Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 19 hours ago
- 4 min read
Maandag, 12 Mei 2025
Koos Espach
Die wet en die sonde (10)
Oefen om as nuwe mens te leef
Rom. 7:24-25 – “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25 Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” (2)
Ons het Vrydag van Paulus verneem dat die Gees van God die sondebesef in ons wakker maak en dat die wet die grense is waarbinne ons kan leef om God se liefde te kan beantwoord. Maar ons sondige natuur maak ons gevangenes van die sonde – “met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” Dit maak nie saak wat ons doen, hoe hard ons probeer, hoeveel ons strewe, ons is steeds geneig tot sonde teen God. Daarom het menigte en sal menigte mense, hopelik, soos Paulus ook vraend uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”
Dit is egter tragies dat daar diegene is wat net by die vraag bly, en nie verder lees om die antwoord te kry nie – “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.” Daar is steeds mense wat dit nie wil glo nie of, wat God nie wil vertrou nie of, wat nie bereid is om God op sy beloftes te neem nie. Want dit is byna te goed om waar te wees. Hulle kan hulleself nie voorstel hoe God hulle op die naam kan ken nie, laat staan nog hulle sondes vergewe en dat God hulle nuut gemaak het “deur Jesus Christus ons Here.”
Die “ou mens” bestaan nog en die vlees is in voortdurende stryd met die Gees gewikkel – “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer” (Gal. 5:17a). Daarom is dit noodsaaklik om die “ou mens”, die vlees met sy slegte gewoontes en begeertes, af te lê – “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens wat deur sondige begeertes verteer word” (Ef. 4:22). Breek met die verleiding van die listige duiwel wat ons hart wil beheer want “die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen” (Jer. 17:9-10).
Die bekende skrywer Maretha Maartens het gesê: “Ons ganse lewenskwaliteit sentreer om ons liefde vir die wet wat nie gegee is om ons pret en vreugde te demp nie, maar wel om ons te keer wanneer ons onsself wil vernietig. Dit is die wet wat ons dwing om die evangelie aan te gryp sodat ons gered kan word. Die evangelie stuur ons altyd terug na die wet, sodat ons die heerlike verantwoordelikhede as kinders van God kan insien en aanvaar.”
Hoe kan ons die slegte gewoontes en begeertes van ons sondige natuur aflê? God weet ons moet nog baie leer. God weet ons moet oefen om as “nuwe mense” te lewe. God weet ons sal nog baie foute maak. Ons moet egter nie dwaas wees om die “ou mens” in ons te voed nie. Daar is byvoorbeeld plekke wat vir ons sleg is, bly weg daar. Daar is mense wat ‘n slegte invloed op ons het, vermy hulle. Vermy ook dit wat verkeerd is met wat gelees word, waarna op televisie gekyk word, waarna op videos en internet gesoek word. Die sonde word só smaaklik opgedis vir die “ou mens”, moenie hom voed nie. Met só ‘n wonderlike God het en kan ons uitstekende vooruitsigte hê, en deur die hulp van die Gees, God verheerlik en sy wil doen.
Die sonde, die dood en die duiwel is drie groot magte wat lynreg teenoor ons staan. Maar gelukkig is Jesus sterker as hierdie magte, Hy het hulle reeds oorwin! As Paulus en ons uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Dan ken ons net een Naam: Jesus! Hy kan! Hy is ons enigste hoop. Jesus het reeds sy alles gegee om ons ellendige mense uit die greep van sonde te bevry. Hy is ons veilige vesting. Ek en jy kan by Hom skuil wanneer énige ongure magte op ons afstorm om ons te vernietig! Halleluja, prys sy Naam!
“Ware groei begin wanneer ons ons eie swakhede aanvaar en die Heilige Gees vra om iets daaraan te doen” (Jean Vernier).
Gebed: Hemelse Vader, vervul my hart só met Uself dat daar geen liefde vir die wêreld sal wees nie. Dis my begeerte dat die “ou mens” in my glad nie meer ‘n opsie is nie. Want deur Jesus se liggaam en bloed is ek nou ‘n nuwe mens, en alleen deur sy liggaam en bloed kan ek ‘n nuwe mens bly. Dankie vir die krag van die Gees binne my, wat my in staat stel om hierin te slaag. Amen.
Comments