top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 4 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 25 Junie 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (2)


Die heerlikheid van God oortref alle lyding

 

Rom. 8:18 – “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (2)

 

Vergelyk ook 2 Kor. 4:16-17 – “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

 

Wanneer ons deur siekte, dood, sonde of wat ook al, gelouter word, is daar vertroosting by die Gees. Hy help ons wanneer ons ly en daarby moet ons onthou: Die kruisprys is vir ons as sondaarmense die grootste troos. Ons is vir éwig van sondeskuld verlos. Daarom kan ons juigend te midde van soveel ellende van ons daaglikse lewensbestaan, onder die warmte van God met ‘n glimlag leef. Ons kan met sekerheid weet dat die sin van alle lyding anderkant Golgota en die graf lê. “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

 

Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en ‘n oomblik te neem om na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal om ons te red! Dan kan ons saam met Paulus bly wees – “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk” (Kol. 1:24).

 

Ons as gelowiges in Christus, besit iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). 

 

Toe ek ‘n kind was, was ek doodbang vir die hel – die vuur wat tot in ewigheid brand. Gedurende my grootword-jare, het ek tydens swaarkry tye, myself gevind waar ek net vaskyk in die krisis hier voor my. Dis asof ek dan nie lekker kon dink of onthou van God se beloftes nie. Op my eie het ek dan daardeur probeer worstel. God belowe so baie dinge vir ons, maar ons mis dit, want ons ken nie God se beloftes nie, en indien ons dit ken, pas ons dit nie toe nie. Wanneer ons ’n opdraande slaan of in die knyptang van lyding gedruk word, sukkel ons om staande te bly, omdat ons dit belofteloos en alleen probeer uitswoeg.

 

Wanneer ons daardie moedelose opdraandes van die lewe moet aanpak en wonder wanneer dit gaan ophou, weet dan, dit gaan ophou. Luther het gesê: “Lank is nou wel lank, maar dis lank nog nie so lank soos ewig nie.” God het op Paasmôre die onsin van lyding en dood die nekslag toegedien! Die lyding sál eendag ophou. “Daar sál ‘n toekoms aanbreek waarin die heerlikheid wat God beloof het, die lyding wat ons nou moet verduur, totaal sal oortref.” Al wat Jesus vra is dat ek en jy ons lewe vir Hom moet gee. "God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29).

 

Die wêreld kan maar alles in die stryd werp om te steel en te verower van ons gelowiges, hulle sal nooit slaag om die hemel van ons af weg te neem nie. “Ons is erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid” (Rom. 8:17b). Ons gelowiges se oë is gevestig op God se toekomsbelofte, nie op korttermyn resultate nie. Die lewe kry dan sin en betekenis, met sy soet en suur, hartseer en trane. Ons leef nou in genadetyd, God se tyd. Is jy ook bang vir die hel? Moenie wees nie! Jesus Christus wás al daar – om my en jou daar uit te hou!

 

“Lyding is ‘n vorm van die lewe wat geneig is om jou op jou rug te laat beland. Die voordeel is dan dat jy dan net kan opkyk – Boontoe!” (Fulton John Sheen).

 

Gebed: Hemel Vader, soms voel ek platgeslaan en wil moedeloosheid, beheer van my neem. Dit is dán wanneer U my weer op my knieë bring, die beste plek om te wees om met U te kan praat en na U te luister. Dankie dat ek dan kan opkyk na U toe en kan straal van blydskap want U vertroos my eerder as om my te verstoot. Help my om passievol aan U vas te klou. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page