top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Vrydag, 23 Mei 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (4)


God se liefde: Christus in ons plek


Rom. 8:1 en 4 – “1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 4 Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”

 

Vergelyk ook 1 Joh. 4:9-10 – “9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.”  

 

‘n Laaste blik op hierdie inleidende gedeelte van hoofstuk 8 is nodig sodat ons die omvang van God se liefde weereens kan begryp. Paulus vertel vir ons breedvoerig in feitlik al sy briewe van God se omgee vir die mens. Paulus was die een wat destyds vir mense wat nog nie burgers van God se ryk was nie, gaan vertel het van God se groot versoeningsdaad in Christus. Sy boodskap was tóé al duidelik, en vandag soveel te meer: God gee vir sondaars om! Hy het soveel omgegee dat Hy die sondige wêreld met Hom versoen het deur die mense van die wêreld se sonde op Jesus af te laai.

 

Die Bybel sê dat die “loon wat die sonde gee, is die dood ...” (Rom 6:23), en gaan selfs sover terug as die Ou Testament waar dit vir ons sê: "Dit is die mens wat sondig wat sal sterf” (Eseg. 18:4). Eintlik verdien ons veroordeling en die hel, maar Christus het alles op Hom geneem en self gesê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Duideliker as dít kan dit nie gestel word nie. Dié oordeel is reeds gevel: “... U het al my sondes vergewe” (Jes. 38:17).

 

Die oordeel wat ons verdien is reeds voltrek. Christus het dit aan die kruis op Hom geneem. Daar is aan elke vereiste van die wet voldoen deur die offerande van Christus vir ons sondes: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood ...” (1 Pet. 2:24). “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen ...” Dit is immers ‘n wet van liefde – God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom. Die wet begin dan ook met God se liefdesverklaring: “Ek is die Here jou God wat jou bevry het ...” (Eks. 20:2). Daarom behoort ons elke keer by die aanhoor van die wet aan die kruis dink en diep onder die indruk van God se liefde kom.

 

Billy Graham het op ‘n keer gesê: “Ons sal nié die omvang van God se liefde in Christus aan die kruis verstaan, voor ons nie verstaan dat ons nooit voor die oordeel van God sal hoef te staan vir ons sondes nie.” Christus het dit op Hom geneem en die verlossingswerk is afgehandel. God se liefde het vir Jesus van sy hemeltroon laat opstaan en aarde toe laat kom. God se liefde het Jesus die klere van die mens laat aantrek en Hom ‘n dienaar gemaak. Hiervoor het God Hom beloon met ‘n doringkroon. God se liefde het Jesus soos ‘n vervloekte aan ‘n kruis laat hang en Hom laat sterf onder die gewig van al die mense se sondes sodat ons nooit weer hiervoor gestraf sal word nie.

 

En dan is daar nóg mense wat vra of God regtig liefde is? Ek lees van ‘n ateïs wat skryf dat die Christene belaglik is om in ‘n God van liefde te glo. Al wat hy rondom hom waarneem is dood, haat en trane. Hy skryf byvoorbeeld dat indien daar op die ou end wel ‘n God bestaan, hy eendag vir Hom sou vra hoekom Hy toegelaat het dat daar oorloë is; toegelaat het dat miljoene Jode in strafkampe doodgemaak is; toegelaat het dat daar kanker is; toegelaat het dat kinders verkrag word; toegelaat het dat vliegtuie in geboue vasvlieg en duisende dood?

 

Sjoe, het hy nie dalk ‘n punt beet nie? Nee! ‘n Duisend maal nee! Diegene wat sulke vrae oor God se liefde vra, is by die verkeerde adres. Sulke mense wat só redeneer is dieselfde mense wat groot voorstanders is dat mense mondig is en hulle self besluite en keuses oor hulle lewe kan maak. Ten spyte daarvan wys hulle gou die vinger na God as slegte dinge gebeur, dan is dit nie die mens se verkeerde keuses of besluite se skuld nie, maar God s’n. Verder steur hulle hulle nie aan Hom nie.

 

Sulke mense verstaan nie wat God se liefde is nie omdat hulle op die verkeerde plekke soek. God se Woord het die regte antwoord of God liefde is. Johannes sê ons moet by die kruis begin. Dit is daar waar God sy Seun se lewe weggegee het sodat ons ‘n nuwe kans kan kry. God het nie van ‘n afstand af sy liefde vir ons deurgesein nie, Hy het dit kom wys. Daarom is daar hoop vir ons, ook vir dié wat ly én hulle wat partykeer ervaar hoe die skaduwee van die dood oor hulle lewe val. Die goeie nuus is dat God twee duisend jaar gelede kom wys het dat ons vir Hom saak maak en dat daar ‘n nuwe wêreld op Sy kinders wag. Trouens, omdat God my en jou 'n geloof gegee het, het ons nie enige verklarings nodig of God liefde is, nodig nie!

 

“Die maat van God se liefde is groter as die omvang van die menslike begrip” (Frederick Buechner).

 

Gebed: Ons Vader en ons God, U oorweldigende liefde gaan my verstand te bowe. Dankie vir die wonderlike geskenk van die ewige lewe deur u Seun, Jesus Christus ons Here. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page