top of page

Gedagte vir Vandag

Sep 21
4 min read

Maandag, 21 September 2026

Koos Espach


Moenie jou broer veroordeel nie (Rom. 14:1-12)

Wees verdraagsaam met mekaar (3)

 

Die liefde maak nie klone nie

 

Rom. 14:2-3 – “Een glo ‘n mens mag alles eet; ‘n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.”

 

Vergelyk ook 1 Kor. 8:10; 10:25 – “8:10As jy wat hierdie kennis het, in ‘n afgodstempel gaan eet en iemand met ‘n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie?10:25 “... Alles wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen.”

 

‘n Mens vra jou lewe lank vrae, veral in jou tienerjare. En gewoonlik soek mense, veral jongmense eenvoudige antwoorde, nie ‘n langdradige storie nie. Dit is in só ‘n moeilike situasie wat Paulus hom nou in ons bogenoemde teksverse van vandag bevind. Die “swakkes in geloof” meen “net groente” mag geëet word, terwyl die “sterkes in geloof” sê ‘n mens mag “alles eet.” Die beswaar van die swakkes was vermoedelik soortgelyk aan dié van die swakkes in Korinte wat nie vleis wou eet nie omdat die slaghuise aan die heidense tempels verbonde was en die vleis aan die gode gewy was (1 Kor. 8:7).   

 

Selfs Paulus het gesukkel om ‘n reguit antwoord te gee op die gemeente in Korinte se vraag: “Mag ons vleis wat aan afgode geoffer is eet?” Paulus antwoord: “Nee, jy gaan ander tot ‘n val bring.” (1 Kor. 8:10). Maar in 1 Kor. 10:25 sê hy: “Ja, jy mag, alles wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan julle eet.” Hoe nou Paulus, eers nee en dan ja? Sou dit billik wees om Paulus so vinnig te veroordeel? Ons weet mos die lewe is nie so eenvoudig nie.

 

Dit is deesdae nogal mode om allerlei items uit te wys wat glo satanies is en wat blykbaar met allerlei slegte kragte gelaai is. Sekere liedere, kosse, beelde en selfs skilderye bevat glo sinistere kragte wat heidens van aard is. Paulus het geweet daar bestaan nie enige krag in heidense afgode nie. Daar skuil nie bose magte in vleis, of enigiets, wat by heidense slaghuise gekoop of eers aan afgode geoffer word nie. Trouens, daar bestaan géén ander gode nie. Daar is net een lewende God, en dit is God ons Vader, en een lewende Here, Jesus Christus. Ál die ander gode of afgode is dood en beteken niks. Wanneer ek en jy dus byvoorbeeld “afgodsvleis” eet, kan ons niks oorkom nie. Duistere magte kan nié in ons inklim nie!

 

Dit is nie dat Paulus twyfel oor wat vir gelowiges reg of verkeerd is nie, vir hom het dit eerder gegaan oor kennis wat ondergeskik is aan die liefde. En dis wat hy ons wil leer – ons is in Christus vrygemaak en daarom moet ons wat sterk is in die geloof, nie hoogmoedig en taktloos teenoor die “swakkes” – die jong gelowiges, optree nie. Ons moet as Christene, nie bygelowig wees nie. Maar aan die anderkant moet ons mekaar se gevoelens respekteer en nie mekaar aanstoot gee nie, mekaar “verag of veroordeel” nie.

 

Almal moet egter alles wat hulle doen tot eer van die Here doen, en toegelaat word om dit te doen, want ons is aan Hom, en alleen aan Hom, rekenskap verskuldig. Elkeen moet net in sy eie gemoed van sy standpunt oortuig wees tot eer van die Here en met danksegging. Laat ons eerder probeer om ‘n seën te wees vir ons medegelowiges en in liefde mekaar se eetgewoontes aanvaar. Jesus het immers gesê: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” (Joh. 15:12). Dit wys dat God waarlik in ons gelowiges se midde is.

 

Die Here het ons nie verander in fotostate van ander gelowiges nie. Daar is nie ‘n prototipe, oftewel ‘n “ideale gelowige” wat as model vir ons kan dien nie. Trouens, God gun ons steeds ons eie persoonlikheid. Ons is nie “gekloon” om te reageer as een gemeentelid sê ons mag nie vleis eet nie, en almal dit laat staan ter wille van daardie een lid nie. Al wat God vra, is dat die veroordelende sondige sy van ons – ons selfsug – weggesny moet word. Ons mag egter ‘n eie identiteit, ‘n eie smaak vir kos, ‘n eie soort gewoonte hê.

 

Omdat ons nie klone van mekaar is nie, is dit nie aldag ewe maklik om met mekaar oor die weg te kom nie. Daarom gee God sy liefde aan ons sodat ons mekaar kan aanvaar soos wat ons is. Sy liefde maak dat ons mekaar nie heeltyd wil verander nie, maar dat ons vrede maak met die andersheid van diegene rondom ons. Laat Sy liefde ons verdraagsaam en geduldig teenoor mekaar maak, “want God het ons aangeneem!”

 

“Die een ding wat ons almal vir ons hemelse Vader kan doen, is om verdraagsaam en geduldig met sy ander kinders te wees” (Henry Drummond).

 

Gebed: Hemelse Vader, ek aanbid U as die Bron van alle seën. Leer my om vir ander tot seën te wees, verdraagsaam en geduldig, soos wat U oorvloedig is in my lewe. Amen

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page