top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Jun 13
  • 4 min read

Vrydag, 13 Junie 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (11)

 

Pappa God


Rom. 8:15 – “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.”

 

Vergelyk ook Gal. 4:3-6 – “3 Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls. 4 Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur... 5 om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. 6 En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken Vader!”

 

Ons het Woensdag gesien dat die Gees my en jou in die volste sin lei om kinders van God te wees. Die goeie nuus is dat die Gees nog meer doen. Dit sou nie veel help as ons wel kinders geword het, maar nog steeds met slaweharte rondloop nie. Dit is immers die Gees “wat ons tot God laat roep: “Abba!” Die Gees wat nie ‘n slawegees is nie, maar die Gees van kindskap, skep in ons ‘n kindergesindheid wat ons tot God laat roep: “Abba!” Die feit dat ons God as “Abba” mag aanspreek, beklemtoon hoe naby Jesus, die Vader regtig aan ons gebring het – as gelowiges staan ons in die intiemste kring van ons “Abba, Vader!” 

 

Dit beteken dat my en jou verhouding tot God nie dié van ‘n slaaf is wat vir sy eienaar bang is nie, maar ‘n kind wat sy pa van harte respekteer en liefhet. God is nie Baas en ons slaaf nie! Slawe doen goed omdat hulle moet, nie omdat hulle wil nie. Daarom is daar baie kinders van die Here wat ’n klomp goed doen omdat hulle dit maar móét doen – ons móét maar kerk toe gaan; ons móét maar Bybelstories lees; ons móét maar bid as ons iets benodig; ons móét maar ons kinders laat doop; ons móét maar belydenis van geloof aflê; ons móét maar ons dankoffer gee; ons móét maar gelowig wees; ons móét maar ...! – ‘n menigte dinge wat ons maar móét doen.

 

Nee! Hoe ek en jy oor onsself dink in hierdie verskeurde wêreld, is van kardinale belang. Slawe móét, kinders wil! Daarom raak dit vir ‘slawe’ van die Here op ’n stadium te erg. Wanneer ons minderwaardig soos ‘n slaaf voel en geen vertroue in ons eie vermoëns het nie, sal ons altyd voel daar ontbreek iets in ons lewe. Dan bestaan ons lewe uit “ons-moet-maars”, en dit eis sy tol. Sommige verflou in hierdie slawe toewyding, ander ‘slawe’ dros en raak weg of afwesig, ander verlaat bloot net die huis. Ander hunker ook dat hulle ‘n besondere ervaring van God moet hê, God wat met hulle moet praat, ‘n ‘teken’ dat God ook in hulle belangstel.

 

God se ‘teken’ is die kruis van Christus wat twee duisend jaar gelede al daar by Golgota vir die wêreld gegee is. Ons hemelse Vader was gewillig om enige prys te betaal om ons te red. Dankie tog, nou is die kruis leeg en die hemel vol! Die kruis is ‘n bewys van God se ongelooflike liefde en van die skrikwekkende prys wat Sy liefde die hemel gekos het. Ons het nie enige besoek van ‘n engel of ‘n gesig of besonderse ervaring nodig, om ons te verseker van ons kindskap van God nie. Die Gees van God, met ander woorde, God self, kom bied vir ons die versekering waarna ons soek: “(Ons) het die Gees ontvang wat (ons) tot kinders van God maak.” 

 

En skielik het elkeen van ons gelowiges ‘n liewe Abba Vader. Sjoe, wat ‘n voorreg! Ons hemelse Vader is altyd reg om in ons behoeftes te voorsien (Luk. 11:11-13). Hy het ons só lief dat Hy gewillig is om ons te tug om ons Christelik volwasse te laat word (Heb. 12:5-10). En bowendien, maak Hy nie ons liefde vir Hom, ‘n voorwaarde vir sy liefde vir ons, of ‘n klomp moet-maars nie; Hy het ons eerste liefgehad (1 Joh. 4:19). Dis hoe ons hemelse Vader is. Die vraag is hoe ek en jy voor God staan? Is ons kinders wat fluister: “Ons liewe hemelse Pappa ...?”

 

“Dat God Hom in die gelykenis van die verlore seun aan ons voorhou as ‘n wagtende Vader wat weier om sy skande-maker kind te onteien, maar eerder die toiingrige vent tegemoet hardloop, is ‘n Vader van wie ons nie kan wegbly” (Adrio König).

 

Gebed: Ek dank U, Vader vir u Seun. Ek dank U, Jesus, vir u lewe. Ek dank U, Gees van God, vir my lewe. Dankie dat ek elke dag deel kan wees van U hemelse gesin. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page