ago
3 min read

Vrydag, 18 September 2026

Koos Espach


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (2)

 

Geestelike ongevoeligheid

 

Rom. 14:2-4 – “Een glo ‘n mens mag alles eet; ‘n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. 4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.”

 

Paulus skryf verder oor die “grys gebiede” waaroor Christene eeue gelede in Rome verskil het en wat vandag nog steeds deur baie gelowiges, as net swart of net wit beskou word. Die verskil waaroor dit gaan, is die vraag wat geëet mag word en wat nie. Albei groepe, die swakkes in geloof en die sterkes, “glo” dat hulle standpunt korrek is. Dit kan maklik gebeur dat die een wat sterk in die geloof is (en dus die vryheid het om alles te eet), dié wat swak is, kan “verag”, terwyl die swakke, wat meer nougeset is, die ander kan “veroordeel.” Albei reaksies is verkeerd. Albei groepe moet onthou dat God óók die “ander aangeneem het.”

 

Paulus motiveer sy standpunt deur die Christene te vergelyk met die bediende wat alleen aan sy werkgewer verantwoording moet doen. Dit is verwaand om oor iemand anders se bediende te “oordeel.” Sy eie werkgewer is verantwoordelik vir sy doen en late – en niemand anders het die reg om dit te doen nie. So het God alleen die reg om te oordeel oor die manier waarop Sy kinders die praktiese implikasies van hulle geloof in Christus verstaan en uitleef.

 

Paulus se vermaning aan die Romeinse-Christene om mekaar, ten spyte van hulle onderskeie verskille, “nie te veroordeel nie”, maar te aanvaar, is vandag steeds relevant vir ons. Uiteenlopende faktore bring soms ernstige spanning tussen ons Christene, selfs in dieselfde kerk. Dink maar net aan eenvoudige sake soos die sing van Engelse liedjies; orrel- of klavierspel tydens ‘n diens; arms omhoog tydens sang; groet en welkom heet voor die diens, en vele ander. Sommige lidmate sê God is heilig en respek moet betoon word deur ‘n gewyde stilte te handhaaf voor die diens. Ander sê ons moet seker maak dat kinders die Here leer ken – die swakkes onder ons – en dat ons eredienste vir hulle ook toeganklik moet wees.

 

Beteken dit dat ons nooit van mekaar mag verskil nie? Beslis nie! Die punt is nie dat ons ten alle koste konflik moet vermy nie. As Christene oor alle eeue dit gedoen het, sou musiekinstrumente soos tromme, nooit in ‘n kerk toegelaat gewees het nie. Vroue-lidmate sou steeds nie ampsdraers in die kerk kon wees nie. Onderskeie verskille kan nie gebruik word as ’n wapen om ander gyselaar te hou nie. Ons moet eerder mekaar in liefde akkommodeer en fokus op diens aan die Here, en nie verskil oor onbelangrike “kantlynsake” nie. Dit gaan ook nie hier oor bekrompte idees nie.

 

Ons verskille moet ons help om te groei in die geloof. Die Woord van die Here roep ons op om mekaar se goeie trou en integriteit as Christene te aanvaar en steeds só teenoor mekaar op te tree dat ons verhoudinge nie daaronder ly nie. Wat ons in Christus saam bind, is veel groter as dit waaroor ons verskil. Dit veronderstel dat beide partye, die “sterker en swakker” gelowiges, sal opoffer, dat albei partye mekaar se belange sal hoër ag as hulle eie. Die mens wat die tempel van God versplinter deur onenigheid te saai, sal deur God gestraf word: “As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1 Kor. 3:17). Aanvaar mekaar met oop harte.

 

“Die eenheid van die mens met God is die eenheid van mense met mekaar” (Thomas Aquinas).

 

Gebed: Heilige Gees, gee my die krag sodat ek ‘n positiewe bydrae kan lewer om die eenheid van die kerk te bewaar want “hier is Christus alles en in almal” (Kol. 3:11b). Leer my om wat ek doen, dit van harte doen soos vir die Here en nie om mense te beïndruk nie. Help my om nie geestelik ongevoelig te raak oor my mede-gelowiges nie, dat ek ander sal hoër ag as myself. Gee dat ons gelowiges mekaar sal aanvaar, ondanks ons verskille oor die praktiese uitlewing van ons geloof. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page