Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 4 days ago
- 3 min read
Woensdag, 11 Junie 2024
Koos Espach
Lewe deur die Gees (10)
Die Gees bevestig my en jou se kindskap
Rom. 8:14 – “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”
In die gang van sy betoog, maak Paulus vir die eerste keer die nuwe verhouding van die gelowiges tot God, met die begrip “kinders van God,” bekend. Paulus sê “almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Dié leiding beteken dat die Gees die bestuur van mense se lewe oorneem en hulle God laat dien in die nuwe bedeling van die Gees.
Hoe beleef ons vir God? Ons hoor gereeld van iemand wat ‘n besondere ervaring van God beleef het, ‘n droom, ‘n gesig of selfs dat God met hom of haar gepraat het!? Miskien wens ons almal dat ons ook so ‘n ‘bonatuurlike’ ervaring mag hê, ‘n ervaring wat ons kindskap met God bevestig. Of dalk selfs meer as dit – iets wat die bestaan van God bevestig. Hoekom só iets wens? Ons weet mos God bestaan! Wel, nie almal dink so nie. Voltaire byvoorbeeld, was ‘n groot vyand van die Christendom en het by geleentheid gesê dat die teologie oor God verantwoordelik is vir fanatisme en twis. Dit het veroorsaak dat Christene wêreldwyd oor dié leerstellinge die stryd aangesê het en duisende hulle lewe verloor het.
Ander weer beleef dat God die “Grootbaas” is wat ons voortdurend met arendsoë dophou om te kyk of Hy ons nie kan uitvang nie. Hy is die Baas en ek en jy die slaaf wat net gehoorsaam en getrou vir Hom moet tevrede hou. Van kleins af word ons met die bangheid van ’n slaaf teenoor sy Baas grootgemaak – “as jy stout is gaan liewe Jesus ...!” Ons is bang ons stel Hom teleur, bang ons maak Hom kwaad. En wanneer dit moeilik gaan is ons gou om te sê: “Die ‘Oubaas’ praat weer hard met my!”
Verkeerd! Dit is hééltemal onbybels om God as ‘n familiêre ‘Oubaas’ of ‘Grootbaas’ of selfs ‘Baas’ te noem. Hy is die Almagtige God! God is die Bron van ons Gesag, Hy verdien respek! En terloops, God het laaste by Golgota hard gepraat toe Hy sy Seun aan ‘n vloekhout laat vasspyker het omdat Hy ons sondaars lief het! God is ‘n God van liefde! Dit is dus aangrypend wanneer Paulus skryf dat “God ons deur sy Gees laat lei.” En waar die Gees ons lei, is dit nie nodig vir oorloë oor leerstellige kwessies waarteen Voltaire dit gehad het nie.
Dit bring ons by die vraag: Wie is ek? Wie is jy? Dié vraag is so oud soos die mensdom. Omdat ons ‘n bewussyn ontvang het, onderskei hierdie vraag ons as uniek in God se skepping. Paulus sê “ons is kinders van God.” En ek glo hom! Ek en jy is wat God van ons dink en uit ons maak. God se oordeel, sy evaluering, roep ons tot ‘n bestaan en voortbestaan. Ek en jy is God se maaksels wat voor Hom, sáám met Hom, vrye ruimtes vind om te kan asemhaal. Ons is waardevol in God se oë. Ons kan met vreugde uitroep: “Ons is kinders van God wat deur die Gees in die hele waarheid gelei word” (Joh. 16:13a). Om God te ken en Hom as Sy kinders tot in ewigheid te geniet. Dis ék. Dis jý!
Die Gees lei ons weg uit die wêreld van sonde, weg van die begeertes van die vlees. Die Gees van die waarheid bring God se waarheid na my en jou. Agter al die werklike waarheid staan God. Deur die openbaring van die Gees maak Hy voortdurend die betekenis en belangrikheid van Jesus Christus vir ons verstaanbaarder. Die heerlike waarheid hiervan is die feit dat, of ons nog aardse ouers het of nie, ons is onlosmaaklik kinders van God. Ons staan in ‘n nimmereindigende verhouding met ons hemelse Vader wie se liefde vir ons allesomsluitend en ewigdurend is. Sy liefde sal ons, sy kinders, nooit laat los nie!
“Ons moet net gehoorsame kinders wees. Daar is leiding vir elkeen van ons, en deur nederig te luister, sal ons God se regte woorde hoor” (Ralph Emerson).
Gebed: Lei my om gehoorsaam te wees Heilige Gees, sodat my toewyding aan God al hoe dieper sal wees en ek al hoe meer sensitief vir sy wil sal word. Amen.
Comments