top of page

Gedagte vir Vandag

18 hours ago
3 min read

Maandag, 26 Oktober 2026

Koos Espach


Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)

Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (5)

 

Gehoorsaamheid, ‘n eeue oue probleem

 

Rom. 14:17-18 – “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” (1)

 

Paulus beskryf hier wat werklik, ten opsigte van die koninkryk, van wesenlike belang is, en wat nie. Hy is duidelik daaroor: “eet en drink is onbelangrik.” Wat eerstens van beslissende belang is, is ‘n voorbeeldige lewe en “gehoorsaamheid aan God” volgens God se wil.

 

My en jou lewensdoel is veel groter as ons persoonlike vervulling of selfs ons geluk. Rick Warren sê ons lewensdoel is veel groter as ons gesin, ons loopbaan of selfs ons ambisies. Ja, dis ook belangrik, maar as ons wil weet waarom ons op hierdie planeet geplaas is, moet ons by God begin. Ons is deur sy doel en vir sy doel geskep (Gen. 1:26). “God het al wat lewe, in sy mag, die asem van elke mens” (Job 12:10). Daarom sal ons lewensdoel nooit heeltemal en volkome duidelik word vir ons nie. Ons het onsself mos nie geskep nie, dus kan ons nie vir onsself vertel waarom ons geskep is nie.

 

Alles begin by God. Ons bestaan net omdat God wil hê ons moet bestaan. Ons kan net in God ons oorsprong ontdek. Net in God kan ek en jy ons identiteit, ons betekenis, ons doel, ons sin vir bestaan, ontdek. Elke ander pad is ‘n doodloopstraat. Dit gaan vir ons dus om te word wat God ons geskep het om te wees – om sý wil gehoorsaam te wees. God is nie net die wegspringplek van ons lewe nie, Hy is die Bron van ons lewe. Sonder God maak die lewe nie sin nie, want dit gaan nie oor my en jou nie. Daarom is “gehoorsaamheid aan Hom en sy wil” van uiterste belang.

 

Skrywer Susan Maycinik het gesê: “Dit is moeilik om presies te weet wat die wil van God is, omdat die skeidslyn tussen gehoorsaamheid aan Sy wil en vertoon baie fyn is. Gehoorsaamheid is om met jou hele hart na God te soek; vertoon is om stiltetyd te hou omdat jy skuldig voel wanneer jy dit nie doen nie. Gehoorsaamheid is om God se Woord ryklik in jou lewe toe te pas; vertoon is om die Woord te lees sodat jy kan sê jy het dit gedoen. Gehoorsaamheid is om ja te sê vir wat God jou vra; vertoon is om ja te sê wat mense van jou vra. Gehoorsaam God en volg die leiding van die Gees, eerder as om met vertoon mense te volg.” God sê immers: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en My oog oor jou hou” (Ps. 32:8).

 

Die vraag is of ons gehoorsaam sal wees? Die Heilige Gees is die krag van God wat in my en jou werk, wat ons aanspoor en rig om te keer dat die sondige natuur die oorhand kry. Luister wat sê die Hebreërskrywer: “Mag dié God (ons) toerus met alles wat goed is, sodat (ons) sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is” (Heb. 13:21). Dit is nie leë woorde nie. Inteendeel! Wanneer ons God se wil bo ons eie begeertes plaas, sal ons geloof sterker word. Dan sal ons elke dag tegemoetgaan in hierdie geloof en gehoorsaam wees aan elke tree wat God wil hê ons moet neem.

 

Dit is egter nie maklik nie. Aanvanklik sal dit moeilik wees om ons ou willetjies te buig na God se wil en ons vordering op God se pad sal dalk stadig wees, maar algaande sal die Gees ons oortuig dat ons die regte pad volg. Ek en jy moet “Hom net ken in alles wat ons doen en Hy sal ons die regte pad laat loop” (Spr. 3:6). As ek en jy aan God gehoorsaam is vloei sy verlossing deur ons na ander se lewens. Die Here lê nie vir ons reëls neer nie, maar stel wel sy standaard baie duidelik: “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” (Joh. 14:15). Indien ons dus huiwer, is dit omdat ons iemand in kompetisie met Hom liefhet. Dalk onsself?

 

“’n Loods kan hoe ervare wees, maar as hy die instruksies uit die beheertoring ignoreer, is ‘n ramp aan die kom. So is dit ook met God; wie sy stem ignoreer, stuur op ‘n ramp af” (JP Verster).

 

Gebed: Ewige en Almagtige God, mag ons U roepstem duidelik hoor en gee ons die genade om dit sonder huiwering te gehoorsaam. In Jesus se Naam. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page