top of page

Gedagte vir Vandag

13 hours ago
4 min read

Maandag, 12 Oktober 2026

Koos Espach


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (8)

 

Draai of braai

 

Rom. 14:10-12 – “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ 12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” (2).

 

Vergelyk ook Amos 4:11b en 12b – “Julle het soos ‘n stuk hout geword wat uit die vuur uit geruk is, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie … 12bmaak jou klaar om voor jou God te kom verskyn!”

 

Daar is baie dinge wat ons kan ontwyk, ontduik of vermy, maar die ontmoeting met God wag vir elke mens, gelowige én ongelowige. Hierdie ontmoeting is onvermydelik! Ons kan dit nie omseil of uitskakel nie, ons sal dit beslis nie misloop nie! Dit gaan die oomblik wees wanneer ek en jy alleen “voor God se regterstoel moet verskyn.” Dit gaan die oomblik van waarheid wees, “elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” Niemand sal agter iemand anders kan skuil nie. Niemand gaan namens my en jou antwoord nie!

 

Amos het lank voor Paulus al gesê: “Ons moet ons klaarmaak om voor God te verskyn.” Dit is dus van uiterste belang dat ons onsself voorberei vir hierdie ontmoeting. Deel van hierdie voorbereiding is om ‘n omkeer te maak, óm te draai soos die verlore seun en tot God bekeer, want “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4).

 

Karl Barth, een van die grootste teoloë van die twintigste eeu, vertel dat hy ‘n reeks dienste van ‘n sekere prediker bygewoon het en aand na aand het hierdie prediker dramaties oor die hel gepreek. Tot in die fynste besonderhede het hy die verskrikkinge van die hel beskryf – geweldige gekners van tande en geween van mense wat in die martelkamers deur die duiwels gemartel word; swaeldampe wat uit die poele van vuur geruik kan word; mense wat onophoudelik skree van pyn en om hulp roep! Sy strategie was eenvoudig: Vul  die luisteraars met soveel vrees vir die hel dat hulle daarvan af wil wegvlug – draai of braai!

 

Iemand het na ‘n week vir Barth gevra wat hy van die prediking dink en sy antwoord was: “Nee, God werk nie so nie! Jesus se intreepreek op aarde: ‘Die koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo in die evangelie’ (Matt. 4:17 en Mark. 1:15), is deur hierdie man omgekeer. Hy het dit verander na ‘Bekeer julle want die koninkryk van die hel het naby gekom.’ Dit is beslis nié die evangelie van Jesus Christus nie. Die evangelie van Jesus Christus roep ons nie op om God en Sy oordeel te vrees nie, dit spoor ons aan om ‘Hom as Vader aan te roep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade sal oordeel en dat ons dan in eerbied vir Hom sal leef’ (1 Pet. 1:17).”

 

Hierdie “eerbied vir God” impliseer dat ons as kinders van God, nie vrees vir die hel behoort te hê nie. God is nie ‘n bangmaakgod nie! Hy wil nie hê ons moet Hom dien omdat ons Hom vrees nie, maar omdat ons Hom uit eerbied liefhet en vertrou, omdat Hy is wat Hy is – God van liefde! Angs skep net meer angs by die mens en dit maak dit moeilik om sonder vrees God te dien. Ons moet egter onthou dat God ook regverdig is, daarom spreek Hy soms oordele oor mense uit en selfs teen die kerk, nie om ons bang te maak nie, maar om ons tot inkeer te bring: “Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God …” (1 Pet. 4:17). Soos stout kinders moet oortreders getug word sodat hulle tot inkeer gebring kan word.

 

Karl Barth het gesê om God te vrees is nie die evangelie nie. Eerbied vir God word gekweek wanneer ons raaksien hoe lief Hy ons gehad het – “só lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het …” (Joh. 3:16) – ons is deur Sy liefde oorweldig. Ons is uit die modder van wanhoop uitgelig tot in die heerlike werklikheid van Sy teenwoordigheid. Dáár kan niemand of niks ons benadeel nie, want daar ervaar ons die volheid van God se genade en die Heilige Gees se leiding. Wanneer ons saam met Christus en die Heilige Gees deur die lewe wandel en by Hulle krag put, sal ons die vermoë ontdek dat God se genade vir ons genoeg is en dat Hy deur die Gees vir ons net die beste sal voorberei. Dankie Here!

 

“Jesus Christus is God se alles vir die mens se totale nood” (Richard Halverson).

 

Gebed: Gees van God, help my om my gereed te maak sodat, wanneer Christus weer kom, ek gereed sal wees om Hom tegemoet te gaan. Maak my vry van vrees en laat ek in U rus en vrede vind. Leer my om lief te hê soos U liefhet en sal doen soos U van my verwag om te doen. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page