top of page

Gedagte vir Vandag

9 Okt 2020

Koos Espach


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN. (Matt. 13:54–16:20)

DIE SUURDEEG VAN DIE FARISEËRS EN DIE SADDUSEËRS (1).

(Mark. 8:14-21; Luk. 12:1)

ONREIN SUURDEEG VS DIE BROOD VAN DIE LEWE!

Matt. 16:5-7 – “Die dissipels het na die oorkantste oewer toe gegaan, maar vergeet om brood saam te neem. Jesus het vir hulle gesê: ‘Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs.’ Hulle het toe met mekaar daaroor gepraat en gesê: ‘Dit is omdat ons nie brood saamgebring het nie.”

Vergelyk ook Joh. 6:47-51 – “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is My liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Jesus het ná Sy konfrontasie met die Fariseërs en Sadduseërs, hulle daar in Magadan gelaat en weggegaan (v. 4b). Matteus meld nie waarheen Hy gegaan het nie, maar die dissipels vaar oor na die oorkantste oewer en sluit by Jesus aan. Die vertrek het blykbaar met haas geskied want hulle het nagelaat om voorsiening te maak vir brood. Jesus waarsku die dissipels teen die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs, bedoelende die invloed van hulle onsuiwer godsdienstige beskouinge, maar veral van hulle leefwyse en voorbeeld. Die valse vroomheid, agterdog en ook leer van die godsdiensleiers, werk aansteeklik, en kon selfs die dissipels aantas en afvallig maak.

Dit is opmerklik dat die dissipels wat nou al vir geruime tyd saam met Jesus beweeg het, steeds so min begryp. Hulle begryp nie Jesus se beeldspraak oor die suurdeeg nie, en toe Hy daaroor praat, sien hulle dit as 'n verwyt omdat hulle nie brood by hulle gehad het nie. Hulle het die juiste betekenis van die woorde nie begryp nie en meen dat hulle berispe word omdat hulle geen padkos saamgeneem het nie.

Hoe goed verstaan ons Jesus? Verstaan ons dat Hy in Sy woorde en dade die padteken van ons hele lewe is? Is ons oë gerig in alles wat ons beleef en ervaar op Jesus as die Leidsman van ons geloof? Selfs die dissipels wat baie naby aan Jesus geleef het, het Hom dikwels misverstaan, soos hier. Hulle dink baie aards van Jesus, bekommer hulle oor aardse dinge soos brood en dink te min van sy mag en verwag te min van Hom in die geloof. Gaan dit nie vir ons ook maar dikwels om ons aardse bekommernisse, eerder as wat Jesus vir ons kan doen nie?

Figuurlik gesproke, behoort die dissipels nie bekommerd te gewees het nie, hulle het die “Brood van die lewe” by hulle. Volgens Johannes se evangelie, verklaar Jesus uitdruklik dat “Hy die lewende brood is wat uit die hemel gekom het.” Jesus wil ons verseker dat elkeen wat na Sy prediking luister, sal verstaan dat Hy die “lewende brood” is en nie net “brood wat liggaamlik iemand aan die lewe“ hou nie. Hierdie Brood voed die lewe, maar dit het ook lewe in Homself. Jesus het eenmalig uit die hemel gekom om Sy lewe met ons te deel, en daarom het elkeen wat Jesus as die brood van die lewe deur die geloof aanvaar, die ewige lewe as sy blywende erfdeel!

Trouens, Jesus skep die moontlikheid om die ewige lewe te verkry, vir alle mense. Elkeen wat Jesus as Verlosser aanvaar deur in Hom te glo, kan van hierdie “lewende brood” eet, daardie spesiale brood: die liggaam, die vlees van Jesus. Dit is die keuse waarvoor Jesus elke mens plaas: Gaan ek en jy van die “hemelse brood” eet en só die ewige lewe verkry, of sal ons eerder hou by ons aardse voedsel van gemorskos, gevriesde kos, babakos of kitskos?

“God forseer nie Sy wil op ons af nie, Hy waarsku ons egter dat ons die gevolge van ons keuses sál dra” (Prof. Stephan Joubert).

Gebed: Jesus, Brood van ewige lewe, dankie dat U al ons geestelike behoeftes vir altyd bevredig. Dit is die behoefte van my hart om voortdurend by U oneindige reserwebronne, krag te put, nie net om die behoeftes van my liggaam te bevredig nie, maar omdat ek ‘n ewigdurende behoefte aan die Brood van die lewe het, want dáár vind ek die lewe van oorvloed en ewigheid. Amen.

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page