top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 3 min read

Woensdag, 28 Mei 2025

Koos Espach


Lewe deur die Gees (6)


Instandhouding is broodnodig

 

Rom. 8:6-8 – “6 Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7 Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8 Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.”

 

Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien of nie wil dien nie. Ons moet Hom voluit dien. Ons behoort aan Hom, alles in die hemel en op aarde behoort aan God. Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neuse geblaas (Gen. 2:7). Ons moet weer vir Christus terugplaas in Christen! Kontrasterend daarmee is die ou-natuur mense, die “vlees-beheersde” mense, se optrede: “die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood.”

 

God het in sy wysheid aan ons die verantwoordelikheid gegee om self die keuse te maak hoe ek en jy ons lewenspaadjie wil loop. Die keuse aan suiwer materiële besittings en eie gewin, is nie noodwendig die antwoord nie. Besittings is noodsaaklik want ons wil tog nie in armoede ons lewe deurbring nie – maar Christus moet sentraal staan in al hierdie dinge sodat ons standaarde aan Sy heilige wil voldoen.

 

Hoe verander ons ons lewe om aan Christus se heilige wil te voldoen? Paulus sê “ons gees en gedagtes moet nuut word ...” As nuutgemaakte kinders van God moet ons “lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:23-24). Instandhouding is broodnodig. Dít is wat gedoen moet word wanneer ons uitvind dat ons lewe op God se pad nie regtig op standaard is nie. Dis maklik om vir almal te sê: “Dit gaan goed, dankie,” maar indien ons eerlik met onsself wil wees, sal ons mos weet wanneer ons nie regtig ons kant bring op God se pad nie.

 

Ons weet mos as ons nalaat om koers te hou met ons kompas, die Bybel, of wanneer ons versuim om die Gees se instruksies oor die regte roete getrou te volg. Dan het ons lewenspad dringend instandhouding nodig, anders gaan dit vol potholes raak en later heeltemal onbegaanbaar wees. (Klink dit nie bekend nie?). Hoe kry ek en jy ons pad na God toe weer in orde? Paulus sê ons moet ons outomatiese loods afskakel – daardie loods wat ons gejaagde lewe laat perspektief verloor. Daardie loods wat ons dag na dag laat voortjaag, alles teen volspoed. Hy stel voor “ons gees en gedagtes moet nuut word.”

 

Die beste manier om dit reg te kry, is om die “Padhouer” te vra om te help. Dit help nie ons probeer op ons eie om die instandhoudingswerk te doen nie, want ons gaan dit nie alleen regkry nie. Ons kan nie op ons eie krag besluit om meer te bid, meer gehoorsaam aan God te wees, meer getrou Bybel te lees en meer kerk toe te gaan nie. Buitendien, “dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” Nee, laat dit liewers aan God oor.  

 

Ons kan Hom vra om deur sy Gees opnuut in ons te werk want “die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede.” Ons kan só vinnig deur die lewe jaag, dat ons soms vergeet om te stop om brandstof in te neem – en ons liggaam het ook iewers ‘n hervulling nodig. Dit is nodig om van die hoofpad van ‘n verkeerde leefstyl af te draai om geluk te vind. Ek en jy sal eenvoudig móét afdraai. God sê so: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun Hom” (Ps. 37:23). Ons kan elke dag begin om ons stukkie pad, vir daardie dag, in God se hande te plaas en Hom vertrou dat Hy dit nuut sal maak. Ja, selfs heeltemal oor sal maak indien dit nodig is.

 

“Verandering begin altyd eerste in ons kop. Hoe ek en jy dink, bepaal hoe ons voel, en hoe ons voel, beïnvloed hoe ons optree” (Rick Warren).

 

Gebed: Ek loof u Naam, Here Jesus my Verlosser. Dankie dat ek deur u Heilige Gees, U pad kon kies. Hou my in genade asseblief op daardie pad. Amen.

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page