top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 3 days ago
  • 4 min read

Maandag, 26 Mei 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (5)


Vlees-beheersde mense

 

Rom. 8:5 – “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees.”

 

Vergelyk ook Gal. 5:19-21 – “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle ...: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”

 

Tot dusver het Paulus vir ons beskryf dat ons nou as vrygespreektes, splinternuwe mense is. Ons is nou mense wat deur die Heilige Gees beheer word. Om seker te maak ons verval nie terug na die ‘ou mens’ wat die verloorstryd van die sondige natuur verkies nie, teken Paulus in hierdie gedeelte vir ons die kontras tussen vlees-beheersde mense en Gees-beheersde mense. Ons formuleer eerstens vlees-beheersde mense.

 

‘n Bestaan wat vleeslik is, is ‘n bestaan van “dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers.” Dit is die natuurlike toestand van elke mens. Ons gelowiges moet nie onder die illusie verkeer dat ons stryd teen die sonde ooit sal ophou nie. Ons raak nie van die vlees ontslae nie: “Ons is aards en aan die sonde verkoop” (Rom. 7:14).

 

Selfs die mees volwasse Christen is nog voortdurend bewus van die greep van die ou “sondige natuur.” Ons bly steeds, in die woorde van Martin Luther, geregverdigde en sondaar tegelyk. Die kernoorsaak van hierdie stryd lê by onsself: “Ek wil hê; ek wil sus of so maak; ek begeer; ek verdien om te besit; die wêreld skuld my en as ek nie kan kry nie, vat ek net doodeenvoudig.”

 

Die probleem wanneer die “ek” in beheer is, is dat “ek” later net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg met “dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou.” Dit veroorsaak dat “ek” later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes sluk vir die “ek” onbewustelik in sodat “ek myself” nie meer kan erken nie. Met “my” vlees-beheersde menslike swakheid van begeertes en selfsugtige belange, staan “ek” skuldig voor God met veelvuldige sondes!

 

“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers”, verkoop hulle liefde aan die wêreld. Hulle pleeg owerspel en verloën God se liefde. Hulle ou-natuur grens aan Christuslose godsdiens en dít maak vlees- beheersde mense blind! Dit is ‘n godsdiens sonder die wedergeboorte, sonder die ware lewe in Christus; ‘n godsdiens sonder die lewende water wat nie ‘n opborrelende uitwerking op jou het nie; ‘n godsdiens wat nie uit genade gelewe word nie; ‘n godsdiens wat verstrik raak in mensgemaakte wette, ou gebruike en “dergelike dinge,” wat ‘n legio verkeerdhede insluit – en dis dodelik!

 

Ons kan nie God én die wêreld dien nie. God deel nie Sy skepping (ons) met die duiwel nie, daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks. 20:5). Jesus waarsku ook dat ons nie God en Mammon kan dien nie (Matt. 6:24b). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “’n vriend van die wêreld te wil wees” (Jak. 4:4b), wat buite die konteks van God en Sy wil is.

 

Die sondige natuur kan oorwin word! Maar hoe? Paulus gee die antwoord in ons teks met die woorde: “laat beheers.” Laat beheers beteken eenvoudig om gehoorsaam te raak aan ... om deurgaans te luister na ... om die gesag te erken van ...! Om te keer dat ons die spoor byster raak moet ons God se “padtekens” raaksien.

 

Elkeen van ons het God se Woord – Die Bybel – in ons huis. Elkeen van ons, as nuutgemaakte mense, het die Heilige Gees wat in ons woon. Die Gees pak elke dag getrou saam met ons die pad volgens God se Woord aan. Ons moet net ons ore oopmaak en fyn luister, dan bly ons op die regte koers. Kortom, ek en jy as Christene moet net ons verantwoordelikhede nakom en ons “laat beheers” deur die Gees, gehoorsaam te wees, deurgaans te luister en Sy gesag erken. Hy as ons Padwyser is altyd daar. Hy sal ons die regte aanduiding gee waarheen ons moet stap – altyd!

 

“Daar is min dinge wat ‘n Christen so diskrediteer as hy of sy vroom praat oor die wêreld daar Bo, terwyl hulle aanhou om te leef soos die wêreld hier onder” (WW Griffin).

 

Gebed: Here, ek is hartseer omdat ek as vlees-beheersde, maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, my toekoms by U op die spel plaas. Gee asseblief aan my die wysheid en insig om aan geestelike sake voorkeur te gee sodat ek op ‘n hoër geestelike vlak kan leef. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page