Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 11 minutes ago
- 5 min read
Woensdag, 14 Mei 2025
Koos Espach
Neem asseblief kennis dat ons voortaan net Maandae, Woensdae en Vrydae die dagstukke gaan versend. Indien ander reëlings beplan word, sal dit DV so aangeheg word vir kennisname.
Die wet en die sonde (11)
Sonde is baie meer as ...
Rom. 7:24-25 – “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25 Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” (3)
Die een ding waaroor God se Woord nogal reguit praat, is sonde. As ons nie binne die wil van God lewe nie, as ons nie doen soos Sy wet vir ons vertel ons moet maak nie, is ons besig om ons eie rigting in te slaan, ons eie wil te volg. Hoor hoe reguit is Johannes: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Joh. 3:4). Hierdie teks is nie nuwe nuus nie. Ons weet wanneer ons op die regte pad is, maar ons weet ook wanneer ons nie op die regte pad is nie. Die Heilige Gees laat gou van Hom hoor as ons in die verkeerde rigting op pad is. Dan pla dit ’n mens, of hoe?
Stephan Joubert sê sonde is baie meer as lelik praat; te haat; te skinder; te steel en te moor. Hierdie is alles simptome dat daar iets drasties verkeerd is. Daarom is dit só belangrik om presies te weet wie die opposisie is. In hierdie geval is dit satan. Ek hou niks van die ou nie, daarom skryf ek sy naam met ‘n kleinletter. God het die duiwel en al sy engele saam met hom uit die hemel geskop (Op. 12:9). Net daar het hy die opposisie geword en begin om alles en almal wat in God se lig is, aan te val en probeer om hulle van God af te rokkel. Hy is ’n aanklaer en ’n bedrieër. Hy is ’n kwaadprater en ‘n leuenaar. Een kompliment wat ons vir die ou kan gee, is dat daar geen lui haar op sy kop groei nie. Met alles in hom probeer hy ons weglok van God en sal nie rus voordat hy gewen het nie. Teen hierdie opponent moet ons ons staal.
Maar, deur Jesus Christus het God van my en jou ‘n nuwe mens gemaak wat dood is vir die sonde en lewend is vir God. Omdat ons aan Christus behoort, woon die Heilige Gees binne-in ons. Die Gees stel ons in staat om van die sonde (en satan), in ons lewe ontslae te raak. Só help God my en jou in ons stryd teen die sonde. Baie Christene maak die fout om te probeer word wat hulle reeds is. In Christus ís ons reeds regverdig en heilig. Ons moenie probeer om te karring aan hierdie verandering wat God in ons lewe teweeg gebring het nie.
Al wat God wil hê, is dat ons moet glo wat Hy gedoen het en ons nuwe identiteit as Sy kind aanvaar. Dit beteken dat ek en jy nou ons lewensritme, ons gedrag, moet aanpas by dit wat ons reeds is. Dit beteken dat ons planne sal moet maak om van die sonde in ons lewe ontslae te raak. Nee, nie net planne maak om van die sonde ontslae te raak nie, ons moet die planne ook uitvoer. Ons moet dit doen! Hoekom? “Wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is” (1 Joh. 3:8-9).
Sjoe, met die lees van bogenoemde teks, laat sak ek my kop in skaamte en steek my hand stadig op en sê: “Skuldig!” Erg skuldig, want sien, ek dink nie net eers daaraan en wonder wat alles sonde is nie, ek val gereeld pens en pootjies binne die gemors. Ek wonder dan: Hoekom? Het God my werklik lewend gemaak? Is ek weer gebore? Het ek regtig nou die ou lewe agtergelaat? My vrae oor Christenskap hou nie op nie, want “iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly.” Is ek regtig ’n kind van God? Het ek regtig die Heilige Gees ontvang? Ek wonder, wie kan nog hiermee identifiseer?
Ons moet weet dat ons in sonde ontvang en gebore is. Die dag toe ons vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser, is ons sondige natuur verruil vir Jesus se heiligheid. Tog kan meeste van ons getuig dat ons nie ewe skielik in ‘n engel verander het nie. Daar het wel ’n verandering gekom. Ons het begin besef om heilig te wees, is om anders te wees, om vir God opsygesit te wees. Ons raak elke dag meer sensitief vir sonde. Ons begin al hoe minder sonde doen en ons gedrag wys dit. Sonde is nou nie meer die motiveerder vir ons doen en late nie. Ons begin om onsself te toets hoeveel van die nege eienskappe van die vrug van die Heilige Gees in ons lewe teenwoordig is (Gal. 5:22-23).
Geestelike groei is dat die vlees en die sonde al hoe minder invloed in my en jou lewe uitoefen. Dit gebeur wanneer ons nuwe self, onder invloed van die Gees ’n nuwe lewenstyl en denke aanleer. Ja, ons glip en gly nog daar waar ons tong wankel en ons voete soms verkeerd loop. Tog is ons nie meer ’n slaaf van die sonde nie. Laat ons dan streef om al hoe minder te sondig. Laat ons die wysheid wat God ons gee, gebruik om te weet wanneer ons verkeerd wil doen. Laat ons doelgerig daarvan werk maak. Met die hulp van die Heilige Gees kan ek en jy “ons oë op die pad vorentoe hou, reguit voor ons uitkyk, ons koers afbaken en dan seker sal wees van elke tree. Ons moenie links of regs wegdraai nie en ons weerhou van die verkeerde koers” (Spr. 4:25-27).
“God says: If you let Me, I will make you perfect. The moment you put yourself in My hands, that is what you are in for. Nothing less, or other, than that. You have free will, and you can push Me away. But if you do not push Me away, understand that I am going to see this job through” (C.S. Lewis).
Gebed: Jesus, ek weet dat ek nou en dan nog glip en gly. Gee my die wysheid om te weet as daar ’n uitdaging in my pad is en die krag om dit te systap. Help my om heilig te lewe omdat U my reeds U kind gemaak het. Amen.
コメント