top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 2 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 4 Junie 2025

Koos Espach


ONS VERTREK VANDAG OP ‘N KORT VAKANSIE EN SAL DV WEER 11 JUNIE DIE DAGSTUK VERSEND. 


Lewe deur die Gees (9)

 

Die Gees se leiding

 

Rom. 8:12-13 – “12 Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teen ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13 As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

 

Iemand wat geestelik dood is, is glad nie bekommerd oor die Here of sy gebooie nie. Indien ons wel bekommerd is, is dit in wese ’n sterk getuienis dat ons ‘lewend’ gemaak is deur die Heilige Gees en dat Hy in ons woon en werk. Daarom is God se wil vir ons belangrik. Daarom kies ons elke dag vir Jesus. Daarom worstel ons met ons sondige natuur en begeer ons om oorwinning oor ons swakhede te verkry en beter te leef: “Daarom dan, broers (en susters), staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teen ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie.” 

 

As mens is ons gedurig op soek na iets. Die antwoord om dit te vind is eenvoudig, eintlik “staan ons onder ‘n verpligting” om weer standvastigheid in die lewe te soek – geestelike standvastigheid! En hier kan die Heilige Gees ons help om te besef dat Jesus Christus genoeg is. Jesus Christus is die behoefte wat ons het, nie baniere wat dit uitskree “GENOEG IS GENOEG” nie.

 

Daar is werklik net één manier waarop ware oorwinning moontlik is, maar ons kan dit nie alleen vermag nie. Paulus sê “as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hoe maak ons ‘n einde aan ons sondige praktyke? Ongelukkig is dit nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie. “’n Einde maak” kom in ons huidige lewe nooit klaar nie want die stryd tussen die Gees en die menslike vlees, hou nooit op nie. Iemand het op ‘n keer gesê: “Dit het die Here een nag geneem om Israel uit Egipte te kry, maar dit het Hom veertig jaar geneem om Egipte uit Israel te kry.”

 

Met die vlees gaan dit nog erger. Dit alles neem egter nie weg dat ons op die oorwinningspad kan en behoort te vorder nie. God is onvermoeide geduld, Hy is genade; Hy is die goedheid vanself en universele liefde, sê Andrew Murray. Hy vind vreugde daarin om die kwaad met die goeie te vervang. Die geheim is dat ek en jy in voortdurende afhanklikheid van Hom moet wees – deur sy Gees sal Hy ons oorwinnaars maak. Dit gebeur nie eers eendag nie, nee, dit begin hier en duur voort totdat dit uitmond in die ewige lewe.

 

Ja, dis nie maklik nie. Ons geloofslewe is ‘n stryd, maar dis ‘n goeie stryd: “In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal” (1 Tim. 6:12). Dit laat my dink aan die grappie van die muis en die olifant wat oor die brug gestap het. So halfpad deur sê die muis vir die olifant: “Nou laat ons die brug darem lekker dreun!” So ’n kordate muis. Net so moet ons ook deur die wêreld stap. Ons moet ook kordaat wees en weet ons kan enige iets stormloop. Nie omdat óns so goed is nie. Nie omdat óns so sterk is nie, maar omdat ons God en Vader so sterk is.

 

Hoe gaan die kinderliedjie nou weer? “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen ...!” En dis ons Vader. Daar is niks in die wêreld wat Hom kan stuit nie. Geen mag, geen krag. Die ou wat die naaste hieraan kon kom, was die vervalle engel en vir hom het Jesus aan die kruis uitgesorteer en sy angel getrek.

 

Watter berg is voor my en jou? Hoe steil en onmoontlik lyk dit vir ons? Wel, daar is iemand wat ons daar kan uithelp. God moet deel van ons lewe wees, sodat Hy elke stryd saam met ons kan stry. Ons kan ons sondige praktyke na God toe neem. Verander die speelterrein en neem dit na die terrein waar die duiwel reeds oorwin is. Neem dit na die Sterkste in die heelal. By Hom is daardie probleempie net so groot soos die muis vir die olifant is.

 

Ek en jy put ons krag uit die Heilige Gees van God. Daarom kan ons sy beskerming rondom ons voel. Daarom kan ons altyd weet dat ons God die grootste is. Daarom kan ons paraat wees soos die muis. Nie omdat ons so slim is nie, maar omdat ons God en Sy Seun Jesus aan ons kant het en ons altyd sal help. Al wat ek en jy moet doen is om ons in kinderlike vertroue oor te gee, sodat ons deur die Gees van God gelei kan word om ‘n einde te maak aan ons sondige praktyke, en ons sal lewe!

 

“Ons moenie tevrede wees om slegs van sonde gereinig te word nie; ons moet vervul word met die Heilige Gees” (John Fletcher).

 

Gebed: Ek dank U Vader dat U my Kragbron is. Lei my deur u Gees om op ‘n hoër geestelike vlak te leef. Neem asseblief die inisiatief in my lewe. “Laat ek deur die Gees ‘n einde maak aan my sondige praktyke, sodat ek kan lewe.” Neem al my selfsugtige en selfgerigte planne weg en vervang hulle weer met U planne en doelstellings. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page