top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Vrydag, 1 Augustus 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (9)

 

Die Gees is ons Voorbidder

 

Rom. 8:27 – “En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”

 

Die woorde van vandag se teksvers werp ‘n wonderlike lig op die gebedslewe in die harte van ons gelowiges. Ek dink julle sal met my saamstem dat ons nie altyd weet hoe en wat ons behoort te bid nie. En dit bemoeilik dikwels ons gebede asook ons geloof wat noodsaaklik is vir die sukses daarvan. Toe ek vanoggend weer die teksvers lees, het my hart in my ‘opgespring’ van blydskap. Hierdie woorde van Paulus dat die Heilige Gees vir ons kom bystaan in ons onvermoë om te bid en dan deur ons bid dat “God, wat (ons) harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir (ons) gelowiges,” bly vir my een van die uitstaande gedeeltes in die Woord!

 

Ons kan dus verseker wees, die Gees hoor dit nie net nie, Hy doen ook iets daaraan. Paulus skryf: “En God, wat die harte deurgrond ...,” Die Amplified Bible omskryf dit so: “The Spirit intercedes and pleads (before God) on behalf of the saints according to and in harmony with God’s will.” Deurgrond is meer as net hoor. Deurgrond beteken dat God kyk vanuit sy heerlike bedoeling met ons lewe, deur ons tot binne-in by ons werklike behoeftes. Hy gee nie altyd wat ons begeer, of so graag wil hê nie, maar wel wat ons benodig volgens sy wil. Hiervan kan ons nie passief kennis neem nie. Nee, ‘n duisendmaal nee. Ons moet dit uitroep: “Hoor Christen, hoor! Die Heilige Gees wil vir jou en my intree by God!”

 

Maar, Christen-wees is ‘n liefdesverhouding tussen God en ons. Waaraan meet God ons liefde? Onder andere aan ons gretigheid om met Hom alleen te wees. ‘n Liefdesverhouding kwyn egter as die paartjie versuim om afsprake met mekaar te maak en na te kom. As God dus vergeefs op my en jou wag omdat ons nie ons afspraak met Hom nakom nie, gaan dit vanselfsprekend ‘n nadelige uitwerking hê en gaan ons liefdesverhouding kwyn.

 

Gebed is dus nie ‘n formaliteit nie, maar ‘n liefdeshandeling tussen God en ons. Ons gelowiges in Christus, se gebed is ‘n gesprek met ons “Vader wat weet wat ons nodig het, nog voordat ons dit van Hom gevra het” (Matt. 6:8). Dit is nie nodig vir ‘n “stortvloed van woorde” nie. Wat wel nodig is, is dat ons bid. God soek mense wat Hom in Gees en in waarheid sal aanbid (Joh. 4:23) – in waarheid word God in egtheid aanbid en die Gees lei ons in hierdie waarheid. Daarom moet ek en jy luister na die leiding van die Heilige Gees en sy stem gehoorsaam in alle dinge. Hy sal van ons, iemand maak wat bid.

 

Menigte mense uiter egter hierdie versugting: “Maar dit help nie dat ek bid nie, God luister nie na my nie. Hy het nog nooit een van my gebede verhoor nie.” Iemand het gesê ons gebede gaan nie tot niet nie – hulle bly voortleef voor die aangesig van die Here. God shapes the world by prayers! Gebed is om God te prys en dit gaan nie oor die mens se selfverheffing en geestelike hoogmoed nie. Van die dae van Abraham af, kan gelowiges met ‘n loflied op die lippe uitjubel dat die Here ‘n Verhoorder van gebede is. Sy Woord bevestig dit: “Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God” (Ps. 17:6); Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor” (Jes. 65:24); “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra” (1 Joh. 5:14). 

 

Ons moet net geduldig wees. Gebede word soms anders vervul as wat ons in ons kortsigtigheid verwag. Dit word ook beantwoord in God se tyd. En God se tyd is nie horlosietyd nie, dit is ewigheidstyd! Die verskil is egter dat ons gelowiges, aanhou om te bid terwyl die onverskillige, besluit dit is nie die moeite werd om te bid nie. Gebed vra volkome vertroue op God. Sy vermoë om op die swakste gebed wonderlik te antwoord, is onbeperk.

 

Die Gees bemoedig ons ook “want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.” En omdat God my en jou deur en deur ken, weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid. En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir al die gelowiges bid. Maar dan moet ons Hom ten volle vertrou om sy werk in ons te doen en dat ons tyd maak om in God se teenwoordigheid te vertoef. Ek en jy het die wonderlike voorreg om in werklikheid die Heilige Gees binne-in ons te hê, wat sy taak van voorbidding vir ons doen, en dit volgens die wil van God. Is dit nie wonderlik nie?

 

“Niks is buite bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is” (Oswald Chambers).

 

Gebed: Here, ek het nie woorde nie. Heilige Gees, tree asseblief vir my in – leer my om U stem in my binneste te onderskei. En wanneer my gebede onvervuld terugkeer na my, sal dit my nie wegdryf van U af nie Here. Ek sal geduldig op U wag terwyl die Heilige Gees in my bid, nie net vir myself nie, maar vir al die gelowiges en volgens U wil. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page