Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 5 days ago
- 3 min read
Woensdag, 18 Junie 2025
Koos Espach
Lewe deur die Gees (12)
Die Gees bevestig aan Wie ons behoort
Rom. 8:16-17 – “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”
Paulus verklaar nou op ondubbelsinnige wyse die waarheid waarna ons smag dat “hierdie Gees saam met ons gees getuig dat ons kinders van God is.” Die Gees kom maak hierdie waarheid as’t ware aan ons harte vas. Die belang van hierdie waarheid kan nouliks oorskat word. Ons het nie eens enige ervaring, enige besoek van ‘n engel of ‘n droom nodig om ons kindskap van God te bevestig nie. Hoekom nie? Want die Gees van God, met ander woorde, God Sélf, kom bied ons die versekering wat ons soek. Hy verseker ons hierdie woord ís die waarheid, die waarheid wat ons vrymaak en ons deel gee aan die nuwe lewe saam met God.
Sjoe, om te dink hierdie nuwe lewe as kinders van God, het alles begin met Jesus se opstanding. Ek en jy kan daarom weet dat ons drie groot vyande, sonde, satan en die dood, eens en vir altyd verslaan is. Om alles te kroon is ons geestelike familie selfs belangriker as ons fisiese familie, want dit gaan vir ewig duur! Ons families is ‘n wonderlike gawe van God, maar hulle is net tydelik en broos en word dikwels deur egskeiding, afstand, ouderdom en oplaas die dood verbrokkel. Daarenteen gaan ons geestelike familie – ons verhouding met ander gelowiges – in ewigheid lank bly staan.
Die Hebreërskrywer sê: “Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader” (Heb. 2:11a). Die woord vader roep verskillende beelde by elkeen van ons op. Vir party roep dit ‘n wonderlike prentjie van liefde, deernis, respek en aanvaarding op. Ongelukkig verbind ander die woord vader met vrees, verwerping, mishandeling en teleurstelling. Maar, laat dié wonderlike waarheid insink: ek en jy moenie die begrip van ons hemelse Vader op ons slegte aardse ervaring grond nie, maar op ons ervaring in die lig van die Bybel.
Die Heilige Gees wil ons laat besef dat ons kinders van God is – “Hy getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Dit beteken om God werklik soos ’n kindjie aan te spreek en lief te hê, klein genoeg te wees sodat ons God kan aanroep soos ‘n kindjie met ‘Abba, Vader!’ Die hartseer is dat ons deur die lewe kan gaan sonder om vir God ooit as Vader aan te spreek. Die Gees se rol is om ons te leer hoe om te reageer op ‘n Vader wat net volmaakte liefde vir ons het, en hoe om soos ‘n Koningskind te leef.
Ons is in die Vaderhuis, ons is kinders van die Vader, ons hoef nie meer met slaweharte rond te loop nie. Ons kan nou daardie intimiteit met ons hemelse Vader ontgin. Om Hom te dien is nou nie meer ‘n plig nie, maar ’n voorreg; dis nie ’n móét nie, maar ’n wil; dis nie ’n saak van vrees nie, maar van blydskap en liefde. Ek gaan dan nie kerk toe omdat ek móét nie, maar omdat ek wil. Ek gee my dankoffer nie omdat ek bang vir God is nie, maar uit dankbaarheid en omdat dit ‘n voorreg is. Ek is nie ‘n getuie vir Christus omdat ek daartoe beveel word nie, maar omdat ek my Vader liefhet en ek van Sy alomteenwoordige en allesdeurdringende liefde wil getuig.
En dit terwyl ons ‘Abba, Vader,’ die intiemer sy van Homself wil kom wys, Sy arms uitsteek en ons op sy skoot kom tel, ons vashou en naby ons wil wees en sê: “My kind, Ek weet die lewe is soveel beter as jou Pappa naby is.” Om deel van God se gesin te wees, is die hoogste eer en die grootste voorreg wat ons ooit sal ervaar. Niks kom eens naby nie. Die “Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” en daarom sal Hy ons die dag wanneer ons onbelangrik, ongeliefd of selfs onseker voel, laat onthou aan Wie ons behoort!
“God is nie ‘n idee of ‘n definisie wat ons van buite geleer het nie: Hy is ‘n teenwoordigheid wat ons in ons hart ervaar” (Louis Evely).
Gebed: Hemelse Trooster, dankie vir U teenwoordigheid, ‘n teenwoordigheid wat anders is, soveel groter, soveel meer intiem en vertroostend. Dankie dat U my die versekering bied, die versekering wat alles oorskry: “Dat ek ‘n kind van God is!” Dankie Abba Vader dat U my deur Jesus, U kind gemaak het. Amen.
Comentários