Gedagte vir Vandag
Dinsdag, 20 Februarie 2024
Koos Espach
Paulus se reis na Jerusalem (4)
Soek God se leiding om kompromie te vermy
Hand. 21:12-13 – “Toe ons dit hoor, het ons en die mense daar vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie. 13 Toe antwoord Paulus: ‘Waarom wil julle my hart sag maak met julle trane? Ter wille van die Naam van die Here Jesus is ek bereid om in Jerusalem nie net gevange geneem te word nie maar selfs ook te sterwe.”
In Sesarea beduie die profeet Agabus in ‘n simboliese daad met Paulus se gordel, dat die Heilige Gees gesê het Paulus sal in Jerusalem gevange geneem word. Lukas skryf dat hy en al Paulus se metgeselle, én al die plaaslike mense, Filippus en sy vier dogters en van die gemeentelede van Sesarea, dit hoor. Hulle het Paulus met trane gesmeek om af te sien van sy voorneme om na Jerusalem te gaan. Al hulle trane was egter tevergeefs. Hy sê dat hulle nie moet probeer om sy hart sag te maak met hulle trane nie, aangesien hy bereid is om na Jerusalem te gaan, nie net om gevange geneem te word nie, maar selfs ook om te sterwe vir die Naam van die Here Jesus. Die Naam waarvoor Jesus as die Here God gesterf het en uit die dood opgestaan het – dieselfde Here wat Paulus op die pad na Damaskus ontmoet het en sy siening en ganse lewe omgekeer het (Hand. 9:3-5).
Paulus se vasbeslotenheid herinner aan Jesus se woorde (Luk. 8:33). Die versoek van sy vriende kom wel nie in so ’n skerp vorm soos Petrus se berisping van Jesus in Matteus 16:22-23, om nie na Jerusalem te gaan vir sy dood nie: “Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: ‘Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.’ Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: ‘Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”
Jesus se optrede tydens Sy aardse omswerwinge was só buitengewoon dat selfs Sy dissipels nie van die begin af begryp het wat aangaan nie en dikwels verkeerde afleidings gemaak het. Dit is presies wat met hulle nou weer gebeur het. Petrus, wat gewoonlik as segsman oorgeneem het, kon die logika en sin van lyding deur die “Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16), nie begryp nie en probeer dit verhoed. Petrus het genoodsaak gevoel om Jesus reg te help en wys Jesus daarop dat die gedagtes van lyding en dood nie by die Joodse opvatting van die Messias pas nie.
Jesus reageer skerp op Petrus se berisping. Eerstens wys Hy Petrus, die rotsman van so pas, hier met dieselfde woorde af as vir die duiwel in die woestyn (Matt. 4:10). Petrus wil net soos satan Hom versoek om die maklike pad te laat loop, ‘n soort van kompromie aangaan. So in my geestesoog sien ek Petrus hoe vat hy Jesus om Sy skouers en “neem Hom opsy terwyl hy Hom berispe – Hoe kan U as ‘die Seun van God’ sulke onbesonne dinge kwytraak?” Ek kry hom eintlik jammer toe Jesus hom so skerp antwoord dat hy nie in “Sy pad moet staan nie!” Dit is weliswaar ironies dat die rotsman, satan word; die sleutel-draer, nou meteens ’n struikelblok word. Waar God Petrus se belydenis (v. 16) geïnspireer het, is dit sy menslike opvattings oor Jesus, wat Petrus Satan se rol as versoeker (v. 22) laat inneem. Helaas hét Petrus wel met God se Seun te make, en dan geld ander beginsels!
Markus skryf Jesus het “omgedraai en vir Sy dissipels gekyk terwyl Hy Petrus berispe” (Mark. 8:33). Jesus draai weg van ‘satan’ af en plaas Sy struikelblok agter Hom! Hoe draai ek en jy weg van ons menslike denke wanneer ons met “die Seun van God” te doen het? Ons getuig immers net soos Petrus dat “Jesus die Christus, die Seun van die lewende God is”. En ons weet dit is iets wat van God af kom. Iets wat ons nie noodwendig kan verklaar nie. Hoe begin ons om soos Jesus te dink en ons struikelblokke agter ons te plaas? Hoe begin ons om soos Paulus uit te spel dat ons doel is om ons lewenstaak van Christen te volvoer? Dit raak moontlik wanneer ons dit deur die Heilige Gees, op God se manier doen en nie “wat die mense wil hê nie.”
Die enigste manier om ontmoedigende kompromieë te vermy, is om God se leiding te soek in álles. God is nie net beperk tot Sondae in ‘n kerkgebou nie. Feit is dat Hy deur sy Gees betrokke is by elke omstandigheid van my en jou lewe. Wanneer ons meer tyd deurbring in die stilte van Sy teenwoordigheid, groei ons om in geloof, meer sinvolle geestelike besluite te neem. Ons is baie kwesbaar en weerloos, maar wanneer ons deur die Heilige Gees die totale beheer van ons lewe oorgee in die hande van Jesus Christus, ondervind ons ‘n nuutgevonde sekerheid dat Hy ons op die regte pad van oorwinning sal lei. Wanneer Jesus beheer oorneem verander ons van satan na rotsman, struikelblok na sleuteldraer! Wat ook al gevare of probleme, wat ook al ons swakheid en bekommernis, ons wat glo in Jesus Christus, sal nooit verlore gaan nie.
“Die dwarrelwind van kompromieë is veel gevaarliker as die skielike donderslag van teenspoed”
(Charles Swindoll).
Gebed: Christus my Here, niks in hierdie lewe is so ontmoedigend as wanneer my goed uitgewerkte plannetjies nie wil realiseer nie. Ek meen, ek tref nougeset reëlings vir my gesinslewe, my sportlewe, ag, feitlik enigiets in my lewe. Dan besef ek maar weer die kwesbaarheid en weerloosheid van my eie plannetjies. Dankie Here dat U nie moed opgee met my nie, maar in my bly werk deur U Gees. Dankie Gees dat ek U met vrymoedigheid kan vra om Leidsman van my lewe te wees. Vul my met liefde, hoop en krag sodat ek kan wees wat U wil hê ek moet wees. Amen.
Comentarios