top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • May 30
  • 4 min read

Vrydag, 30 Mei 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (7)


Gees-beheersde mense – gelei deur ons Gids

 

Rom. 8:9 – “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

 

Paulus herinner ons dat die voortgaande mag wat die wet van sonde en gevolglik die dood, oor ons lewens het, nie die finale woord spreek nie, want “ons word nie deur ons sondige natuur beheers nie.” Daarom is dit nie bepalend vir ons posisie voor God nie – ons is nie meer “vlees-beheersde mense” nie, maar “Gees-beheersde mense.” Die verskil is dat ons “in Christus Jesus” is, “want die Gees van God woon in ons.”

 

Alles vind plaas omdat die Heilige Gees in ons kom woon het. Omdat “die Gees van God in ons woon,” gee dit aan ons die versekering dat die eindresultaat vryspraak is. Maar solank as wat ons deel is van hierdie sondige wêreld, bly dit ‘n ewige stryd. Daarenteen, vir ons wat ons verlaat op Jesus Christus, spreek hierdie wet nie die laaste woord nie. Die voorbehoud bly natuurlik dat “as iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy (of sy) nie aan Christus nie”, en “kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3b).

 

Meeste mense van hierdie sondeverskeurde wêreld is uiters moeg en verward. Dit mag dalk wees dat hulle onbewus is van die feit dat hulle ‘n keuse het tussen twee soorte lewens. Eerstens verkies hulle om eerder voort te ploeter en te sukkel deur ‘n sondige bestaan wat net wentel om hulleself, as om ‘n keuse te maak om God se beproefde pad te neem. Hulle wil nie besef “hulle word nie deur hulle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees.” Hulle erken God van tyd tot tyd maar God en Sy liefde speel ‘n geringe rol in hulle dade en denke. Sonder dat hierdie mense dit besef, bring die verkeerde pad waarop hulle beweeg slegs tydelike bevrediging.

 

Wat is die oplossing? Wanneer ons op die verkeerde pad is, het ons verdwaal en later só verdwaal dat ons nie ‘n idee het waar ons is nie. Om te verhoed dat ons verdwaal, moet ons ‘n goeie GPS byderhand hê of ten minste iemand wat die pad ken. Wel, elke Christen hét presies so ‘n gids: die Heilige Gees! Paulus sê dat ons Gids, die Heilige Gees, ‘n hemelse geskenk is – “die Gees van God woon in ons.” En sy werk in ‘n neutedop, is om ons veilig en behoue by ons eindbestemming uit te bring.

 

Gelukkig vir ons is die Gees die heel beste Gids in die heelal. Hy ken die pad vorentoe na die eindbestemming toe. Hy ken ook al die afdraaipaadjies, al die klippe en selfs die potholes. Hy weet presies hoe om hierdie struikelblokke te vermy. Hy hou ons op God se pad – die smal pad (vgl. Matt. 7:13-14). Hy weet dit is nie maklik om ons op daardie pad te hou nie. Maar omdat dit sy spesialiswerk is, sal Hy alles in sy vermoë doen om ons op daardie pad te hou, want dit is die pad met ‘n hemelse bestemming. Dit is die veiligste pad. Dis gebou met Jesus se bloed!

 

Ja, soms twyfel ons of dit alles die moeite werd is. Die breë pad lyk so aanloklik en daar is ‘n massa mense op daardie pad. Hulle kan tog nie almal verkeerd wees nie? Daar is sekerlik ook Christene op daardie pad en dit lyk asof hulle dit geniet. Is die Bybelse eise om die hemelse bestemming te bereik nie te hoog nie? Dalk raak my en jou kragte te min en haal ons buitendien nie die eindpunt nie. Dalk was Paulus nie ernstig toe hy geskryf het “as iemand die Gees van Christus nie het nie, kan hy nie aan Christus behoort nie.” Watter wet is dit? Die wet van gehoorsaamheid – wees dus Gees-beheers, Christus-gesentreerd en God-gefokus! 

 

Die goeie nuus is dat die Gees van God wat in ons woon, elke tree ons metgesel is. Hy gee nooit moed op nie. Hy bly deur dik en dun by ons. Hy keer dat ons verdwaal. Maar om nie te verdwaal nie, moet ons as Gees-beheersde mense ‘n behoorlike geestelike GPS byderhand hê – ons moet God se Woord byderhand hê. Die Woord is die Gees se wapen om ons Christus-gesentreerd en God-gefokus te hou! Psalm 119 is maar net een gedeelte wat dit bevestig – die Bybel is die lig wat vir ons voete wys waar om te trap, en die lamp wat die pad voor ons uit verlig. Ek en jy moet net fyn luister na ons Gids en nie afdraai na die sondepaadjies nie, dan sal ons die eindbestemming haal. Dit is immers die ewige bestemming.

 

“I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us” (Anne Lamott).

 

Gebed: Gees van God, ek bid vanoggend vir almal wat steeds voortploeter deur die lewe van verkeerde keuses. Hef hulle denke op, verander hulle sienswyse, sodat hulle in volle harmonie met U o Gees, sal lewe. Amen.

 
 
 

Comentários


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page