top of page

Gedagte vir Vandag

  • 4 days ago
  • 4 min read

Vrydag, 10 April 2026

Koos Espach


Die nuwe lewe in Christus (2)

 

God se groot ontferming


Rom. 12:1 – “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers (en susters), op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” (2)

 

Vergelyk ook 2 Kor. 1:3-4 – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee. 4In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”

 

Wanneer Paulus hierdie beroep op ons Christene doen, weet hy presies waaroor “God se groot ontferming” gaan. Sy CV bevestig dat hyself ‘n Fariseër was, ‘n Jood wat Christene vervolg het totdat “God se groot ontferming” hom daar op die Damaskuspad gegryp het en hy daarna nooit weer dieselfde was nie. Net so het God Hom ontferm oor Israel wat soos ‘n “baba in die veld weggegooi is en in sy bloed sien spartel, hom gebad, olie ingesmeer, klere aangetrek en gesê: ‘Jy is Myne!’ (Eseg. 16). En net so ontferm God hom oor ons. Wanneer God se “groot ontferming” ons oorrompel, is dit onmoontlik om ooit weer dieselfde te wees!

 

God se ontferming is iets om mee rekening te hou – Hy het sy Seun as die vlekkelose Lam geoffer om vir die sonde van die mensdom te betaal. Nou vra Hy van ons om ons lewe as ‘n “lewende offer” op die altaar neer te lê. Ons besit as’t ware “God se groot ontferming”, daarom kan ons nie anders as om onsself, uit dankbaarheid, as “lewende offers” vir Hom te gee nie. Ons kan nie God se wens ignoreer nie, ons kan nie wag en eers later daaroor dink wanneer óns eendag reg is daarvoor nie. Nee! Ons moet God se beroep vandag ernstig opneem! Een ding is seker: God gaan nie ophou praat net omdat ons opgehou luister het nie. Al wat ons is en het, is “God se ontferming”, ons behoort aan Hom en Hy gaan aanhou sê: ‘Jy is Myne!’ Daarom moet ons reageer!

 

Ons is soms geneig om eers met God ‘n kompromie te wil aangaan. Baie mense glo en verstaan dat God Hom oor ons “ontferm” en daarom moet ons darem iets weer aan Hom teruggee. Dan volg dit so maklik: “Here, dankie vir alles maar U moet verstaan, ek is baie besig. Ek kry nie my draaie nie en gevolglik is dit moeilik om alles in my besige skedule in te pas. Kyk, ek kom darem so nou en dan kerk toe (1 uur op ‘n Sondag), ek gee maandeliks my offergawe (afhangende of my ‘budget’ dit toelaat), ek lees nou en dan Bybel en ek bid wanneer dit nodig is. U verstaan mos Here?” En God se antwoord: “Nee! Jý verstaan nie! Ek spandeer 24/7/365 tyd aan jou want ‘jy is Myne!’ Dít is hoe lief Ek jou het, dít is hoeveel Ek my oor jou ontferm!”

 

Die fout wat ons maak is dat dit nie gaan oor iets wat ons vir God moet doen nie. God het alles klaar vir ons gedoen! Kyk maar net na Jesus se kruis. Om aan God te behoort, beteken om onsself aan God te gee as ‘n “lewende offer”, net soos ons is, met al ons lewensprobleme, al ons slegte ervaringe, ons gespook om kop bo water te hou, ons geheime, ons sonde, ons oud word, ons sit en opstaan, ons werk toe en ons huistoe gaan, ons ekstreme nood, ons bekommernis oor ons geliefdes se veiligheid, ons álles, behoort aan God. En dan sê God wéér: “Jy het My nog nie gehoor nie, Ek ontferm My oor jou want ‘jy is Myne!”

 

En wanneer Paulus sê ons moet “heilige offers” wees, beteken dit nie dat ons een of ander spesiale godsdiens moet beoefen of ‘geestelike reuse’ moet wees nie. Nee, ons moet “lewende, heilige offers” wees wat God se glorie moet verkondig want ons Christene is anders, God en Jesus se Gees het ons verander om heilig te wees. En waar die Heilige Gees teenwoordig is, gebeur dinge. Hy sorg dat heiliges gehoorsaam is aan God, dat heiliges ‘n passie vir God het, dat heiliges nie in die hoofstroom van sonde saamswem nie, dat heiliges se gebede en dade “lewende offers” is vir God. Hy sorg dat heiliges hulle nuwe status by God wat Hom “ontferm” oor hulle, uitleef – “ander bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”

 

God roep ons tot ‘n lewe van heiligheid. Dit is ons roeping, ons opdrag, nie ons keuse of maar net ‘n wens wat God uitgespreek het nie. Ons is God se vaandeldraers en soos ons langsamerhand God se “ontferming” ervaar, vernuwe die Gees ons denke en wéét ons dat ons nie meer aan onsself behoort of vir onsself leef nie. Ons leef en behoort nou aan God. God het ons gevat net soos ons is, maar Hy los ons nooit netso vir die res van ons lewe nie. “Op grond van die groot ontferming van God, is ons Syne want Hy het gesê: ‘Jy is Myne!” Kom ons leef dan soos mense wat Syne is!

 

“Die maat van God se liefde en ontferming is groter as die omvang van die menslike begrip”

(Frederick Beuchner).

 

Gebed: Here, van U kom alles wat goed en volmaak is, en die grootste daarvan is U onbeskryflike liefde en ontferming waarmee U my toevou. Ek wil U loof en prys want Here, nêrens is daar nog ‘n liefde of ontferming wat só allesomvattend is nie. Here, bevry my van verganklike dinge en stel my in om U sagte, liefdevolle stem te hoor wanneer U sê: “Jy is Myne!” ... en só te leef! Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page