top of page

Gedagte vir Vandag

1 day ago
4 min read

Maandag, 16 November 2026

Koos Espach


Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)

Die voorbeeld van Christus (3)

 

Die Woord van God leef

 

Rom. 15:4 – “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

 

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer” is sewe woordjies wat seker die belangrikste woorde is wat die grondslag vorm van alles wat ons Christene glo. Dit vorm ons hele geloofslewe. Hierdie “Skrif” beskryf die wil van God; die verlore toestand van die mens; die pad na redding; die oordeel van sondaars en die geluk en nuwe lewe van die gelowiges in Christus. Die leerstellings daarin is heilig en waar en die beslissings onveranderlik. Dit bevat lig om ons te lei; voedsel om ons te onderhou en troos om ons op te beur. Jesus Christus is die belangrikste onderwerp; ons gelowiges se redding, die doelstelling en die eer van God se doelwit.

 

Wanneer Paulus hier na die “Skrif” verwys, bedoel hy dit wat destyds aan hulle bekend was, min of meer wat ons vandag as die Ou Testament ken. Min het hy geweet dat die Jesusvolgelinge wat in die jare daarna en eeue ná hulle sou kom, ook die getuienis  oor Jesus Christus se lewe, sy dood en opstanding, die verhale oor die vroeë kerk en die briewe wat die apostels en ander Jesusvolgelinge geskryf het, as die Skrif sou ken. Ook Paulus se storie en 13 van sy briewe aan gemeentes van sy tyd, en wat ons vandag met ons saamdra, “is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”

 

Dit kan ook nooit anders nie! Geloof is onmoontlik sonder die Bybel – ‘n mens kan nie sonder die Bybel ‘n Christen word nie. Ek en jy kan ook nie geestelik groei sonder die Bybel nie – “Soos pasgebore kindertjie smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet. 2:2). Alle gelowiges groei vanuit dieselfde geestelike melk van die Woord, daarom moet ons “smag daarna.” Hoekom? Sodat ek en jy ons kan distansieer van slegte gedrag, van enige vorm van valsheid, van jaloesie, kwaadpratery, korrupsie en ál die slegte dinge waarvan die Woord ons teen waarsku. Ons weet die Bybel is nou wel nie ‘n boek met kitsoplossings vir elke probleem nie, maar Jesus leer ons dat die versoekings van die duiwel net oorwin kan word deur die swaard van die Woord (Luk. 4:1-13).   

 

Dit word vertel van ‘n leraar en ateïs wat oor die egtheid en geloof in die Bybel ‘n gesprek gevoer het. Op ‘n vraag van die ateïs of die leraar in die Bybel glo, het die leraar geantwoord: “Ja, beslis! Dit is die Woord van God in Wié ek glo!” “Maar is daar nie dele van die Bybel wat selfs jy as ‘n leraar nie kan verklaar nie?” Nederig antwoord die leraar: “Ja, ongelukkig is daar.” Triomfantelik, met die gedagte dat hy die leraar uitoorlê het, vra die ateïs: “Nouja, wat doen jy dan?” Die leraar het kalm van sy bord kos opgekyk en gesê: “Ek doen dieselfde as wanneer ek hierdie vis eet. Wanneer ek by die grate kom, sit ek hulle eenkant in die bord en gaan voort om my ete te geniet. Ek los die grate vir een of ander dwaas wat daarvan sal stik.”

 

Arthur Pierson vertel van ‘n jongman wat met afgryse vervul was toe hy hoor sy skatryk oom het net die Bybel vir hom nagelaat. Die testament het gelui: “Ek laat aan my nefie ‘n eksemplaar van God se Woord want ek vertrou hy sal daagliks daaruit lees en in die bladsye daarvan ware rykdom vind.” Die begunstigde het met minagting die Bybel in ‘n tas gegooi. Jare daarna is hy een dag só deur probleme oorweldig dat hy die Bybel uit die tas gaan haal het om troos te soek. Tussen die bladsye daarvan het hy aandelesertifikate gevind wat derduisende dollars werd was. Behalwe vir die materiële waarde het hy ook onskatbare rykdomme van Christus gevind: daardie Bybel het hom na sy Verlosser gelei en sy lewe gered!

 

Wie die Here waarlik liefhet en verlang om in die geloof te groei, wie daarna verlang om “deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif gee en vol hoop kan wees”, sal op sy of haar dagprogram ‘n ereplek aan die Skrif en die bestudering daarvan gee. Daar is niks belangriker wat ons kan doen as om ons afsprake met God by sy Woord getrou te hou nie. Niks sal vir ons tot groter seën wees nie. Ons leer onsself ken want “die Woord van God is lewend en kragtig, dit dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12). Bestudeer dit om verstandig te wees; glo dit om veilig te wees en beoefen dit om heilig te wees.

 

“Die Woord van God lewe. Dit praat met my in elke nuwe lewensituasie. Dit het hande, want dit gryp my vas. Dit het voete, want dit haal my in wanneer ek probeer wegkom van wat dit sê” (Martin Luther).

 

Gebed: Here, U Woord kom praat diep met my wanneer ek in sonde vasgevang word. Wanneer ek verkeerde gedagtes dink en my besig hou met verkeerde dinge, dring die woorde van U Woord diep in my hart in. Dit is met ‘n pynlike ervaring, wat ek voor U kom staan. Dankie dat die vlam van hoop helder in my brand, ongeag my uiterlike omstandighede; dat ek met groot sekerheid kan staatmaak op U liefde want ek kan peil trek op elke belofte in U Woord. Dankie Jesus dat U medelye met al my swakhede het, my wonde verbind en elke keer wanneer ek afdwaal, weer tot God se genadetroon dra. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page