top of page

Gedagte vir Vandag

11 minutes ago
4 min read

Woensdag, 25 November 2026

Koos Espach


Moenie julleself behaag nie (Rom. 15:1-13)

Die evangelie is vir alle mense (2)

 

Ek doen nie ...

 

Rom. 15:7-9 – “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: ‘Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.” (2)

 

Vergelyk ook 2 Tim. 2:15 – “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ‘n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ‘n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie ...”

 

Die daaropvolgende riglyn wat Paulus aan ons voorhou om Jesus se voorbeeld te volg, is om diensbaar te wees. Hy sê hy bedoel dat “Christus gekom het om ... ‘n dienaar te word.” Ja, Jesus Christus het na die wêreld gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien. Die Kindjie van die krip sou ‘n bediende word. Hy sou sorg en versorg. En Hy sou sy destydse én vandag se volgelinge leer hoe om dit soos Hy te doen. Die Jode sou sy diensbaarheid sien en wonder of hulle in Hom moet glo – is die Gesalfde van God dan nie ‘n heerser nie? Die nie-Jode en ons van vandag sou na sy stories luister en sy wonderwerke sien en ons en hulle sal wonder of ons ook in sy goedheid mag deel?

 

En wat maak ons met Christus se voorbeeld om “dienaar te wees?” Nee, dis geen alles-sal regkom-gejuig of dis-iemand-anders-se probleem nie. Dit is om daadwerklik die voorbeeld wat ek en jy by Jesus as Dienskneg gekry het, uit te leef! Dit behels onder andere die aandra van ‘n stukkie brood; die aangee van ‘n sakdoek, die vasmaak van ‘n voorskoot ...! Ongelukkig is daar Christene wat eerder sit en kyk hoe ander die werk doen. Paulus spel vir ons in 2 Timoteus 2:15 dit uit dat God nie eintlik van banksitters hou nie: Dis ons verantwoordelikheid om “beskikbaar te wees vir God;” God het ons gemaak om “arbeiders te wees, dit dra sy goedkeuring weg;” ons “moenie skaam wees vir die werk wat God ons gee nie” – dis dan sy opdrag!

 

‘n Amerikaanse teoloog, Leonard Sweet, sê die wêreld is ‘n beter plek omdat Noag nie gesê het hy hou nie van arke en diere nie; Moses nie gesê het hy het geen erg aan Farao’s en uittogte nie; Rut nie gesê het sy en skoonma’s kom nie klaar nie; Dawid nie gesê het om reuse te vermy nie; Maria nie gesê het sy glo nie aan maagdelike geboortes nie; Paulus nie gesê het hy hou nie daarvan om briewe te skryf nie en; Jesus nie gesê het: “Jammer, ek doen nie kruise nie!”

 

Jesus leer ons om soos diensknegte te wees (Luk. 22:24-27). Hoekom moet ons Christene só optree? Want Jesus het presies dit gedoen. Hy was bereid om heelagter in die ry te kom staan om mense met sy lewe te bedien! Almal weet dat elkeen van ons gawes ontvang het waarmee ons op een of ander manier ander kan dien. Wat egter in die praktyk gebeur, is dat ons in plaas daarvan om te dink hoe ons ons gawes kan gebruik, eerder dink dat iemand anders dit sal doen – iemand wat meer tyd het, meer gawes het of sommer net meer lus het as ek.

 

Dit laat my dink aan die storie van die vier manne met die name: “Everybody, Somebody, Anybody and Nobody. There was an important job to be done. Everybody was sure that Somebody would do it. Anybody could have done it but Nobody did it. Everybody thought that Anybody could do it, but Nobody realised that Everybody would not do it. It ended that Everybody blamed Somebody, when actually Nobody accused Anybody.”

 

Ware diensbaarheid vra van my en jou die bereidheid om klein, eenvoudige takies vir ander mense te doen. Dit behels ook hulp aan diegene wat nie ons hulp verdien nie. Die verwagting egter is dat ons soos Jesus sal wees – gewillig om te doen waarvoor ander hulle neuse optrek. En nou dat ons so naby Kersfees is, is die oorvertel van die Ou Verhaal aan ons kinders en kleinkinders seker ook ‘n diens. Om te sê Christus het gekom en te sing oor die Kind wat gebore is, kan ons saam daaroor bly wees. Almal moet dit tog weet, “Christus het gekom om in belang van almal om ‘n dienaar te word,” al was ons nie daar nie!

 

“As jy doen wat jy kan, sal God doen wat jy nie kan nie” (Anoniem).

 

Gebed: Here Jesus, in daardie stille, heilige nag is U gebore, Hoop “wat Hom vir sy werk nie hoef te skaam nie.” U bly egter die Getroue dienaar wat elke dag ons bedien met net die beste. Help my asseblief om as dienaar in U voetspore te volg. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page