top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 3 days ago
  • 4 min read

Woensdag, 21 Mei 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (3)


Ons is nou vrygemaakte mense


Rom. 8:1-4 – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2 Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde. 4 Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”

 

Vergelyk ook Joh. 5:24 – “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan”

 

Ons gelowiges is vrygemaak want die Heilige Gees bewerk weergeboorte, lei ons in ons poging om te verstaan hoe God wil hê ons ons lewe moet inrig en met daardie inligting tot ons beskikking, dit kan toepas in ons lewe. Ons is nie net vrygemaak van die straf van die sonde nie, dit is die ewige dood, ons is ook vrygemaak van die mag van die sonde. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie”, want ons is vrygemaak om die wet uit te kan leef.

 

Baie mense leef hulle lewe lank in vrees vir die oordeel van God. Hulle raak neerslagtig want hulle is daarvan oortuig dat God die hele tyd sit en wag dat hulle ‘n misstap begaan, sodat Hy hulle kan straf. So ‘n beeld van God maak van godsdiens ‘n las en skep ‘n vernietigende gesindheid teenoor die lewe. Net omdat ons nie waardering kan vind vir dit wat God geskep het nie. Dit voel asof ons lewe een sieldodende roetine is. Wanneer iets opwindends in ons lewe gebeur, dan onderdruk ons dit want ons is bang vir God wat al hierdie pragtige dinge geskep het.

 

Dit is ‘n opperste tragedie wanneer ons op hierdie manier deur die lewe reis. ‘n Toenemende alledaagsheid oorval ons en niks kan ons verander om positief te raak nie – en dit terwyl die vryheid wat die Heilige Gees skenk, ons s’n kan wees. Wanneer die Gees van God in ons lewe inkom en ons Hom toelaat om beheer oor te neem, kan ons radikale veranderinge verwag. Wanneer die Gees van God my en jou begelei, word ons “lewe nie meer deur jou sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees.” In hierdie konteks veroordeel Christus ons nie meer nie, maar Hy eis onverdeelde getrouheid.

 

Ons het nou ‘n doel in die lewe, ons is bevry van die dodelike vrees van God se oordeel, ons is nou “in Christus Jesus.” Hy het self gesê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan”. Jesus het hiermee met groot nadruk ’n sentrale waarheid uitgespreek ten opsigte van die redding van die mens en dit geld vir elkeen wat eintlik weens die sonde dood is onder die oordeel van God.

 

Die weg tot redding is egter moontlik deur die eenheid van Vader en Seun. Vir die redding stel Jesus twee vereistes wat wesenlik op dieselfde neerkom. Die eerste is om te “luister na wat Hy sê”. Ons gelowige aanvaarding van die blye boodskap van verlossing wat Jesus kom verkondig het, is die eerste tree op die pad na die ewige lewe. Maar daar is ook ’n tweede, en dit is om “in Hom te glo wat Jesus gestuur het.”

 

Wanneer ons “luister na wat Jesus Christus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons in ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ons onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Ons leef dan nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Die doelstellings wat ons so naarstigtelik nagejaag het, lyk skielik nie meer so belangrik nie. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”

 

Watter wonderlike belofte en versekering dat óns, as ons “na die woorde van Jesus luister en in Sy Vader glo,” nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het! “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

 

“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ...! Ware geloof is nie om hemelpastei te eet nie; dit is om kruis te dra. Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).

 

Gebed: Dankie Here vir U genade. Dankie dat U my vrygemaak het van die straf én van die mag van die sonde. Dankie dat U my bevry het van die aftakelende vrees, dat ek vry kan wees om die wet uit te leef, om U te kan dien en dáárin sin en betekenis in hierdie lewe kan vind. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page