top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • Jul 23
  • 4 min read

Woensdag, 23 Julie 2025

Koos Espach


Die heerlikheid wat kom (5)


Respek vir God se skepping

 

Rom. 8:22 – “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.”

 

Ons het Maandag met reg gemeld dat die skepping swaar dra aan die las wat die mens op hom plaas a.g.v. die uitbuiting en vernietiging van kosbare natuur-bronne. Dit is asof die mense nie werklik die erns van omgewingsbesoedeling en hulpbron-uitputting besef nie. In plaas van die heerlikheid wat God aan die aarde verleen het toe Hy dit goed en mooi gemaak het (Gen. 1:31), onthou menigte mense nie meer dat God juis die mens gemaak het om die aarde te bewerk en daaroor te heers nie.

 

Daar word deur ons Christene algemeen aanvaar dat God by die skepping vir die mens ’n besondere taak gegee het om die aarde te bewoon en te bewerk: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger … en hulle geseën en vir hulle gesê: ‘… bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde …” (Gen. 1:28). Ons is dus wesenlik deel van die skepping en verantwoordelik vir die natuur. Dit is duidelik dat ons hierdie taak moet verrig met verantwoordelikheid teenoor God wat die Skepper en Eienaar is van die aarde en alles daarop. Ons is dus geskep en aangestel as rentmeesters wat aan die Eienaar rekenskap moet gee oor sy bestuur van, en beheer oor die aarde en die diere.

 

In die oë van God was hierdie skepping baie goed toe Hy dit aan mense toevertrou het (vgl. Gen 1:31). Maar, ons mense het egter klaaglik misluk in ons opdrag. God se skepping bloei. As ons maar net rondom ons kyk sien ons ‘n stukkende aarde. Rookbesoedeling, uitwissing van die natuur, chemiese afval, spruite en riviere en selfs die see, is so besoedel deur chemikalieë, deur rou riool en afvalprodukte uit veral die plakkerskampe, dat daar in baie gevalle geen waterlewe meer is nie. Die verkwisting en rondstrooi van plastiek en ander sintetiese materiaal word spottender verwys na Suid-Afrika se nasionale blom. Aardverwarming en die destruktiewe gevolge daarvan is ook die mens se maaksel.

 

Paulus vertel vir ons in ons teksvers dat God se skepping sug. Vandat daar sonde in die wêreld is, maak mense God se skepping seer. Die skepping kla steen en been omdat dit so swaar kry. Hoe kan ons as mense – ons, die sogenaamde kroon van God se skepping – ons voor Hom verantwoord oor al die vernietiging en vermorsing wat ons aanrig op sy goed geskepte aarde? Watter soort rentmeesterskap oefen ons uit as dit kom by die verantwoordelike bestuur van dit wat Hy in liefde aan ons toevertrou het? Dit hunker na die dag wanneer God dit alles nuut sal maak.

 

Die goeie nuus is dat God wel luister, God hoor sy wêreld se sugte en klagtes. Hy hoor van die seer, Hy sien die seer van die vernietiging waaraan ons mense sy handewerk onderwerp. Op ‘n dag sal God ‘n einde hieraan bring, want Hy Hy is besig om ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde te maak waarin sy geregtigheid sal seëvier. Ons gaan almal uiteindelik in ‘n nuwe wêreld bly. Ons kan nou al daaroor sing: “Ek sien ‘n nuwe hemel kom ‘n aarde nuut en vry” (Lied 602:1).

 

Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ’n enkele vers in Openbaring 21:1 beskryf. Presies hoe dit gaan wees, weet ons nie. Dit vervang die ou hemel en aarde wat tot niet gaan. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is dat daar nie ’n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is. Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gebring het (vgl. Jes. 65:17-18).

 

Die tragiese en hartseer gevolge van die sondeval gaan finaal daarmee heen wees. En dit kan net God doen. God maak alles nuut. Om die waarheid te sê, in ’n sekere sin is dit eintlik in beginsel reeds afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1). Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou.

 

Omdat die skepping aan God behoort, moet ek en jy intussen, as rentmeesters dit met groot respek hanteer. Ons moet nie deel wees van die rommelstrooiers nie. Ons moet ons stem laat hoor as ander dit verwoes. God is genadig oor sy skepping. Hy beloof ‘n nuwe toekoms vir sy handewerk. God het hierdie wonderlike dinge geskep sodat ons as sy kinders dit kan geniet en bewonder, ‘n wêreld waarin ons elke dag met vreugde die mooi dinge wat Hy daargestel het, kan geniet. Ek en jy kan dus nie anders as om respek te toon weens alles rondom ons waarop God se handtekening verskyn nie. 

 

“Ons kan dalk die skepping van die wêreld uit niks uit vergelyk met ‘n towenaar wat ‘n haas uit ‘n leë hoed trek. Die verskil is net dat God nie ‘n hoed gehad het nie; nie eens ‘n haas nie” (RC Sproul).

 

Gebed: Here, ek kan nie anders as om U te dank en te loof vir die skoonheid van dit wat U ingebou het in die skepping nie. Die hemel getuig van U mag, die uitspansel maak die werk van U hande bekend (Ps. 19:2). Gee dat ons as rentmeesters, rekenskap van die aardse besittings wat U aan ons leen, sal neem. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page