top of page

Gedagte vir Vandag

3 hours ago
4 min read

Vrydag, 30 Oktober 2026

Koos Espach


Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)

Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (7)

 

Christus is ons vreugde

 

Rom. 14:17-18 – “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” (3).

 

Dit is nodig om onsself net weer te herinner dat God deur Paulus ons oproep om nie aanstoot te gee oor nie-essensiële, of “kantlynsake” nie (v. 13). Wanneer dit oor werklike ernstige beginselsake gaan, geld die opdrag om aanstoot te vermy nie meer nie, want dan sou die evangelie self in die gedrang kom. Die gevaar is wanneer ons nie-essensiële sake tot beginsels verhef en dan selfsugtig verklaar: “Dit is vir my ‘n beginselsaak.” Ons moet versigtig wees om nie ‘n “kantlynsaak” tot beginsel te verhef, om daarmee jou eie posisie in die kerk te versterk nie.

 

Vervolgens praat Paulus van die Christelike “vreugde” wat ‘n diep en egte innerlike lewensblyheid soos ‘n helder fontein uit ons lewe laat vloei. In hierdie konteks wat ons vandag na kyk, gaan dit veral oor ‘n “vreugde” saam met ons Christen-broers en susters, selfs saam met diegene van wie ons mag verskil. Wanneer ons op hierdie manier vir Christus dien, geniet ons nie net die guns van God nie, maar word ons ook deur nie-Christene gerespekteer.

 

Paulus sê ons Christene is superwenners wat gevul is met vreugde wanneer ons juis daardie dinge beleef wat lyk asof dit ons gaan oorweldig. Hoekom? Die fondament van die Christelike geloof is ons onverdiende wonder van die liefde van God wat Hy aan die kruis op Golgota bewys het. Dít is die rede waarom “ons in alles meer as oorwinnaars is deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37). En dit skep daardie soort vreugde by ons wat nie gekoppel is aan moeilike omstandighede nie. Daardie soort vreugde wat Paulus en Silas lofliedere om middernag in die tronk kon laat sing (Hand. 16:25). Selfs God was deur hulle lofliedere van vreugde aangegryp. God se applous het ‘n aardbewing veroorsaak sodat die boeie van Paulus-hulle afgeval het!

 

Paulus se geloof en vreugde midde-in sy swaarkry het ongelooflike gevolge gehad. Ons kan by hom leer en ook deel in sy vreugde – dit kan óns vreugde wees! Wanneer ek en jy besef dat daar geen werklike vreugde sónder God kan wees nie, raak alles eenvoudiger. Dan kan ons God raaksien in die helder kleure van die natuur; ons kan Hom hoor in die vrolike lag van ‘n kind; ons lewe kan ‘n borrelende vreugde word wat onafhanklik is van ons slegste omstandighede sodat ons nie anders kán as om saam met Paulus vir God lofliedere te sing nie, en saam met Dawid te midde van groot swaarkry, vir die Here lofpsalms skryf!

 

Hierdie “vreugde wat van God kom en deur die Heilige Gees vir ons gegee word,” het nóg ‘n dimensie. Ons vreugde kom tot openbaring wanneer ons Jesus se geboorte, dood en opstanding, sy hemelvaart en wederkoms herdenk; wanneer ons van Hom getuig en ons verbly in hulle wat die getuienis aanneem. Ja, dis ongelooflik om ‘n vreugdevolle kind van God te wees. Die kersie op die koek is: Hierdie vreugde is aansteeklik! Dis ‘n magtige getuienis teenoor die wêreld. Wanneer God se vreugde uit ons straal, sien die wêreld iets van Sy liefde en begeer hulle om dit ook te besit. En só bring ek en jy eer aan die Here!

 

Daar is ‘n eeue oue legende wat vertel hoedat satan, nadat hy uit die hemel uitgewerp is (Op. 12:9), en deur die heelal rondgeswerf het, op ‘n dag een van die “goeie” engele uit die hemel raakgeloop het. Die “goeie” engel het satan gevra wat hy die meeste mis vandat hy uit die hemel weg is? Met ‘n nydige stem het hy gesê: “Ek mis die blydskap en die vreugde en die lofgesange. Ek mis die bruisende vreugde in die oggende, die tintelinde vreugde in die middaguur, die aansteeklike vreugde met sononder wat duur deur die hele nag. Ek mis die vrolike vreugde van die hemel en die vreugde van God se teenwoordigheid!”

 

Gelukkig, ons Christene wat met vreugde “vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” Daar is vreugde wanneer ons na die verlede kyk; daar is vreugde in die hede; daar is vreugde wanneer ons na die toekoms kyk. Daar is vreugde van herinneringe, vreugde van liefde, vreugde van hoop. Daar is vreugde van ‘n geruste gewete, ‘n dankbare hart, ‘n denkende brein, ‘n aanbiddende gees. Inderdaad, ons Christene kan, ten spyte van swaarkry, getuig: “U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is” (Ps. 16:11). Dankie tog, Christus is ons Vreugde!

 

“Ons leef in ‘n wêreld van trane, sonde en dood, maar saam met God van onsterflike vreugde”

(Dwight L. Moody)

 

Gebed: Here, dankie dat ek bly mag wees. Dankie vir so baie dinge wat my bly maak: die mense wat ek liefhet, die natuur, musiek, vriendskap en dankbaarheid – maar veral U, want sonder U kan daar nie regte vreugde wees nie. Help my om U vreugde met ander te deel, selfs wanneer dit ook moeilik gaan. Laat ons steeds van blydskap straal omdat Uself die bron van blydskap is. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page