top of page

Gedagte vir Vandag

Dinsdag, 30 Januarie 2024

Koos Espach


VIII.  Paulus se reis na Jerusalem (Hand. 20:13-23:35) 

Hoofstuk 20 – Paulus in Masedonië en Griekeland

 Paulus spreek die ouderlinge van Efese toe (3)

 

Om te dien is nie opsioneel nie

 

Hand. 20:23-24 – “Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag. 24 Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (1)

 

Alhoewel die Heilige Gees nog nie aan Paulus die besondere doel, of wat daar alles in Jerusalem gaan gebeur, aan hom geopenbaar het nie, het hy wel geweet dat die Gees hom in elke stad verseker het dat gevangenskap en vervolging op hom wag. Paulus was in elk geval gereed om sy vryheid en, as dit nodig was, sy lewe vir die saak van Christus af te lê. Al is sy lewe vir hom kosbaar, reken hy dit van geen belang nie. Die belangrikste vir hom was om maar net sy lewenstaak en die dienswerk wat hy van die Here Jesus gekry het, te kan voltooi.

 

Paulus maak hierdie uitspraak nie net op grond van alles wat tot dusver met hom gebeur het nie, maar ook op grond van die pad wat Jesus op aarde geloop het. Lukas vertel vir ons in sy evangelie (Luk. 9:51-19:28), dat Jesus vasbeslote die reis na Jerusalem onderneem het toe die tyd vir sy hemelvaart nader gekom het. Dit nadat Jesus twee maal reeds vir sy dissipels gesê het dat die Seun van die mens baie moet ly, verwerp en doodgemaak moet word en op die derde dag opgewek word (Luk. 9:22); in die hande van mense oorgelewer gaan word (Luk. 9:44); Hy gegesel sal word en doodgemaak sal word, maar op die derde dag sal opstaan (Luk. 18:31-33). Soos Jesus, gaan Paulus ook op na Jerusalem om op Pinksterdag in gevangenskap te gaan en daar te ly.

 

“Maar al is my lewe vir my kosbaar ...” sê Paulus, heg hy geen waarde daaraan nie. Met ander woorde, hy gee nie om of hy lewe of doodgaan nie, solank hy sy sending en diens, wat hy van die Here Jesus ontvang het, voltooi. Hy beskryf sy sending as ‘n diens wat deur Jesus aan hom opgelê is, ’n diens aan die wêreld soos Jesus se diens was – “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Mark. 10:45).

 

Is dit nie maar my en jou opdrag ook nie – om diensbaar te wees waar die Here ons geplaas het nie? Hoekom versoek Jesus dat ons eerder agter in die ry moet inval as om, soos maghebbers te veg vir die voorste gestoeltes? Eenvoudig – Jesus het dit gedoen! Hy het die voorbeeld gestel! Hy was bereid om die hoogste posisie in die hemel te verruil vir die laagste posisie op aarde, bloot omdat Hy omgegee het vir die mens, vir my en jou! “Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien.”  

 

Om te dien, is nie opsioneel nie. Dis nie iets wat ek en jy in ons skedules kan inpas wanneer ons eendag tyd het nie, eendag wanneer ons oud is, afgetree is, eendag wanneer ...? Jesus het gekom om “te dien en te gee” – twee werkwoorde wat elke Christen se leuse behoort te wees. Ag, en nou moet ons maar eerlik wees – en ek sluit myself daarby in – dis nie ons natuurlike aard om te dien nie. Ons soek eerder ‘n kerk wat óns behoeftes bevredig, eerder as ‘n kerk waar óns kan dien, waar óns ‘voorskoot’ kan aantrek en ander met waardigheid behandel.

 

Aan die einde van ons lewe hier op aarde, gaan ek en jy, ons álmal, voor die Here staan en “elkeen sal dan oor homself (en haarself) aan God rekenskap moet gee” (Rom. 14:12). Dan gaan Hy vergelyk hoeveel tyd en energie ons aan onsself bestee het, teenoor hoeveel tyd en energie ons aan diens vir ons medemens afgestaan het. Ek wil nou nie profeties klink nie maar ek dink dáárdie dag gaan ons selfgesentreerde verskonings maar hol klink. “Maar Here, ek was baie besig met ...; ek het my eie doelwitte en drome gehad om eers af te handel; ek moes baie oortyd werk om kos op die tafel te sit; ek kon nie want ...!” (Vul self die oop spasies in en maak solank jou eie lysie van verskonings.)

 

Elkeen sal ‘n legio verskonings kan voorlê, en God se reaksie dalk: “Jammer, verkeerde antwoord! Ek het jou geskep, nodig gehad om te getuig, om te dien, om liefde te deel. My Seun het deur Sy menswording, Sy lydenspad, Sy kruisiging en dood, jou dienaar en slaaf geword en Homself as ‘n losprys gegee om jou as sondeslaaf van die sonde los te koop. Watter dele daarvan verstaan jy nie?”

 

God wil my en jou gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak, om dienskneg klere aan te trek. Hy wil deur óns werk. Ons moet Sy hande en voete op aarde wees, maak nie saak hoe lank ons leef nie. Die belangrike is hóé ons leef. Wanneer ons eers besef het dat Jesus ons gedien het tot in die diepte van ons selfsug en sonde “en Sy lewe vir ons gegee het as losprys”, sal niks ons kan weerhou om ander vir Sy onthalwe te dien nie. Diensbaarheid behels hulp aan diegene wat nie ons hulp verdien nie; dit eis dat ek en jy soos Jesus, gewillig sal wees om die dinge te doen waarvoor ander mense hulle neuse optrek. Hoe lyk dit? Is ons die deurwagters wat vir ander mense die beste plekke aanwys, of sit ons heerlik gemaklik in die voorste gestoeltes terwyl ons wag om bedien te word?

 

“Steek jou hand uit na ander. In ‘n krisis, raak betrokke by ander, by ander se pyn, ander se honger, ander se leed. Want in betrokkenheid lê genesing” (Isak de Villiers).

 

Gebed: Jesus Christus, stel my in staat om ‘n dienskneg van U te wees. Ek is dankbaar daar is nog plek by U agter in die ry sodat ek ook daar kan inval. Moenie dat ander se nood my verbygaan nie, want “God het my gemaak wat ek nou is: in Christus het Hy my geskep om my lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy my bestem het” (Ef. 2:10). Dit is immers waarom U my hier op aarde geplaas het. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page