top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 2 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 16 Mei 2025

Koos Espach


Neem asseblief kennis dat ons voortaan net Maandae, Woensdae en Vrydae die dagstukke gaan versend. Indien ander reëlings beplan word, sal dit DV so aangeheg word vir kennisname.

 

Lewe deur die Gees (1)

 

Ontdek jou identiteit


Rom. 8:1-2 – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2 Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

 

Gister nog het Paulus waargeneem dat die wet van die sonde, ten spyte van al sy eie pogings, van hom ‘n gevangene maak en hy dan uiteindelik uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” (7:24). Eers wanneer hy uitroep, kom hy tot die besef dat hy, en ons, nie langer onder die wet staan nie, maar onder die heerskappy van die Heilige Gees. En dan, dring die besef tot hom deur: “Daar is dus nou geen veroordeling, (vir hom én) vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan (ons) in Christus Jesus die lewe gee, het (ons) vrygemaak van die wet van sonde en dood.”

 

Hoofstuk agt wys vir ons hoe die lewe van iemand lyk wat “in Christus Jesus vrygemaak is van die wet van die sonde en dood.” Ons wéét nou ons is in Christus Jesus dood vir die sonde en lewend vir God en dat ons deur die Gees vrygemaak is en vry gehou word van die band van sonde en dood. Daarom beweer verskeie skrywers dat hoofstuk agt Paulus se testament is, met reg die groot hoofstuk van die Heilige Gees, die hart van sy teologie.

 

Ons is as vrygespreektes van die sonde, splinternuwe mense. Ons kan nou waarneem hoe die Gees ‘n nuwe bedeling in ons lewe voortbring, ‘n bedeling wat ons kan aanvaar en daaroor verheug wees, want dit het vir ons vrede met God meegebring. Ons kan nou met ‘n dankbare jubelkreet uitroep: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (7:25).

 

Paulus teken hier vir ons ‘n treffende profiel van iemand wat in Christus Jesus vrygemaak is. Mense wat nog nie vrygemaak is nie, trouens, dis mense wat hulle nie aan God steur nie, se lewe loop oor van slegte dinge: haat, woede, jaloesie, rusies, dronkenskap, losbandigheid, naywer ... (vgl. ook Gal. 5:19). Dis mense wat die keuse gemaak het om te leef soos wat hulle wil, mense wat in hulle sonde verdwaal geraak het en weier om te wil verander. Daarteenoor, die ‘kwaliteite’ van die vrygemaakte mens lewe in die vrug van die Heilige Gees: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

 

Die Heilige Gees verander ons hele ingesteldheid. Stephan Joubert stel dit treffend: “Christus breek die kettings van die sonde in sy boeties en sussies se lewe. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees as God se ‘binnehuisversierder’, beheer van ons lewe neem!” Hoe doen die Gees dit? Hy versier ons lewe met die nege eienskappe wat Paulus hier noem (vgl. Gal 5:22-23). Ons denke en dade is dan nie meer op onsself gerig nie, maar op God. Die Gees kom haal ons van ons eie troontjie af en staan ons lewe af aan God.

 

Ons is nou vry – “daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie”. Jesus het al ons sonde op sy skouers gelaai en is volledig daarvoor gestraf. God kan nie iemand twee keer straf vir dieselfde sondes nie. Hy het klaar Jesus in ons plek ‘gestraf’. Daarom kan Paulus sê ons oordeel is verby, vir altyd. As ons dit nie glo nie, dan maak ons Jesus tot leuenaar. Dan erken ons dat Jesus halwe werk gedoen het, en ons weet mos dis nie waar nie. Ja, dit laat ons stom voor God. Dit klink te goed om waar te wees dat “God ons wat in Christus Jesus is, vir altyd vrygespreek het”, maar Goddank, dit is waar!

 

Natuurlik stop dit nie nou daar nie. Daar rus ‘n groot verantwoordelikheid op my en jou om ten nouste saam te werk met die Heilige Gees. Ons moet toelaat dat Hy sy ‘versieringswerk’ in ons lewe kan doen. Ons moet fyn luister wanneer Hy praat en nie probeer om struikelblokke van ons eie swak keuses, in Sy pad te rol nie. Die Heilige Gees maak ons lewe tot sieraad vir God. Dit is sy werk. Hy sorg dat ons as vrygemaaktes, God met oorgawe dien.

 

“Ons skatkamer is binne-in ons. Dit bevat alles wat ons ooit sal nodig hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite onsself te soek” (Hui Hai).

 

Gebed: Hemel Vader, dat daar nou geen veroordeling vir ons wat in Jesus Christus is nie, laat ons stom voor U. Dankie tog dat dit waar is. Ek begeer om elkeen van die nege kwaliteite wat Paulus vir ons gee in my lewe te vertoon. Stel my in staat o Gees, om dit reg te kry. In Jesus Christus se Naam pleit ek dit. Amen.

 

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page