Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 hours ago
- 3 min read
Vrydag, 27 Junie 2025
Koos Espach
ONS VERTREK VANDAG MET VAKANSIE EN SAL DV WEER DIE DAGSTUKKE VERSEND VANAF 21 JULIE 2025.
Die heerlikheid wat kom (3)
Leef soos kinders van God
Rom. 8:19 – “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is.”
Vergelyk ook 1 Joh. 3:1 – “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.”
Paulus hou vervolgens voor dat dit nie net ons gelowiges is wat met ‘n toekomsheimwee vervul is nie, die ganse “skepping is met gespanne verwagting vervul.” Wanneer daardie toekoms werklikheid word, sal God eerstens “bekend maak wie Sy kinders is.”
Die ware gelowiges, “almal wat Christus aangeneem het en in Hom glo” (Joh. 1:12), is nou reeds God se kinders. Hierdie feit is egter vir baie gelowiges nog versluier. Trouens, ons ervaar dit nog net in die geloof. Hoekom? Ons glo in God se Woord. Alles wat God sê, gebeur. Dit neem ons terug na die skeppingverhaal. Elke keer wanneer God geskep het, sê die Bybel: “Toe het God gesê: “Laat daar ...” en dan het dit gebeur. God het net gepraat, dan het dit gebeur, dan het Hy iets geskep. Sy Woord was genoeg!
Met presies dieselfde Woord, praat God weer. Hierdie keer sê Hy dat ons, dit is elkeen met ware geloof in God in sy of haar hart, sy kinders is. Daarom, omdat God sê ons is sy kinders, glo ons dat ons sy kinders is. Ons kan dit glo op grond van Jesus se kruisiging en opstanding. Dit is wonderlike genade wanneer God ons sy kinders noem. Niemand is vanselfsprekend sy kinders nie. Elke mens op aarde is ook nie ‘n kind van God nie.
Maar hoe gebeur dit dat ons wat hierdie woorde in ons vergelykende vers van 1 Joh. 3:1 lees en hoor, seker kan wees dat ons sy kinders is? God het sy eniggebore Seun na die aarde gestuur. Jesus Christus het mens geword (Joh. 1:14). Hy het ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Jesus Christus baie swaar gely en ‘n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy al ons sonde voor God weggeneem en ons met God versoen. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Hy het die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe by God verseker.
Jesus Christus, ons Verlosser, is die rede waarom God ons uit genade sy kinders noem! Ons leef nou elke dag onder God se sorg, sy liefde en sy genade. Die Heilige Gees in ons, gee ons hierdie sekerheid. “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God” (8:14). Dit is wonderlike genade om ‘n kind van die lewende God genoem te kan word, maar hierdie genade en sekerheid om ‘n kind van die hemelse Vader te wees, bring ook ‘n baie groot verantwoordelikheid mee.
Eerstens verwag God dat ons soos sy kinders sal leef. Hoe doen ons dit? Leef deur die Gees in ‘n innige verhouding met God – glo in Hom, wees lief vir Hom, wys ons liefde deur Hom te dien en te gehoorsaam. Moenie meer sondig nie. Veg met alles wat ons het teen die duiwel, die sondige wêreld en ons eie sonde. Deur die Heilige Gees wat ons lei, leef ‘n lewe van heiligmaking deur in alles nie na ons sondige wil nie, maar na God se wil te vra en sy wil te doen. Wees lief vir ander gelowiges, hulle is deel van ons geestelike familie. Word soos Jesus Christus!
Ons leef in ‘n tyd van losbandigheid en wetteloosheid. Elke dag sien en hoor ‘n mens meer as genoeg voorbeelde hiervan. Paulus het eeue gelede geskryf “ons leef in ‘n goddelose tyd” (Ef. 5:16). Die tyd het nie verander nie. Ons leef steeds in ‘n goddelose tyd. Ons is kinders van die lewende God, ons Vader in die hemel. Sy Seun het ons nuwe mense gemaak. Die Heilige Gees in ons lei en help ons om nuut te leef. Ons het elke dag met familielede van God se gesin te doen. Hoe tree ek en jy teenoor hulle op? God sê “Hy sal ons seën … ek en jy moet tot ‘n seën wees” (Gen. 12:2). Is ons dit?
“Die een ding wat ons almal as kinders van God vir ons hemelse Vader kan doen, is om lief te wees vir sy ander kinders” (Henry Drummond).
Gebed: Hemelse Vader. Ek aanbid U as die Bron van alle seën en liefde. Laat U liefde my dring tot wederliefde vir al U kinders. Amen.
コメント