Gedagte vir Vandag
Maandag, 2 November 2026
Koos Espach
Moenie jou broer laat struikel nie (Rom. 14:13-23)
Lê vir mekaar geen struikelblok in die weg nie (8)
Omdat God my liefhet ...
Rom. 14:17-18 – “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.” (4).
Vergelyk ook Fil. 4:4 – “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Ons het Woensdag reeds opmerkings gemaak oor die “vreugde wat die Heilige Gees ons gee in die koninkryk van God”, maar glo Paulus wil ons nog iets leer. Die “vreugde” waarvan Paulus hier praat, is nie ‘n opgewektheid of blydskap wat oppervlakkig aangeplak word nie. Dit is ‘n blydskap wat die Heilige Gees aan ons Christen-familie gee, ‘n innerlike blydskap wat aansteeklik is vir almal rondom ons.
Ons is emosionele wesens. God het ons so gemaak. Daarom word ons maklik emosioneel beïnvloed deur die omstandighede om ons. Byvoorbeeld: Dit is moeilik om vreugde te ervaar as iemand naby ons in pyn is. Dis moeilik om vreugdevol te wees wanneer ons weet een van ons gesins- of familielede, selfs ‘n vriend, siek is. Ons voel bedruk as ons finansieel in die knyp is en ons pogings “to make ends meet”, net nie wil uitwerk nie. Ons sukkel om opgeruimd werk toe te gaan as ons werkgewer of een van ons kollegas gedurig daarop uit is om die wêreld vir ons moeilik te maak. Ons is mos maar net mense en op ’n manier is ons nie bly as negatiewe goeters aan ons deur kom klop nie.
Wat maak ons dan met die teks as donker wolke so gereeld op die horison verskyn? God sê deur Paulus vir ons om “met vreugde wat die Heilige Gees ons gee,” die lewe aan te pak. Terwyl hy in die tronk sit skryf Paulus aan die Filippense: “Wees altyd bly in die Here!” Hierdie paar woorde het nie eintlik enige uitleg nodig om dit verstaanbaar te maak nie. Selfs ‘n kind van graad een sal vir ons presies vertel wat dit beteken. Ek en jy moet bly wees. Vreugde moet uit ons borrel. Ons moet opgewonde wees. Ons moenie kan wag om by die deur uit te gaan en die lewe te gaan stormloop nie. Met ’n vuvuzela in die een hand en jou arm om jou beste pêl, juig ons saam dat die Bokke die All Blacks geklop het.
Maar kom ons keer gou vir ’n oomblik terug aarde toe, want vir seker weet ons dat dit nie aldag so is nie. Die Wallabies het ons twee weke later pak gegee. En die lewe wat ons elke dag leef, is te na aan die werklikheid waar vreugde eintlik meer gesteel as uitgedeel word. Wanneer ons om ons kyk, kan ons boeke skryf oor vreugde-diewe. Amper elke dag kan ek en jy ’n storie skryf van blydskap wat wéér by die deur uitgestap het.
Hoe werk dit? Is Paulus té idealisties? Het hy nie lekker gedink toe hy die sin geskryf het nie? Het hy vir ’n oomblik vergeet van die werklikheid? Of was hy eenvoudig net ’n beter Christen as die res van ons? Nee, inteendeel. Ek dink daar was nie ’n ou wat meer gekonfronteer was met die vreugde-diewe as hy nie. Hoeveel maal was hy nie vervolg en geslaan nie? Hoeveel maal was hy nie in die tronk gegooi nie? Paulus ken van donker wolke en stormsterk winde, maar tog sê hy: “Wees bly!”
Paulus se geheim is om te soek na blydskap wat nie afhanklik is van ons uiterlike omstandighede nie. Ons moet ons vreugde eerder in God soek. Wanneer ’n mens regtig die liefde wat God vir ons het, verstaan, kan ons te midde van die geswoeg, tog vol vreugde wees. Omdat God ons liefhet, raak Hy nie ongeduldig met ons nie. Omdat God ons liefhet, hou Hy ook nie boek van ons oortredinge wat Hy vergeef het nie. Hy vergeet daarvan. Omdat God ons liefhet, sê Hy nooit daar is nie meer hoop vir my en jou nie. Omdat God ons liefhet, laat Hy ons nooit in die steek nie. Omdat God ons liefhet, ondersteun Hy ons wanneer ons 'n punt van wanhoop bereik. Omdat God ons liefhet ..., se resultaat is vreugde in my en jou. En die vreugde in ons loop altyd oor na die ander rondom ons.
Die rede waarom Christene so vol vreugde kan wees, is omdat Christus gister gesterf het, vandag leef en môre weer kom. Ek en jy is die grootste van alle geskenke, ons ís God se volmaakte liefde. Wanneer ons lewe in God geanker is, vloei die Here se blydskap soos ‘n hemelse krag deur ons. Dit bring standvastigheid in ons, ‘n nuwe kalmte wat ons emosies onder beheer bring. Dit maak selfs dat ons by ander met pyn, gaan stilstaan en selfs ‘n traan saam met hulle stort terwyl ons vir hulle bid. “Omdat God my liefhet ...,” kan ons miskien uitknip en orals om ons opplak sodat vreugde deel van ons lewe kan word.
“Die Christelike vreugde is volkome onafhanklik van enigiets op aarde, omdat die bron daarvan die onafgebroke teenwoordigheid van Christus is” (William Barclay).
Gebed: Vader, so dikwels word my gemoed swaar omdat my vreugde gesteel word. Ek sukkel regtig hier. Ek wil weer lag. Ek wil weer oorloop van vreugde. Dankie dat U my liefhet. Amen.
Comments