top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Jun 2
  • 4 min read

Maandag, 2 Junie 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (8)

 

Leef voluit in ‘n stukkende wêreld

 

Rom. 8:10-11 – “10 Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11 Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

 

Vergelyk ook Joh. 16:12-13a – “12 Ek (Jesus) het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13 Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”

 

Ons leef vandag in moeilike en gevaarlike tye. Iemand het selfs bygevoeg dat hierdie tye waarin ons tans leef, nie Christen-vriendelik is nie! Talle mense voel asof al die sprankel uit hulle lewe verdwyn het. Dit blyk asof neerslagtigheid die mense beroof van alle sin en waardes en hulle bestaan, oorgeneem is deur oorweldigende omstandighede, soos finansiële probleme, om maar net een voorbeeld te noem. Ons leef in ‘n tyd waar dit blyk dat goeie nuus net nie meer bestaan nie. Talle mense huiwer op die grens van wanhoop en die redes daarvoor is legio.  

 

Die vrae kom onvermydelik: “Is dit nie omdat die evangelie van Jesus Christus goedkoop geword het nie?” “Woon die Gees van God (werklik) binne ons”, nog meer, “is Christus in ons”, soos Paulus sê? Is ons Gees-beheersde mense? Op die oog af lyk dit nie so nie. Alles word verdra – waarheid, leuen, valse leermeesters, goed, kwaad, satanisme, towery, homoseksualiteit, moord, misdaad, afgodery, korrupsie. Die lys is oneindig. Daar is ruimte vir alles, en almal mag praat, al is dit met geweld! Almal het ‘n reg en almal is reg. Die waarheid het ‘n relatiewe begrip geword en die grens tussen reg en verkeerd het vervaag.

 

Die fokus het van God na die mens verskuif – die self het “god” geword wat sy eie ding doen op sy eie manier en volgens sy eie wil en gewete – die klem van Jesus wat die Weg, Waarheid en Lewe is (Joh. 14:6), is verskuif na die mens met sy of haar eie wil. Om Jesus te volg in hierdie tyd het feitlik onmoontlik geword. Het dit nie miskien tyd geword om terug te draai na die God van die hemel toe nie? Het dit nie tyd geword dat ons weer die “Gees van die waarheid, moet toelaat dat Hy ons in die hele (en enigste) waarheid lei” nie?

 

Ons kan egter dan nie bly waar ons is as ons saam met die Gees wil gaan nie, ons moet in gehoorsaamheid volg. Ons moet bereid wees om ons oor te gee aan God se planne en aanpas by Sý metodes. Abraham kon nie in Ur bly én die geloofsvader van almal word nie; Moses moes alles net so in die woestyn laat staan om die Farao te konfronteer; Dawid moes sy skape los om koning te kon word; meeste van die dissipels moes hulle vissersbedryf verlaat om apostels te word; Paulus se vervolging van gelowiges het verander na gelowige volgeling!

 

God vra van elkeen van Sy kinders om aanpassings te maak, Hy het selfs van Jesus ‘n aanpassing gevra: “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van ons arm geword, sodat ons deur Sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9). “Omdat Christus in ons is, gee die Gees aan ons die lewe op grond van God se vryspraak.” Jesus Christus is die Krag vir ons lewe, vir die stryd teen die bose – Jesus is die Noodkreet vir ons sekuriteit, ons veiligheid en Voorsiener van ons behoeftes! Kies Jesus!

 

Wanneer ek en jy dalk voel asof al die sprankel uit ons lewe verdwyn het in hierdie moeilike tye waarin ons leef, het ons ‘n motiverende Krag nodig om ons uit die ‘donker put’ uit te lig. Ons kan dit regkry wanneer ons die genadige krag en invloed van die Heilige Gees toelaat om beheer van ons gees in besit te neem en sodoende die lewende Christus opnuut weer, ‘n werklikheid laat word. Om dit te kan ervaar, is dit nodig om ‘n diepe verhouding met Christus te ontwikkel in gebed en meditasie. Elkeen van ons het soms opknappingswerk nodig. Deur Christus te vra om ons geloofspad op te gradeer, gaan vir ons nuwe krag in ons lewe laat invloei. Nuwe vreugde en geluk gaan weer ons deel wees “omdat Christus in ons is!” Kies Jesus - elke dag! 

 

“Dit is onmoontlik vir ons om te wanhoop wanneer ek en jy onthou dat ons Helper almagtig en alomteenwoordig is” (Jeremy Taylor).

 

Gebed: Heilige Jesus. Ek dank U dat U deur u Gees in my leef en werk. Vergroot asseblief my vertroue en geloof in U alomteenwoordigheid, elke dag. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page