Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 8 hours ago
- 3 min read
Maandag, 23 Junie 2025
Koos Espach
Die heerlikheid wat kom (1)
Die Gees bring troos
Rom. 8:18 – “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (1)
Ons moet in gedagte hou dat die “lyding” waarvan Paulus hier praat, direkte lyding is wat ons as gelowiges as gevolg van ons getuienis vir die evangelie moet verduur (vgl. Matt. 5:10-12). Tog dink Paulus in hierdie hoofstuk in sóveel verskillende dimensies, dat ons kan aanvaar dat dit ook alle lyding van ‘God se mense’ insluit. Iemand het gesê ons leef vandag, meer as ooit tevore, in moeilike en gevaarlike tye, tye van ‘n stormgeteisterde geloof – mense wat vervolg word oor die evangelie van Jesus Christus.
Maar, kan ons meer ly as ons Here Jesus Christus? Ek meen, God se Seun het neergedaal na die hel! Dit is immers wat ons gelowiges Sondae in meeste van die gevestigde kerke bely. Sy geboorte in ‘n stal sê profeties vir ons hoe onwelkom Hy was; en Hy moes na Egipte vlug om Herodus se kindermoord vry te spring; Sy ouers en broers skaam hulle vir Hom; Sy eie mense wil Hom stenig omdat Hy sê Hy en sy Vader is één; een van Sy naaste vriende verraai Hom; en Hy word onskuldig ter dood veroordeel, wreed gemartel en opgehang soos ‘n vervloekte; en Hy sterf en word begrawe sonder seremonie – as dit met God gebeur, dan is dít hél!
Al is ons gelowiges deur Christus van die vloek van die sonde en dood verlos, is ons gedurende ons aardse lewe nog steeds onderworpe aan die gevolge van die sonde, aan lyding en dood. Ons lewe op ‘n aarde wat swaar dra aan sy verlede, wat volgens menigte mense se oordeel, in elke opsig gebroke is, wat verskeurd is, en die mense wat daarop woon, stukkend is.
Dit is ‘n aarde vol dorings, distels, oorstromings, hongersnood, hartseer, kommer, en die dood. ‘n Aarde waar ons bekommerd is oor môre, waarin baie bekommerd is of daar môre iets gaan wees om te eet of te drink, bekommerd is oor ons kinders, wat van hulle gaan word en of hulle veilig is. Ons lewe op ‘n aarde waar tyd so ongelooflik belangrik is. Meeste mense ken droefheid en pyn, maar die Here het vir ons die Gees, die Trooster, gestuur om gebrokenes van hart te heel, al die wonde te verbind van almal met swak gemoedere en ‘n nuwe dag te beloof, ‘n dag waar “God vir ons die heerlikheid van die toekoms sal laat aanbreek.”
“Die lyding wat ons nou moet verduur”, het ons by die Gees van God, ons Trooster, uitgebring! Ons het soos die verlore seun vertroosting in God se omhelsing gevind. Hy het ons kom toevou met Jesus se kruisliefde! Daarom is dit ons eie keuse of ons gelukkig wil wees om ons hartseer na God toe te bring, of eerder ons vertroosting by iemand of iets anders of op ‘n ander plek te gaan soek. Een ding is seker, “dit weeg nie op teenoor die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
In hierdie sondedeurdrenkte wêreld het elke mens sy of haar eie kwota aan lyding. Die feit dat droefheid, lyding en pyn ‘n werklikheid in hierdie gebroke wêreld is, is die vertrekpunt in die Heilige Gees se leerskool van genade, liefde en gemoedsrus. Ons liefde vir God is ongelukkig nie ‘n waarborg dat ons kommervry deur die lewe sal gaan nie. Lyding en dood is ook nie ‘n teken dat God ontevrede is met ons en ons wil straf nie.
Die doel van hierdie lewe is om my en jou vir die ewigheid voor te berei. Wanneer ons harte gebroke is en ons lyding op sy ergste is, wil ons nie teologiese verklarings of redenasies aanhoor nie. Maar gelukkig het ons die genesende teenwoordigheid van die Heilige Gees by ons. Hy weet en verstaan. Hy leer ons om droefheid en lyding te hanteer. God vertroos Sy kinders wanneer ons na Hom soek. Hy stel ons nooit teleur nie want “Hy is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses” (Ps. 34:19). Hy hou my en jou vas, styf teen sy bors.
“Daar is geen kroondraers in die hemel wat nie op aarde kruisdraers was nie” (Charles Spurgeon).
Gebed: Dankie Vader dat U my vashou. Gees van vertroosting, dankie dat U deel in my lot wat soms vol smart en lyding is. Ek loof u heilige Naam daarvoor in Jesus Christus. Amen.
Comments