top of page

Gedagte vir Vandag

  • Jul 25, 2025
  • 4 min read

Vrydag, 25 Julie 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (6)


Bevry-in-hoop

 

Rom. 8:22-23a – “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook.”

 

Vergelyk ook Joh. 16:33 – “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

 

Paulus beklemtoon vervolgens dat die skepping, soos ‘n swanger vrou “sug in die pyne van verwagting.” Terloops, die beeld wat hier gebruik word is die van ‘n swangerskap. Swangerskap is nie maklik nie en die geboorteproses is pynlik. Maar uit al die swaar, word ‘n wonderlike baba gebore. So sal die ewige lewe na al die seer van hierdie lewe gebore word. Tesame met die sug van die hele skepping, sug ons gelowiges ook en sien uit na die dag wanneer God alles gaan nuut maak.

 

Vir baie Christene is dit onaanvaarbaar om in moeilike omstandighede, God se vrede te ervaar. Hoe kan ‘n God van liefde ons só swaar laat kry? Deur al die eeue heen styg daar ‘n magtige sug van onopgeloste vrae vanuit die kerk, na God toe op. Daar bestaan soveel worsteling by veral gelowiges, Christus-volgelinge, om God se weë te verstaan. As God sê ek en jy is sy kinders, waarom moet ons só ly? Waarom is daar soveel openlike en ook subtiele vervolging van die kerk?

 

Dit word vertel dat een van die heiliges van die Rooms-Katolieke Kerk, Teresa van Avila (1515-1582), tydens haar pogings om kloosters in Spanje te hervorm, per ossewa oor treurige grondpaaie moes voortsukkel. So met die modderige strome op die paaie het sy eendag glo met haar vuis ten hemele gerig, vir God gesê: “As dit die manier is wat U u vriende behandel, is dit geen wonder dat U nie baie van hulle het nie.” In ‘n besoekersboek van Dachau, een van die Duitse konsentrasiekampe, waar onder andere miljoene Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog vermoor is, het iemand geskryf: “God, how could you let this happen? Shame on you!” 

 

Mense kyk steeds na vandag se wêreld en kleur dit in met die wil van God. Dis God se wil dat geliefdes deur die dood weggeneem word. Dis God se wil dat die skepping verval het in onvolmaaktheid. Dis God wat toelaat dat kinders en vrouens verkrag word. Hoekom tree God nie tussenbeide wanneer nóg ‘n plaasboer eers vermink en dan gruwelik vermoor word nie? Waar was God toe ‘n dronk vragmotorbestuurder oor ‘n kind met haar fiets gery het. Kon Hy nie ‘n engel gestuur het om die kind te red nie? Hoe rym geweld, verwaarlosing, korrupsie met die wil van God? En deesdae is die nuutste: “As die Christelike geloof waar is, hoekom word soveel gruweldade in die Naam van Christus gepleeg?”

 

Diegene wat bogenoemde argumente gebruik, vergeet dat dit God was wat tevrede was nadat die skepping voltooi is en sy handewerk goedgekeur het met ‘n besliste “baie goed” (Gen. 1:31). Daar was geen dood, verwoesting of verlies in God se plan nie. Alles was perfek, net soos God dit gewil het. Hierdie perfekte prentjie het egter verander toe sonde die wêreld ingekom het en dood en verwoesting deel van die mensdom se bestaan geword het. Dit is presies waarteen God die mens gewaarsku het: “Van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen 2:17); en “Omdat jy van die boom geëet het waarvan Ek jou verbied het ..., is die aarde deur jou toedoen vervloek” (Gen. 3:17). Die res van die Bybel is egter die verhaal van ‘n liefdevolle God se werking met mense om hulle weer ‘n kans op lewe te gee.

 

Ons lewe op ‘n aarde wat swaar dra aan sy verlede, wat in baie opsigte gebroke en vuil is, en baie mense wat daarop woon, stukkend is. Ons sug om van hierdie gebrokenheid verlos te word. Ons, en hierdie aarde, wag op God om finaal in te gryp sodat dit weer ‘n aarde word waarop God kan wandel wanneer die aandwindjie opkom (Gen. 3:8), en waar God dan weer sal kan sê dat alles goed is (Gen. 1:31). God kan nie en mag nie by alles betrek word nie. Vier vingers wys terug na ons en een na die bose wat ons harde harte misbruik om onreg te pleeg en onregverdigheid van hierdie wêreld toelaat.

 

God vrywaar ons nie van “ons sug in die pyne van verwagting” nie. Selfs toe Jesus vir sy dissipels gesê het “hulle sal dit moeilik hê in hierdie wêreld”, verstaan ons ook nie so lekker nie. Ons weet van swaarkry en seerkry omdat ons dit elke dag om ons sien en in ons eie lewe ervaar. Máár, vervolg Jesus, “hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ons kan vrede vind in Hom. God se liefde omsluit ons, binne-in daardie pyn. God gee maar min daarom-antwoorde op ons waarom-vrae, maar God wys vir ons, juis deur middel van ons swaarkry dat daar wel omdat-antwoorde is – en ééndag sal ons selfs die daarom-antwoorde ook weet.

 

“Verenig deur die gemene deler van pyn en kommer in die wêreld, word mense saam op die knieë gedwing – vir meeste, die eerste keer in hulle lewe” (Philip Yancey).

 

Gebed: Hemelse Vader, ek verstaan nie altyd al U doen en late nie. Dit rym nie altyd met U genade en liefde vir my nie. Maar dat ek veilig in U hande is, met U mag praat wanneer ek wil en te weet dat U by my is, gee my vrede. Ek weet U arms is onder my, ek weet dat U my dag vir dag dra. Aan U die eer. Amen

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page