Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 1 day ago
- 4 min read
Maandag, 19 Mei 2025
Koos Espach
Lewe deur die Gees (2)
Ons sonde aan die kruis gespyker
Rom. 8:3-4 – “3 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde. 4 Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”
Vergelyk ook Joh. 1:14 – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy, as die enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid.”
Alles het “nou” verander, sê Paulus in vers 1. Goddank, ons as vrygespreekte kinders van God is eerstens, nou vrygemaak van die straf van die sonde. Tweedens is ons nou vrygemaak van die mag van die sonde. Ons is derdens nou vrygemaak om die wet uit te leef. Ons is bevoorreg want ons is nou vrygemaakte, Geesbeheersde mense wat die eise van God se wet kan volbring. Hoekom? As Geesbeheersde mense het ons nou gehoorsame kinders van God geword. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”
Hoe is dit moontlik gemaak? In my en jou, in ons wat die sondige natuur van Adam geërf het, is daar geen goeie ding wat ons ooit kan doen om ons heilige hemelse Vader kan behaag nie. Maar die Seun van God het “in die gestalte van ‘n mens as ‘n offer vir die sonde” – die sonde aan die kruis veroordeel. God het ons vrygemaak van straf van die sonde deur sy eie Seun, as ‘n mens, aarde toe te stuur: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”
Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring meegedeel! Jesus het as mens onder ons as sondaarmense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kon gesien en gehoor word en ons het sy heerlikheid deur sy aardse optrede gesien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy het kom word, “God met ons, Immanuel.”
Die Woord pak die verste rit, die fenominale genaderit van redding aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af is, naamlik God. Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen God dank vir hierdie weg wat Hy vir die sondaar geopen het.
Die inhoud van Jesus se heerlikheid is “vol genade en waarheid.” Dit beskryf onder andere Jesus se uniekheid. Hy is nie sommer maar net mens nie. Hierdie genade is gekoppel aan die waarheid, en is daarom eg, betroubaar en blywend. In die Woord wat mens geword het, kom die heerlikheid van God tot openbaring en dit bestaan in die volheid van die onverdiende genade van God wat die “verkeerde mense, sondaar mense,” liefhet. Die oomblik toe Jesus onder ons “kom woon” het, was ons nie meer deel van ‘n groot onbekende massa mense wat doelloos rondswerf nie, ons het deel van God se gesin geword (Joh. 1:12).
Ons gelowiges is deur God se genade, nou by die regte adres: Jesus Christus ons Here! Dit is in sulke tye wat die omvattendheid van God se genade, ons verras. Ek meen, afgesien van wie ons was of wat ons in die verlede verkeerd gedoen het, kan ons nou as Geesbeheersde mense die heerlike vryheid van kinders van God deelagtig wees. Ja, goed, dan wonder ons hoekom slegte dinge met goeie mense gebeur? Wyle Murray Janson het geskryf: “Ook God se kinders kry kanker.” Maar dis juis God se kinders wat ‘n adres het, ‘n kla-plek, ‘n vra-plek. En vanuit die Vaderhuis kom daar altyd die antwoord: “Ek het jou gehoor, My kind. My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is ...” (2 Kor.12:9).
“God se genade beteken nie dat Hy altyd ons moeilike situasie verander nie, maar dat Hy altyd ons swaarkry raaksien, en afbuig, en ons in ons situasie vashou” (John Stott).
Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my deel van God se gesin te maak. Ek probeer dit verstaan en begryp maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. Dankie vir my gawe van geloof! Dankie dat U ook my sondige natuur aan die kruis vasgespyker het. Amen.
Comments